E- pos uit die buiteland
Jessica Loots en haar gesin voel tuis in die besige Shenzhen, ’n Chinese stad wat net noord van Hongkong geleë is.
Ek en my man het mekaar in 2006 in Engeland ontmoet tydens ons studie-werkjaar. Ons het vir twee jaar teruggekeer na Suid-Afrika tot die gogga ons weer gebyt en ons avontuur hier in China begin het.
Dit was definitief ’n groot kultuurskok – daar was die taalverskil en veral die kos, wat vir ons die grootste aanpassing was. Dit was ’n goeie idee om eers kinderloos te bly tot ons aan die nuwe leefstyl gewoond kon raak.
In 2013 het ons vir Ava verwelkom. Ons het verkies om die bevalling in Suid-Afrika te laat gebeur omdat dit geweldig moeilik is om te verstaan wat die dokters hier verduidelik. Sy was net 21 dae oud toe ons weer teruggekeer het China toe.
Die lewe sonder babaweggooidoeke was ’n reuse-aanpassing! Dit is nie so maklik beskikbaar soos in Suid-Afrika nie. Babas in China kry van nege maande af al potjielesse en dra sulke snaakse oop broekies ...
Toe Ava op ses maande met vaste kos begin, was dit moeilik om botteltjiekos te vind. As jy dit kon kry, het jy tussen R70 en R100 per porsie by invoerwinkels opgedok. Dit het my baie vinnig geleer om lekker, gesonde, tuisgemaakte kossies te prakseer! Ek is dankbaar, want dit was vir my lekker om vir haar net die beste te kon gee.
Ava was een jaar en agt maande oud toe ons uitvind ons verwag vir Aiden. Daar was groot vreugde by ons Chinese vriende omdat ’n dogter en seun in die Chinese kultuur geluk beteken.
Ava se Chinese diereteken is ’n slang, wat wysheid en intuïsie simboliseer. Aiden is in die jaar van die apie gebore, wat “vol energie” beteken. Sy bevalling was ook in Suid-Afrika en hy het nes sy ousus op 21 dae oud China toe gevlieg.
Ons het ons waar moontlik hier in China geïntegreer sodat ons kinders ’n kultuur kan bou terwyl hulle grootword.
Ons braai gereeld in die groot parke waar braaigeriewe beskikbaar is, maak ons eie boerewors en biltong, en probeer vir die kinders soveel moontlik van Suid-Afrika leer. Albei kinders word Engels groot, maar ons probeer ook ’n bietjie Afrikaans praat en Ava verstaan dit. Die kinders begin ook nou Chinees verstaan en Ava vertaal oral waar ons gaan!
Hier is baie vir kinders te doen. Gesinne bring gewoonlik naweke saam op pretuitstappies deur. Daar is ook talle klasse in enigiets waaraan jy kan dink. Party van Ava se maatjies woon elke naweek tot agt lesse by, van wiskunde en dans tot Engels en Pinjin (Chinese skrif). Daar is taamlik baie druk op kinders om uit te blink sodat hulle vir die beste hoërskole en universiteite gekies kan word.
Skoolfondse in internasionale skole is buitensporig hoog en een jaar se kleuterskool kos hier meer as ’n hele BA-graad in Suid-Afrika. Ons is gelukkig albei onderwysers in ’n gesogte internasionale skool hier, en ons kinders kan dus gratis skoolgaan. Die privaat skole is regtig fantasties en het die beste geriewe. Kinders gaan van drie jaar oud af heeltyds skool en lees en skryf al teen die ouderdom van vyf. Daar word baie klem op wiskunde gelê en op die ouderdom van vyf sal enige kleuter vir jou kan somme maak wat in Suid-Afrika gewoonlik eers teen graad 3 ’n prioriteit is.
Dis besig in Shenzhen en die spitstyd-verkeer is ’n nagmerrie. Baie mense woon óf langs hul werk, óf hulle ry fiets. Altesaam 30 miljoen mense woon in Shenzhen, maar danksy al die gratis openbare parke en tuine voel dit nooit te beknop nie. Openbare vervoer sluit in moltreine, busse, Uber, taxi’s en selfs leenfietse. Ons betaal vir niks met kontant nie en gebruik WeChat en Alipay op ons fone om alle rekeninge te betaal.
Die lewe is maklik en die kinders lewe in ’n goeie omgewing sonder geweld of misdaad. Ons geniet die nabygeleë tropiese vakansiehouplekke soos Thailand en Bali om langnaweke of vakansies deur te bring.
Ons geniet dit om ouers te wees van regte derdekultuur-kinders wat grootword in ’n wêreld sonder grense.
Dis vir ons ook lekker om elke jaar Kersfees ’n maand lank in Suid-Afrika te kuier.
Dit is ewe lekker om die tyd te hê om in agt weke lange somers die wêreld vol te reis. Volgende jaar beplan ons om die kinders Finland toe te neem en die sprokie van Kersfees vir hulle te wys voor hulle te oud is.
Dis lekker om ouers te wees van regte derdekultuurkinders wat sonder grense grootword.