’n Stilte wat jou diep laat nadink
Martin Scorsese het self erken dat hy oor dekades getwyfel en innerlik geveg het om uiteindelik tot die besluit te kom om die Japannese Katolieke romanskrywer Shusaku Endo se Silence (1966) te verfilm – dít nadat die Japannese regisseur Masahiro Shinoda hom reeds in 1971 voorgespring het.
Gedagtes oor ’n godsdienstige drieluik waarin die kompleksiteit en beproewings rondom geloof sentraal sou staan, het soos ’n goue draad oor jare begin ontluik, nieteenstaande Scorsese se loopbaankenmerkende diversiteit van temas in verskillende genres.
Twee titels rondom dié drieluik is aan ons bekend: The Last Temptation of Christ (1988) en Kundun (1997), waarin die periodieke vertwyfeling wat geloof kan meebring op ’n uitdruklike wyse die hooffokus is.
In eersgenoemde word ’n twyfelende Jesus uitgebeeld waarin liggaamlike verlangens neig om die oorhand te kry bo sy goddelike aard. Kundun handel oor die Dalai Lama. Geloof, en die uitwerking rondom die onderdrukking daarvan deur die Chinese se vervolging en menseregteskendings in Tibet, word in die konteks van ’n Boeddhistiese lewenswyse ervaar. Liam Neeson in
Endo se roman, die voedingsbron van Silence, word in breë trekke as tegelyk opbeurend en uitdagend beskou. Dit is ’n duidelike bekragtiging van die Heiland se onpeilbare genade en ’n deurtastende ontleding van alles waarby die Christendom homself oor eeue heen ingeskakel het.
Dit sluit onder meer die soms bykans arrogante uitoefening van sy eie gesag en mag (dink aan die Kruistogte) in, asook ’n geneigdheid om skade en leed te berokken in die naam van Hom wat juis die beliggaming is van onvoorwaardelike genade, liefde en medemenslikheid.
Die agtergrond waarteen Scorsese dié epiese rolprent laat afspeel, is lewensgetrou. Twee Portugese priesters, Sebastiao Rodrigues (Andrew Garfield) en Francisco Garupe (Adam Driver) is op soek na vader Cristóvao Ferreira (Liam Neeson) wat, volgens hul gefragmenteerde inligting, verdwyn het. Ferreira het ’n mitiese status verwerf en daar is selfs bewerings dat hy sy geloof in die openbaar afgesweer het. Dié verwarring word onder meer deur die regisseur as spanningselement aangewend.
Tog is Silence in sy diepste wese ’n spirituele reis waarin uiteenlopende aspekte rondom die Christelike leerstellings op ’n filosofiese vlak afgespieël word teenoor die Japannese wat hul Shinto-geloof aanhang. In dié tyd (omstreeks 1630) het hulle ook Christene vervolg deur die toepassing van ’n verskeidenheid marteltegnieke. Die meeste daarvan word uitgebeeld – soos die drie gekruisigde Christene wat ons met laagwater in die see sien hang, terwyl hulle later, met hoogwater, op geen manier verdrinking kan vryspring nie.
Wreedheid en ontberings word afgewissel met beskouende episodes waarin kamerabeelde wat op die natuur gerig is gewoonlik ’n oorheersende rol speel. Daar is geen teken van prekerige sentimente in Silence nie, maar dit is eerder, waar nodig, objektief en konfronterend.
Veral Rodrigues se gedagtes word duidelik in ’n oorgeklankte narratief vasgevang sodat hy fluisterend sy denke en gebede met kykers kan deel. By sulke oomblikke sluit Scorsese se werksmetodiek nogal sterk by die filosofiese gedagtegang van sy kollega Terrence Malick aan.
Die “stilte” van die titel kan meervlakkig geïnterpreteer word. Dit is nooit tot dogma reduseerbaar nie, maar is eintlik paradoksaal. Die ervaring van hoe die oorblywende groepie Japannese Christene deur die vreemdelingepolitiek van die oorgrote meerderheid van hul landgenote hanteer word, laat ’n mens dink dat godsdienstige xenofobie heers terwyl God bly swyg.
Garfield, Driver en veral kortstondig ook Neeson as Ferreira dra die verhaal van die Westerlinge.
Onder die Japannese akteurs is dit veral Issey Ogata se psigies uitgedaagde inkwisiteur wat haat laat gloei, terwyl Rodrigues as die “Christusfiguur” selfs met ’n Judas in die persoon van Kichijiro (Yosuke Kubozuka) te doene kry.
Silence is dié werktuig vir sinryke en diepe nabetragting.
■ Met onder andere Andrew Garfield, Adam Driver en Liam Neeson. Regie: Martin Scorsese. Tydsduur: 161 minute. Ouderdomperk: 16G.
Silence.