Daar is al­tyd gro­ter hart­seer as jou eie

Beeld - - Kommentaar - Pe­tro Han­sen

Ek sit my nog so en ver­won­der aan die seuns en mei­sies van Af­fies wat S­koon­lief en die on­dier in eg­te Bro­ad­way-styl in die S­taats­te­a­ter op­voer, toe my kind hier langs my my aan­dag trek. “Mam­ma, kyk hoe mooi is sy aan­ge­trek!” sê sy en wys na ’n mei­sie­tjie in die ry voor ons. My kind is reg: Met haar goud­geel prin­ses­rok, die hand­sak en skoe­ne lyk dit of sy uit ’n spro­kie kom.

S­pro­kies kan kin­ders ty­de­lik weg­voer van die har­de werk­lik­he­de van die le­we. Dit leer kin­ders droom, juis te mid­de van die we­te dat die le­we nie al­tyd ’n spro­kie is nie. Soos toe ek en die ein­ste El­sa-kind van my nou die dag in Bloem­fon­tein by die Vrou­e­mo­nu­ment aan die stand­beeld­voe­te van die dap­per vrou met die kap­pie op die kop staan. Dit was El­sa se eer­ste keer by die Vrou­e­mo­nu­ment, haar eer­ste ken­nis­ma­king met ’n stuk ge­skie­de­nis wat dees­dae maar diep be­gra­we lê.

My blik het op­ge­skuif na die kind wat slap oor die vrou se skoot hang, na die vrou se oë, wat so koud soos ’n Vry­staat­se win­ter na my te­rug­staar. Ek het ge­wens dat daar­die stuk ge­skie­de­nis sal weg­sterf, soos die bo­se mon­ster in ’n spro­kie wat met die toe­klap van ’n boek ver­skiet as­of dit nooit be­staan het nie.

Aan die voet­stuk van die ge­denk­naald is ’n brons­beeld van kamp­kin­ders, ’n mei­sie wat haar jon­ger sus­sie om­arm. El­sa het aan die klip­har­de brons­skou­er van die ou­er sus­sie ge­raak, as­of sy haar wou troos, as­of sy aan haar wou sê: Toe­maar, hier staan jou na­ge­slag so sterk soos die wind wat van­dag die rooi stof­wol­ke oor die Ro­se­stad aan­waai.

“Mam­ma, ek het nooit ooit ge­weet dat daar so baie vroue en kin­ders in die Boe­re­oor­log dood is nie,” sê El­sa toe ons te­rug­stap mo­tor toe en ek ver­tel haar van seer­kry. Ek ver­tel dat daar in die le­we al­tyd gro­ter hart­seer as jou eie sal wees.

As­of ek rê­rig sie­le­smart ken. Het ek al 10 km op ’n stof­paad­jie ge­loop om ’n kind te be­gra­we? Moes ek al twee dae se rant­soen se­we dae laat hou om my kin­ders kos te gee?

Die ap­plous in die S­taats­te­a­ter ruk my ge­dag­tes te­rug van die kamp­to­ne­le, weg van die maag­koor­s­kie­me en rye ten­te ag­ter do­ring­draad­hei­nings. Die hoof van Af­fie-mei­sies roep ’n kind ver­hoog toe – ver­ras­send ge­noeg die ein­ste kind in die goud­geel fe­ërok.

Van­aand is ’n baie spe­si­a­le aand, sê die hoof, want van­aand ver­we­sen­lik die Reik na ’n Droom-stig­ting die droom van ’n kind wat vir een aand soos ’n prin­ses wou voel.

Ten aan­skoue van die dui­sen­de in die ge­hoor word ’n prag­ti­ge sil­wer­blink kroon op dié erns­tig siek kind se kop ge­plaas en só word el­ke kind in hier­die land ge­kroon.

En op daar­die te­a­ter­stoel van rooi flu­weel be­sef ek dat ek nog lank nie soos in Lei­poldt se ge­dig, ter­wyl die Ju­nie-lug stort oor die stroom van die Vaal, met angs die tik tik tik tik tik tik tik van el­ke tyd moes tel nie.

My blik het op­ge­skuif na die kind wat slap oor die vrou se skoot hang . . .

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.