Kos­pry­se gaan aan­hou wurg

Kan ver­brui­kers­prys­in­fla­sie teen jaar­ein­de tot 8% op­druk

Beeld - - Sakenuus - Han­lie S­tad­ler

Kaap­stad. – Die nood van al­le ver­brui­kers, maar ver­ál van ar­mes, gaan nog baie er­ger word voor­dat die jaar ver­by is.

S­ta­tis­tie­ke Suid-A­fri­ka (SSA) het gis­ter be­kend ge­maak dat ’n mand­jie kos en nie­al­ko­ho­lie­se drank in A­pril 11% duur­der was as in A­pril 2015. Die 11% is ’n he­le 1,5 per­sen­ta­sie­punt méér as kos­prys­in­fla­sie in Maart, toe dit 9,5% was.

Tus­sen Maart en A­pril het jou kos­trol­lie 1,9% duur­der ge­word.

Ver­brui­kers wat ba­sie­se en ge­son­de kos koop, byt die groot­ste spit af. Groen­te was in A­pril 23% duur­der as ’n jaar ge­le­de, vrug­te 19,6%, vet­te en o­lies 19,5% en brood en graan­pro- duk­te 14,9%.

Van maand tot maand het groen­te en vrug­te die vin­nig­ste duur­der ge­word teen on­der­skei­de­lik 6% en 5,8%.

Vleis se jaar­in­fla­sie van 6,3% en maan­din­fla­sie van 0,3% is nog be­trek­lik be­sa­dig.

Bu­si­si­we Ra­de­be en Den­nis Dy­kes van Ned­bank se e­ko­no­mie­se een­heid re­ken dis om­dat boe­re in A­pril steeds hul kud­des uit­ge­dun het weens die droog­te en daar dus meer vleis op die mark ge­kom het.

“Soos wat voor­raad la­ter in die jaar min­der raak, sal vleis­pry­se waar­skyn­lik die­self­de sty­gings toon as dié wat in an­der land­bou-kos­pro­duk­te ge­sien is.”

Ke­vin Lings, hoof­e­ko­noom van S­tan­lib, ver­wag dat kos­prys­in­fla­sie teen die ein­de van die jaar selfs tot 14% sal styg. Die droog­te en swak wis­sel­koers is die be­lang­rik­ste re­des wat hy aan­voer.

Dit kan al­ge­me­ne ver­brui­kers­prys­in­fla­sie teen die ein­de van die jaar tot selfs 8% laat styg – baie meer as die mak­si­mum van 7,3% wat die Re­ser­we­bank in Maart voor­spel het.

Die Re­ser­we­bank sal Don­der­dag be­ne­wens die ren­te­koers- aan­kon­di­ging be­kend maak of sy ver­wag­ting vir inflasie en e­ko­no­mie­se groei aan­ge­pas word.

Kos se ge­wig in SSA se in­fla­sie­mand­jie is 14,2%. Die an­der groot in­vloed op inflasie is die pe­trol­prys. Maand tot maand het pe­trol­prys­in­fla­sie in A­pril 7,5% be­loop en Lings sê dit gaan in Mei en Ju­nie – wan­neer ’n ver­ho­ging van meer as 20c per li­ter ver­wag word – selfs ver­der styg. Dit kan saam met sty­gen­de kos­pry­se die in­fla­sie­koers oor die vol­gen­de paar maan­de op­druk.

Die sty­ging in die pe­trol­prys kan toe­ge­skryf word aan ’n kom­bi­na­sie van die swak rand, wat Woens­dag selfs tot R15,90 per dol­lar ge­val het, en die ho­ër o­lie­prys, wat baie na­by aan $50 per vat be­gin kom.

Die las van sty­gen­de kos­pry­se op die arm­ste deel van die be­vol­king word al hoe dui­de­li­ker, met die gro­ter wor­den­de ver­skil tus­sen die in­fla­sie­koers wat ar­mes er­vaar ver­ge­le­ke met dié wat ry­ker men­se er­vaar.

Dis is om­dat arm men­se ’n gro­ter per­sen­ta­sie van hul in­kom­ste aan ba­sie­se voed­sel moet be­stee. Die 20% men­se wat die min­ste ver­dien, er­vaar tans inflasie van 8,2%, ter­wyl die 20% ryk­ste men­se net 5,9% er­vaar.

Pen­si­oen­trek­kers se in­fla­sie­koers word tans op 6,2% ge­raam.

Daar is ook ’n groot ver­skil tus­sen die inflasie wat men­se op die plat­te­land (8%) en men­se in groot ste­de (6,1%) er­vaar.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.