Kyk ’n slag óp – dit sal jou a­sem skoon weg­slaan

Beeld - - Nuus -

We­ke lank duur die krie­we­ling, as­of ek op iets wag. Iets son­der naam met ’n be­stem­ming in e­ni­ge wind­rig­ting. Ek haal die een boek ná die an­der van die rak af, maar geen teks hou die aan­dag nie; trek dan Ret­seh la Gran­ge se hai­koes na­der en die 17 let­ter­gre­pe van elk is kort ge­noeg om een op die swart­bord oor te skryf: “stil veld­wan­de­ling – / kroe­se­ri­ge se­kel­maan / kan­tel teen die rand” en dan wag ek ver­der op iets wat die a­sem moet weg­slaan.

Dit ge­beur nie op nood­wen­di­ge in­ko­pie­tog­te nie, be­hal­we dat ek kort­a­sem raak vir die mín wat so baie kos; dit ont­glip my in ge­sprek­ke oor die po­li­tiek, die ver­wag­ting bly wan­neer ek vroeg­aand reeds die deu­re teen die koue aand­lug sluit.

Die ge­lief­de daag een laat­mid­dag op met krat­te kag­gel­hout en wyn en eet­goed, en die aan­kon­di­ging dat ons don­ker­og­gend gaan op­staan vir die Eta A­qua­ri­die­se ster­re­re­ën. Dis don­ker­maan, ver­dui­de­lik hy, en die aar­de kruis tans die wen­tel­baan van Hal­ley se ko­meet en dié is die bron van die me­te­o­rie­te. Die vuur be­gin knet­ter en my maag maak ’n lek­ker draai in pu­re af­wag­ting.

Half­vier die og­gend is dit kóúd. En mis­tig. G’n ster wat oor die berg flon­ker nie. Ons sou som­mer so van die bal­kon af kyk na die ster­re­re­ën, het ons ge­dag, maar nou word dit ’n uit­tog: kom­ber­se en mus­se en ste­wels en fle­skof­fie. Vir die wis en die on­wis ’n bot­tel OBS.

Daar is maar net iets daar­aan om don­ker­og­gend in die pad te val: die teer­pad ’n don­ker lint, die hoop om ’n nag­dier raak te sien, die geen van T­rek­ker-voor­men­se wat as’t wa­re los­ge­skud word. “Is jy ook lus om som­mer net aan te hou ry?” grin­nik ons vir me­kaar.

Ons ry on­der­deur die mis­laag. Die De Kaap­val­lei, met sy ska­mel en ver­af lig­te, val voor ons oop. Ek be­duie na ’n skelm af­draai­pad en ter­wyl ons nog be­sig is om ons sit op die bak­kie te kry ver­hel­der die he­me­le toe ’n ster ver­skiet.

Ons het nie da­nig baie ge­sels nie ter­wyl ons óp­kyk. Mis­kien maar net die ge­wo­ne: “Ek het al ver­geet hoe mooi die Melk­weg is.” Of: “Om te dink van die ster­re waar­van ons die lig sien, be­staan nie eens meer nie.” En: “Ek voel klein.”

Vir wat sal ’n mens stil­te en wyd­heid en die be­swe­ring teen on­ge­du­rig­heid in boe­ke en ge­dig­te loop soek, het ek wel vlug­tig ge­dink.

Toe ek my oë ’n keer toe­maak, was dit as­of ek die aard­bol sien met sy wrie­me­len­de kroos on­rus­ti­ge sie­le ter­wyl die he­le heel­al se be­moei­e­nis skyn­baar met die ge­boor­te van he­mel­lig­ga­me is.

La­ter, met die eer­ste lig in die oos­te, het die ster­re­re­ën af­ge­neem. Ons het die kom­ber­se op­ge­vou na­dat die eer­ste mo­tors in die pad be­gin ver­by­swiep het, en steeds nie veel te sê ge­had nie.

Maar die dank­baar­heid vir daar­die stil og­gend dra ek saam, en dees­dae stap ek el­ke nag uit, bui­ten­toe, om óp te kyk so­dat my a­sem kan weg­slaan.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.