O.21’s wil nou verbeter op 2013 se vyfde
Die meeste van die SuidAfrikaanse o.21-netbalspelers oefen al lank saam. Was dit nie vir terugslae die afgelope jaar nie, sou hulle beslis ’n groot faktor wees in die Wêreldjeugtoernooi.
Die vierjaarlikse toernooi vir o.21’s begin môre in Gaborone, Botswana.
Dit is die eerste wêreldtoernooi wat die Internasionale Netbalfederasie (INF) in Afrika aanbied.
Twintig spanne sal tot 16 Julie in aksie wees.
Die jong Proteas gaan poog om te verbeter op die vyfde plek wat hulle in 2013 in Glasgow, Skotland, behaal het.
Nieu-Seeland, Australië, Jamaika en Engeland het toe voor hulle geëindig.
Die senior Proteas is tans ook vyfde op die wêreldranglys.
Nicole Taljaard, Bianca Blom, Sigi Burger, Lefébre Rademan en Chantelle Swart moes hulle onttrek nadat hulle almal knieligamente geskeur het.
Veral die langeraat-doel Burger se besering in Januarie was ’n groot terugslag vir Suid-Afrika.
Sy was verlede jaar ’n uitblinker vir al die spanne vir wie sy gespeel het.
Die Suid-Afrikaners is in die sterk Groep B geloot. Hulle sal Barbados, Zimbabwe, Singapoer en Australië die stryd aansê. Hul eerste kragmeting môre is met Barbados.
Dorette Badenhorst, die SA afrigter, glo haar span is beter voorbereid as vir enige vorige o.21-toernooi.
Sy het Dinsdag in Pretoria gesê die meerderheid o.21’s het aan die nasionale Premierliga deelgeneem en vir agt weke hoë-intensiteit netbal gespeel.
Badenhorst het gesê Barbados kan ’n taai teenstander wees en Singapoer het verbeter want hy het nou ’n sportskool.
Die Aussies wag Woensdag in die laaste groepwedstryd.
Simone Rabie by Dinsdag se laaste oefening in Pretoria.