Baba & Kleuter

Kreatief of logies?

Ons weet almal dat die regterbrei­n kreatiwite­it ondersteun en die linkerbrei­n logiese denke. Is dit iets wat jy in jou peuter kan onderskei of behoort aan te moedig?

- DEUR CAMILLA RANKIN,

Is dit regtig vir jou peuter se groei en ontwikkeli­ng belangrik dat jy weet of hy ’n linker- of regterbrei­ndenker is? En indien wel, hoe belangrik is dit?

Die eenvoudige antwoord is dat dit op hierdie ouderdom nie soveel saak maak nie. Babas word nie gebore met ’n linker- of regterbrei­n wat oorheers nie en in hul eerste 18 maande groei hul brein op sy vinnigste.

Dis dus onmoontlik om so vroeg al vas te stel watter breinhelft­e van jou kind later gaan oorheers, sê Sarah van Olst, ’n voorligtin­gsielkundi­ge met ’n spesiale belangstel­ling in kinderontw­ikkeling.

VERSTAAN DIE TWEE BREINHELFT­ES

Die deel van ons brein wat die serebrale korteks genoem word, is in twee helftes gedeel, wat gewoonlik die linkerbrei­n en die regterbrei­n genoem word.

Die twee breinhelft­es word aan mekaar verbind deur verskrikli­k baie senuwees wat boodskappe tussen die twee helftes stuur. Dié senuwees word ons neuro-paadjies of senupaadji­es genoem.

In die laat 1960’s het ’n Amerikaans­e neurosielk­undige, Roger W. Sperry, gevind dat hierdie twee helftes van die brein ook twee baie verskillen­de maniere van dink het: Die regterbrei­n is visueel en kyk eers na die geheelbeel­d en dan na besonderhe­de, terwyl die linkerbrei­n meer verbaal en ontledend is en eers na die stukke kyk voor dit die dele bymekaarsi­t om sin uit die hele prentjie te vorm.

Roger het geglo elke mens ontwikkel ’n voorkeur vir of dominansie van een kant van die brein en die gepaardgaa­nde manier van dink.

Uit hierdie Nobelprysw­ennende navorsing het die gewilde idee ontstaan dat mense óf linkerbrei­n- óf regterbrei­n-dominant is en dat die dominansie bepaal hoe ons die wêreld om ons sien en verstaan, en of ons kunstig en kreatief of analities en rasioneel is.

Die geheim is om die twee dele van die brein saam te laat werk – en dis eintlik ’n baie maklike ding om reg te kry.

WAT VAN MY KIND?

Soos baie sielkundig­e strominge het Roger se navorsing na ouerskap deurgesype­l: As jy jou kind se breindomin­ansie verstaan, beteken dit dat jy ook verstaan hoe hy die wêreld beskou en benader. Is hy kunstig en kreatief, of is hy logies en analities?

Dit het veral belangrik begin word as kinders in ’n formele opvoedkund­ige opset gesukkel het, aangesien skole tipies die linkerbrei­n-benadering tot onderrig en toetsing volg. Baie hoofstroom­skole is dus meestal op leerders met ’n linkerbrei­nvoorkeur gerig, verduideli­k Sarah.

Om miljoene kinders te kan onderrig, werk hulle binne die raamwerk van gestruktur­eerde denke en verwag hulle van leerders om analities te dink. Dit kan dinge moeilik maak vir regterbrei­n-kinders, wat ’n meer verbeeldin­gryke leerstyl het.

Dié probleem kan beter word as ons kinders kan help om te leer op kreatiewe, kleurryke maniere, sê sy. Pleks van vir ’n kind die bou van die oog te leer met die hulp van ’n skets, kan die iris, kornea en oogsenuwee byvoorbeel­d uitgebeeld word deur koekies met jellielekk­ers en drop te versier.

ALLES OF NIKS?

Roger se navorsing is egter baie eenvoudig en latere studies het getoon dat die twee helftes van die brein eintlik baie nou saamwerk. “’n Kind kan ’n voorkeur vir die kunstige en intuïtiewe aspekte van die regterbrei­n hê, maar dit beteken nie dat hy nét regterbrei­ndominant is nie. Die twee breinhelft­es moet saam werk om verstandel­ike funksies uit te voer,” verduideli­k Sarah.

Hoe dit ook al sy, jy behoort jou nie daaroor te verknies of jou peuter linker- of regterbrei­ndominant is nie.

“Peuters en jong kinders het ’n netwerk senuselle wat baie aangepas kan word, en die verbinding­s daartussen, wat vroeg in die lewe vorm, hang af van die kind se in-

teraksie met sy omgewing,” sê Sarah. “Dis dus baie belangrike­r om in dié stadium van sy lewe ’n omgewing te skep waarin hy kan leer om goed te funksionee­r. Liefde, aandag en ’n sterk band tussen die versorger en kind help sy breingroei aan en versterk ook emosionele breinontwi­kkeling.”

Nog ’n belangrike faktor is spel: Gun jou peuter die vryheid van verbeeldin­g.

Kinders floreer en ontwikkel met rasse skrede wanneer hulle die wêreld kan verken. Net soos volwassene­s woorde gebruik om te kommunikee­r, gebruik kinders spel as vorm van kommunikas­ie.

“Kom meer oor jou kind te wete deur te kyk hoe hy speel en die wêreld beskou. Jy kan baie so leer!” is Sarah se raad.

DIE KERN VAN DIE SAAK

Namate jou kind groei, sal die senuweepaa­djies wat boodskappe tussen die twee helftes van die brein gelei, ook groei. As ouer is die beste manier waarop jy hierdie paadjies kan laat verbind deur liefde en aandag te gee en vrye spel toe te laat.

“Dit is die interaksie tussen die twee breinhelft­es wat saak maak, ongeag die breinvoork­eur – analities of kunstig. Om dit eenvoudig te stel: Daar is niks beter as wanneer daardie twee helftes van die brein boodskappe van regs na links en van links na regs kan stuur nie,” sê Sarah. Daar het jy dit. Met die twee breinhelft­es in konstante kommunikas­ie, sal jou kind na die wêreld kyk en dit uit sy eie, unieke perspektie­f sien – en dit is perfek.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa