Die idee van God word uitgedaag
Die lokprent van hierdie fliek het my al emmersvol laat huil, so ek was voorbereid met hope snesies toe ek regskuif vir The Shack.
Die fliek is gegrond op die gelyknamige boek van William P. Young wat in 2006 gepubliseer is. Dit het in 2008 nommer een bereik op The New York Times se topverkoperfiksielys, maar die boek se gewildheid het met omstredenheid gepaardgegaan.
Dit is deur sommige kerkleiers gekritiseer vir sy uitbeelding van God, terwyl ander dit weer geprys het vir sy unieke benadering tot Christenskap.
Ek het die boek in 2010 gelees en was beïndruk deur die feit dat dit my anders laat dink het oor God die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
Die storie draai om Mack Phillips (Sam Worthington), ’n gesinsman en Christen. Op ’n kampuitstappie met sy drie kinders word sy jongste dogtertjie Missy (Amélie Eve) tragies deur ’n reeksmoordenaar ontvoer en vermoor. Haar bebloede klere word in ’n vervalle hut in ’n donker woud aangetref, al is haar liggaam steeds weg.
Mack verval in ’n diepe droefheid en blameer homself (en God) vir Missy se dood. Op ’n wintersdag kry Mack ’n getikte briefie in sy posbus wat hom nooi om die naweek na die einste hut te gaan en “Papa” – sy vrou, Nan (Radha Mitchell), se naam vir God – daar te ontmoet.
Mack besluit hy het niks om te verloor nie en leen ’n vriend se bakkie om by die hut uit te kom. Daar gekom, word hy gekonfronteer deur sy verlies en sy woede vir God. Hy storm uit die hut, Sam Worthington en Octavia Spencer is twee van die sterre van
maar loop dan ’n Midde-Oosterse man (Aviv Alush) raak, wat hom terugnooi na die hut.
Skielik verander alles en die volgende oomblik staan hy in die hut (wat nou pragtig huislik is) en ontmoet die hartlike Papa (Octavia Spencer). Sy stel die MiddeOosterse man as haar seun voor, en Mack ontmoet Sarayu (Sumire), ’n beeldskone Oosterse vrou, wat ’n fisieke uitbeelding van die Heilige Gees is.
Mack bring die naweek saam met die trio deur en spandeer tyd
saam met elkeen. Só werk hy deur sy woede en hartseer om aanvaarding en vergifnis te vind.
The Shack daag ’n mens uit met moeilike vrae soos hoekom ’n God wat ons liefhet, toelaat dat kinders vermoor word. Maar dit raak ’n mens diep en laat jou weer kyk na jou eie idee van God. (Om Hom as ’n swart moederfiguur te sien is veral treffend as jou idee van Hom ’n ou wit man met ’n weerligstraal in die hand is).
Die akteurs kwyt hulle uitstekend van hul taak en ek was veral beïndruk deur Worthington se uitbeelding van die gebroke Mack.
Die klankbaan is ook in die kol met musiek van onder andere Lady Antebellum, Hillsong United en Kelly Clarkson.
Gaan kyk The Shack as jy hou van flieks met diepte en ’n boodskap – onthou net die snesies.
■ Met o.a. Sam Worthington, Octavia Spencer, Tim McGraw en Alice Braga. Regie: Stuart Hazeldine. Tydsduur: 132 minute. Ouderdomsperk: 10OL.
The Shack.