Wildtuingeld gesny
Provinsie verklein hul begrotings drasties
Rooi ligte flikker vir staatsbeheerde natuurreservate in KwaZulu-Natal nadat Ezemvelo KZN Wildlife se begroting met 25% gesny is. Die bedryfsbegroting is met 40% gesny.
Bewaringsorganisasies meen dit gaan pogings in die wiele ry om stropery in die provinsie te bekamp en ’n negatiewe uitwerking op toerisme hê.
Chris Galliers, voorsitter van die Veldwagtersvereniging van Suid-Afrika, het gister gesê die grootste deel van Ezemvelo se begroting is vir salarisse. Dit beteken daar is bitter min geld oor vir bedryfsverpligtinge.
Die drastiese verkleining van die begroting sal die instandhouding en bevordering van toerisme in provinsiale natuurreservate, asook die bestuur van biodiversiteit en wetenskaplike dienste, uiters nadelig raak.
Die beperkte begroting gaan die moreel van diegene in die “loopgrawe” (die veldwagters wat stropery moet bekamp) negatief raak omdat hulle dit vir hulle voortaan moeilik sal wees om hul werk te doen.
Francois Rodgers, DA-lid en -woordvoerder oor finansies in die provinsiale wetgewer, sê in ’n verklaring die begrotingsdebat wat verlede week gevoer is, hou slegte nuus in vir die provinsie se natuurreservate.
“KZN Ezemvelo kan binnekort verlam raak,” sê hy.
Volgens Rodgers is Ezemvelo se begroting vir die nuwe boekjaar R939 miljoen. Dit is R300 miljoen (25%) minder as verlede jaar. Die bedryfsbegroting word boonop met R442 miljoen gesny.
“’n Mens hoef nie ’n genie te wees om te weet hierdie begroting is nie volhoubaar nie. Ezemvelo gaan hom kort voor lank in ’n toestand van verlamming bevind.”
Ezemvelo het ’n kans gehad om ’n kommersialiseringsplan vir sommige van sy reservate aan die wetgewer voor te lê. Hy het dié kans egter verbeur.
Rodgers meen ’n plan vir die kommersialisering van sy gasvryheidsbedryf sal tot Ezemvelo se redding kom en boonop werk skep. Hy sê Sanparke het die kommersialisering van sy parke reeds met “groot welslae” deurgevoer.
Musa Mntambo, Ezemvelo se woordvoerder, was nie vir kommentaar beskikbaar nie, maar het vroeër aan Business Day gesê die agentskap is bekommerd oor die groot besnoeiing van die bedryfsbegroting. Die begroting sal wel beperkte bedrywighede kan finansier.
KZN Ezemvelo bestuur onder meer die Hluhluwe-Imfolozi-natuurreservaat – een van die oudste natuurreservate in Afrika – Giant’s Castle in die Drakensberg‚ die Tembe-olifantpark‚ die Umkhuze-natuurreservaat en die Ndumo-natuurreservaat in die noorde van KwaZulu-Natal, asook die iSimangaliso-vleilandpark, wat ’n Wêrelderfenisgebied is.