En só word ek toe am­per ’n stoet­boer . . .

Beeld - - Kommentaar - Wil­helm Jor­daan

Kaap­stad is die Moe­der­stad; P­re­to­ria die Ja­ka­ran­da­stad en Jo­han­nes­burg is Goud­stad. En daar is Ro­se­stad: Bloem­fon­tein (“blom­me­fon­tein”) met sy skoon­he­de waar(tus­sen) ek groot­ge­word het.

Soos Ju­rie Ferreira dit ja­re ge­le­de al trek­ke­rig ge­sing het in sy weer­ga­we van Tom­my Roe­ring se “Bloem­fon­tein se ro­se”. En ook Jim Ree­ves in sy bas­ter­a­fri­kaans. Maar nos­tal­gie laat my dwaal . . .

Waar­na ek eint­lik mik, is dat Bloem­fon­tein ook ’n bie­lie van ’n Bul­stad is. Want dis nou al ja­re dat el­ke denk­ba­re bees, koei en bul (a­fri­ka­ner, bons­ma­ra, brah­maan, ngu­ni, ayrs­hi­re, sim­men­ta­ler, pin­z­gau­er, he­re­ford, fries en jer­sey en nog meer) jaar­liks daar ten­toon­ge­stel en op­ge­veil word. Nou pas weer so met die SA S­tam­boek E­li­te Bul­groei­toets­klas­kom­pe­ti­sie.

Dit was by so ’n vei­ling dat ek in 1964, as ’n ju­ni­or joer­na­lis by Volks­blad, so by­na my boe­ke­ry vir ’n stoe­te­ry moes ver­ruil: Ek is ge­reeld deur rus­te­lo­se nuus­re­dak­teurs aan­ge­sê (nie ge­vra nie!) om ’n “stoep­sto­rie” te gaan “kry”. Dis nou ’n sto­rie wat aan die on­der­kant van die voor­blad oor vier ko­lom­me “ge­rek” word en wat be­doel is om le­sers te ver­maak, of te laat na­dink oor die vreem­de wel of droe­wi­ge wee van die mens.

Sit toe af na die Bloem­fon­tein­se skou­ter­rein se Bulsaal waar ’n a­fri­ka­ner­bul­vei­ling aan die gang was. Dit was ook die plek waar swe­ten­de rof­stoei­ers soos Manie Ma­ritz, Ski-Hi Lee, Per­cy Hall en Wal­ter “Kil­ler” Ko­wal­ski me­kaar met hul gre­pe om­ge­rol, op­ge­rol en ge­knoop het. Bul teen bul.

Dit was op dié ein­ste skou­ter­rein dat my ou­pa, van die plaas Lof­dal op Hoe­koe na­by La­di­smith, tot ons ver­leent­heid die toe­skou­ers luid­keels ge­vra het “om die He­re te dank vir sy ge­na­de” dat die be­ken­de Zug­spitz Ar­tis­ten nie na be­ne­de tui­mel met hul draad­loop­toer­tjies nie. Jam­mer, al weer af­ge­dwaal.

By die Bulsaal ge­kom, is dit stamp­vol te­lers en boe­re. Die bul­le, met hul han­gen­de ta­len­te, word ge­wys en fyn be­skryf. En die af­sla­ers laat die ran­de in­rol soos die han­de op­gaan in die bie­ë­ry. Ek sit maar so en kyk wag vir die fo­to­graaf, Kas “Die Kuif” D­rey­er, om ’n bul­fo­to te kom neem. Hy sou wel, soos al­tyd, ’n mooi mei­sie kry om by ’n bul te pa­ra­deer. Die stoep­sto­rie sal ek self kry.

Daar kom hy en ek weet ek kan nie nou met my hand wuif nie. Steek toe maar my been met die rooi­bont sok­kies hoog die lug in op. My waai­en­de been word ’n bie­ën­de hand en die af­sla­er gaan nog ’n kerf op. Ek pro­beer keer, maar toe is ons al ver­by “vir die eer­ste maal” na “vir die twee­de maal”.

Ek raak be­angs, want daar gaan my boe­ke, my bank­ba­lans, my kar, my skra­le al­les wat ek be­sit. Net voor “vir die der­de maal” red ’n te­ler van sta­tuur my en neem be­sit van die die­ra­sie.

Nou, van­dag, sit ek hier en kyk na ’n uit­knip­sel van die stoep­sto­rie: “By­na sit ek met ’n bul in my ka­mer!” En ek weet op­nuut ’n joer­na­lis is oor ’n sto­rie soos die dui­wel oor ’n siel. En jy sal bie vir ’n bul van ’n sto­rie.

‘‘ My waai­en­de been word ’n bie­ën­de hand en die af­sla­er gaan nog ’n kerf op.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.