Moord­saak in Pa­rys: Borg­tog nie te­rug­ge­trek

Beeld - - Nuus - A­let van der Walt

Die borg­tog van be­skul­dig­de nr. 2 in die Pa­rys-moord­ver­hoor word nie te­rug­ge­trek nie en die ver­hoor kon gis­ter­mid­dag her­vat word.

Die staat het be­weer dié be­skul­dig­de, An­ton Log­gen­berg, het aan die staats­ge­tuie Ok­kie van Zyl ge­sê hy gaan al die “joi­ners” doodmaak wat teen hom en sy seun, Cor, ge­tuig.

Ko­bus Bur­ger, vir Log­gen­berg, het ge­sê dit is vreemd dat die be­we­rings teen Log­gen­berg ge­maak is kort na­dat Fa­nie Oost­hui­zen Maan­dag ’n ver­doe­men­de ver­kla­ring met erns­ti­ge be­we­rings van regs­ver­y­de­ling teen die Val­ke se on­der­soek­span aan die hof voor­ge­lees het.

Oost­hui­zen het uit sy eie ver­kla­ring voor­ge­lees hoe hy deur die Val­ke ge­dreig is voor­dat hy ’n art. 204-staats­ge­tuie ge­word het.

Kapt. Fran­cois Laux van die Val­ke het gis­ter­og­gend ge­sê die staat is be­kom­merd oor die vei­lig­heid van sy ge­tui­es en dit kan die ver­hoor be­na­deel.

Land­dros Jan Claas­sen het die staat se aan­soek dat Log­gen­berg se borg­tog te­rug­ge­trek word, ver­werp en ge­sê daar is geen be­wys dat Log­gen­berg so ’n drei­ge­ment ge­maak het nie.

Oost­hui­zen is toe ver­der deur adv. Hans de Bruin SC in die rond­gaan­de hof in Pa­rys ge­kruis­on­der­vra.

Oost­hui­zen het ge­sê die Val­ke het hom ge­dreig en ge­ïn­ti­mi­deer, maar dit is nie hoe­kom hy ’n art. 204-ge­tuie ge­word het nie.

Hy het eers we­ke la­ter, na­dat hy by die pro­ku­reur Jan El­lis was, ’n ver­kla­ring af­ge­lê.

El­lis en adv. Bar­ry Roux SC het saam­ge­werk om die mans wat nou vir die staat ge­tuig regs­ad­vies te gee.

Be­ne­wens Log­gen­berg (50) en Cor (20) word Boe­ta van der West­hui­zen (47), sy seun, Loe­die (19), en skoon­seun, Mie­la Jan­sen van Vuur­en (23), en kapt. Henk Prins­loo (47) van die moord op Sa­mu­el T­jixa en Simon Ju­be­ba aan­ge­kla.

Oost­hui­zen het gis­ter ge­tuig hy meen Boe­ta en Log­gen­berg moes hul seuns ge­keer het toe die twee oor­le­de­nes aan­ge­rand is.

De Bruin het aan Oost­hui­zen ge­sê van die be­se­rings wat hy nou be­weer aan die oor­le­de­nes toe­ge­dien is, kon nie deur ’n pa­to­loog be­ves­tig word nie.

Oost­hui­zen het ge­ant­woord hy is nie ’n dok­ter nie en kan net sê wat hy ge­sien het.

Hy het in kruis­ver­hoor ge­sê die mans sou nie na hom ge­luis­ter het as hy hul­le sou vra om die aan­ran­ding te staak nie. Hul­le is boe­re en hy is “net ’n plaas­voor­man en ’n by­wo­ner”.

Fo­to: A­LET VAN DER WALT

Kapt. Fran­cois Laux het gis­ter­og­gend ge­tuig in die staat se aan­soek om An­ton Log­gen­berg se borg­tog te­rug te t­rek.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.