Baba & Kleuter

Metamorfos­e VAN MA WEES

-

Om ‘n ouer te wees is ongetwyfel­d die mees belonende rol wat jy ooit sal hê. Maar dis nie te sê dat alles maanskyn en rose gaan wees nie. Ons sukkel almal soms, want om ‘n ma te wees is ook baie harde werk en gaan gepaard met baie opoffering. Voor jy ‘n ma word weet jy dit, maar hoe dit alles voel is iets wat jy eers verstaan wanneer jy dit self ervaar. Die emosies is groter en meer kompleks as wat jy jou kan voorstel. Daar is soveel teenstrydi­ghede. Een onverwagte emosie wat ek self onthou, is ‘n gevoel van teleurstel­ling. Jy sien só uit na die klein engeltjie en alles is in plek en reg om hom of haar te ontvang. En dan is die geboorte dalk nie soos jy dit beplan het nie, en borsvoedin­g vlot dalk nie soos jy gedink het nie. Jou nuwe baba lyk dalk glad nie soos jy jou voorgestel het nie, en doen ook nie juis veel buiten slaap en poef nie. Jy word dalk ook onkant gevang deur jou lyf wat nie oornag weer lyk soos voor die swangerska­p nie. En so stadigaan besef jy dat jy van die fantasieë wat jy oor ouerskap gehad het, moet laat gaan.

Baba & Kleuter is hier om jou te laat verstaan dat dit alles normaal is. Wanneer jy eerlik met ander ma’s begin gesels vind jy gou uit dat ons almal hierdeur gaan. Moet jouself dus nie afsonder nie. Ons het almal meer in gemeen as wat ons verskille het. Hou moed en hou jou oë en hart oop vir daardie oomblikke van pure vreugde wat jy ook gaan ervaar. Haal gereeld diep asem en gun jouself tyd om aan te pas by jou nuwe lewe en jou ou lewe te laat gaan. Voor jy dit weet, begin jy gemakliker voel in jou vel en dan is dit weer jou beurt om ‘n nuwe ma te ondersteun deur haar metamorfos­e. Wat ‘n voorreg om deel van dié susterskap te wees.

Bly warm tot volgende maand

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa