Só val di­a­man­te uit die net­bal­sak­kie

Beeld - - Sport -

Ja­re reeds kla SA net­bal se ring­kop­pe dat hul geld­kof­fers een­vou­dig te leeg is om hul sport pro­fes­si­o­neel te maak. Dis ’n pro­bleem wat nie oor­nag gaan ver­dwyn nie.

Daar is eg­ter ’n ho­ër hek­kie wat Net­bal Suid-A­fri­ka eers sal moet oor­kom voor hul ge­brek aan fond­se ter spra­ke kom: die ad­mi­nis­tra­teurs se on­ver­moë om hul vlag­skip-toer­nooi pro­fes­si­o­neel te be­stuur.

Dit is ’n feit dat geen sport pro­fes­si­o­na­lis­me kan na­jaag son­der die no­di­ge sen­te in die spaar­var­kie nie – maar dit is ewe waar dat pro­fes­si­o­ne­le sta­tus net dié be­sko­re is wat pro­fes­si­o­neel dink.

Die na­si­o­na­le net­bal­kam­pi­oen­skap – ’n toer­nooi wat hon­der­de vrou­e­spe­lers jaar­liks die kans gee om hul lief­de vir dié sport uit te leef en die po­ten­si­aal het om dog­ter­tjies te in­spi­reer tot soort­ge­ly­ke hoog­tes – het die af­ge­lo­pe week in U­von­go plaas­ge­vind. Op ’n prag­ti­ge stuk aar­de, tus­sen gol­wen­de groen heu­wels en na­tuur­skoon in el­ke rig­ting.

Toe­skou­ers kon hul­le ver­kyk aan so­wel die net­bal as die na­tuur – maar daar was geen toe­skou­ers nie.

Nee, die pa­wil­joe­ne was nie leeg nie, dis om­dat daar nie pa­wil­joe­ne was nie. Daar was geen tel­bor­de langs die ba­ne nie, en daar was geen be­skut­ting teen win­de wat skyn­baar nooit op­hou waai nie.

Dit klink mooi en e­del om te sê jy gaan jou net­bal ver van die ste­de speel, om dit “na die men­se te neem”, maar dit be­te­ken da­dels as jy “die men­se” nie dan daar­op at­tent maak dat jou sir­kus in die dorp is nie. Nie in U­von­go, Mar­ga­te, Ramsgate of e­ni­ge om­lig­gen­de dorp was daar hier­die week ’n aan­wy­sings­bord of advertensie nie.

Dis ook nie reg om hier­die toer­nooi te ver­koop as ’n kans vir on­ge­slyp­te di­a­man­te as al­mal nie ge­ly­ke kan­se het om hier­heen te kom nie.

Spe­lers aan die ver­ste pun­te van die groot pro­vin­sies moet nou hon­der­de ki­lo­me­ters reis na pro­vin­si­a­le kam­pi­oen­skap­pe, proe­we en oe­fen­ses­sies. Hul­le moet uit hul eie sak­ke be­taal. Hoe­veel di­a­man­te val só uit die sak­kie?

Die kam­pi­oen­skap vind plaas net twee we­ke ná die Wê­reld­be­ker-toer­nooi, wat be­te­ken daar is net twee van die land se 12 Pro­tea-hel­din­ne teen­woor­dig. Dit word nou ge­hou weens Net­bal Suid-A­fri­ka se ob­ses­sie met Vrou­e­maand – maar dit be­te­ken nie net heel­wat Pro­te­as nie, maar ook van die ta­lent­vol­ste u­ni­ver­si­teit­spe­lers kon nie kom nie. Som­mi­ge u­ni­ver­si­tei­te wou nie hul spe­lers vry­stel nie om­dat hul­le voor­be­rei vir die Var­si­ty-net­bal­toer­nooi.

Jy weet ie­mand het die bal laat val as ’n stu­den­te-kom­pe­ti­sie nou voor­rang ge­niet bo die na­si­o­na­le kom­pe­ti­sie.

Die vier se­mi-fi­na­lis­te in die A-af­de­ling moet 12 wed­stry­de oor vyf dae speel, om­dat NSA te laat be­sef het daar gaan ’n on­ge­ly­ke ge­tal span­ne op­daag. In die B-af­de­ling, daar­en­teen, speel nie­mand meer as se­we wed­stry­de nie, want daar is ’n ge­ly­ke ge­tal span­ne wat in twee groe­pe ver­deel is.

Wan­neer pre­sies het die be­plan­ning vir hier­die kom­pe­ti­sie dan be­gin?

Die kam­pi­oen­span­ne sal wel van­dag ge­kroon word, op ske­du­le, en op grond daar­van sal Net­bal Suid-A­fri­ka sy kam­pi­oen­skap ’n suk­ses noem. Jong mei­sies met ster­re in hul oë het die af­ge­lo­pe week die kans ge­kry om die sport waar­voor hul­le lief is te be­oe­fen – en op grond daar­van sal NSA maak as­of nie­mand die kom­pe­ti­sie mag kri­ti­seer nie.

Daar is na­tuur­lik nie­mand so blind soos dié wat nie wil sien nie.

Net­bal Suid-A­fri­ka, trek op jou sok­kies. Die ta­lent is daar om te droom van groots­heid op die wê­reld­ver­hoog (een­dag) – maar dan mág jou ta­lent nie by jou vlag­skip-toer­nooi bloot­ge­stel word aan glad­de ba­ne in on­ge­verf­de ge­boue of on­ge­ly­ke bui­te­ba­ne met kort doel­pa­le, ga­te in die grond of stuk­ken­de net­te nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.