Talkpoeier lei g’n tot kanker, sê firma wat moet opdok
Die farmaseutiese maatskappy Johnson & Johnson hou vol sy talkpoeier veroorsaak nie kanker nie, hoewel hy miljoene dollar aan kankerlyers moet betaal.
Die maatskappy het eergister in ’n verklaring gesê 30 jaar se navorsing oor die hele wêreld heen bewys die veiligheid van talk in sy produkte.
Dit volg nadat ’n Amerikaanse hof Maandag beveel het dat Johnson & Johnson $55 miljoen (sowat R816 miljoen) aan ’n vrou moet betaal nadat sy aangevoer het dat die produk eierstokkanker by haar veroorsaak het.
In die lig van dié saak staar 1 200 soortgelyke eise die maatskappy in die gesig en beplan hy om te appelleer, het die BBC berig.
Gloria Ristesund (62) van Suid-Dakota het verskeie operasies ondergaan nadat kanker in 2011 by haar gediagnoseer is. Sy het gesê sy het dekades lank babapoeier en ander talkpoeier op haar geslagsdele gebruik, berig The Guardian.
Die hof het skadevergoeding van $5 miljoen en bestraffende skadevergoeding van $50 miljoen toegestaan.
In Februarie het ’n Amerikaanse hof ook beveel dat Johnson & Johnson $72 miljoen (sowat R1 067 miljoen) moet betaal aan die familie van ’n vrou wat oorlede is nadat eierstokkanker by haar gediagnoseer is.
Jacqueline Fox (62) van Alabama is verlede jaar oorlede voordat die verhoor begin het. Sy het glo 35 jaar lank babapoeier en Shower to Shower-talkpoeier gebruik voordat die kanker gediagnoseer is.
Talk is ’n sagte mineraal wat in die natuur asbes kan bevat, maar dit word sedert die 1970’s asbesvry in produkte gebruik.
Johnson & Johnson word daarvan beskuldig dat hy gebruikers nie gewaarsku het dat die gebruik van talk tot ’n hoër risiko van eierstokkanker kan lei nie.
Die maatskappy het Maandag in sy verklaring gesê sy babapoeier is meer as 100 jaar verkoop met volle vertroue in die veiligheid daarvan.
“Ons het bewerings oor die verbintenis tussen talk en eierstokkanker baie ernstig opgeneem toe dit reeds in die vroeë 1980’s ter sprake gekom het,” lui die verklaring. Gesondheidsowerhede en navorsers is toe genader om na die veiligheid van talkpoeier te kyk.
Daarby het twee “groot en wyd aanvaarde” studies in 2009 en 2014 glo geen verbintenis tussen talk en kanker gevind nie.