Die Jock het vlym­skerp tan­de

Beeld - - Lifestyle - Ry­ers trot­seer die Long Tom­pas in die laas­te skof van die Jock Clas­sic.

Teen die tyd dat hier­die ar­ti­kel ver­skyn, hou ek my lyf pad­fiets­ry­er en is ek be­sig om met die sweet van my aan­ge­sig die Jock Clas­sic in Nel­spruit te ry. (Ja, ek weet ek het voor­heen ge­sê die Jock is se­ker die heel moei­lik­ste een­dag­pad­ren in die land en ty­dens hier­die ren het ek laas meer pyn ver­duur as met al­bei my kin­ders se ge­boor­tes te­sa­me, maar wie is dié keer bang?)

My vrien­din Bon­ny S­wa­ne­poel is so dap­per dat sy dit som­mer met haar berg­fiets saam met my gaan aan­pak en sy het my hart en mond be­lo­we dat ons ver­se­ker nie heel laas­te sal kom nie. En as ons heel laas­te kom, vat ons dit in al ons glo­rie.

Daar is ’n paar re­des waar­om fiets­ry­ers land­wyd el­ke jaar die Jock Clas­sic gaan ry: Bui­ten die Ca­pe To­wn Cy­cle Tour, is die Jock die oud­ste be­staan­de ren in die land en dit vind werk­lik in een van die mooi­ste de­le van M­pu­ma­lan­ga plaas.

Die ren skop in Nel­spruit af en die eer­ste skof ein­dig ná 42 km in Wit­ri­vier waar al die ry­ers af­klim en ’n paar ver­ver­sings ge­niet. Daar­na be­gin die twee­de skof oor die ge­niep­si­ge S­pits­kop Sa­bie toe waar dit 45 km la­ter ein­dig. Ry­ers kan hier mid­dag­e­te ge­niet, maar die ge­heim is om jou nie trom­mel­dik te eet nie, want jy moet nog 63 km af­lê te­rug huis toe. En dis juis daar­die laas­te stuk oor die Long Tom-pas wat ’n mens na diep en don­ker plek­kies in jou in­ner­li­ke bin­ne­ste toe vat en waar jy oor die die­per din­ge soos “wat de hel maak ek hier?” be­gin won­der.

Ver­al as jy daai wind­jie van voor kry en nie ry­ers om jou het wat dit so ’n bie­tjie kan keer nie. Dis ge­woon­lik ty­dens die laas­te skof waar jy jou­self be­gin ver­beel jou saal is ’n hond met vlym­skerp tand­jies wat aan jou bin­ne­boud­vlei­sies be­gin knib­bel.

Maar die Jock is ook een van die e­nig­ste pad­ren­ne waar jy die be­ken­de Long Tom-pas kan ry en dit op sig­self is ’n voor­reg.

Die ren is al­te­sa­me 154 km ver met ’n to­ta­le ver­ti­ka­le klim van 2 900 m. Ver­le­de jaar was die wen­tyd van Mark S­pen­cer 4:28:19 en die vrou­e­wen­ner, Hei­di Dal­ton, se wen­tyd was 4:48:56, maar ek sal in my nop­pies wees as ons dit on­der ses uur kan ry.

Die e­nig­ste soort­ge­ly­ke toer aan die Jock was die jaar­lik­se K­re­me­tart-pad­fiets­ren wat in Lou­is T­ri­chardt plaas­ge­vind het, maar hier­die by­een­koms het soos mis voor die son van die ka­len­der ver­dwyn en ek weet van baie fiets­ry­ers wat bit­ter hart­seer hier­oor is. Blyk­baar het PPC as die hoof­borg ont­trek en dit het die ren se voort­be­staan ge­kel­der. Men­se praat nou nog oor die K­re­me­tart se pot­jie­kos­by­een­koms wat el­ke jaar ná die tyd op die dor­pie plaas­ge­vind het.

Vir pad­fiets­ry­ers is daar ’n paar an­der pres­ti­ge-by­een­koms­te waar­by jy jou naam wíl skryf, en bui­ten die Jock is daar ook die Jock Tour op 15 tot 17 Sep­tem­ber van­jaar, en die Pa­no­ra­ma-toer wat vol­gen­de jaar van 28 A­pril tot 1 Mei op die Pa­no­ra­ma-roe­te in M­pu­ma­lan­ga plaas­vind.

In die Kaap is daar die Tour of Good Ho­pe wat van 5 tot 9 Maart plaas­vind. Hier­die by­een­koms­te is vir ge­sou­te pad­fiets­ry­ers be­doel.

Ge­luk­kig is daar in die tus­sen­tyd an­der pad­fiets­by­een­koms­te waar­voor ’n ie­der en ’n elk kan oe­fen en in­skryf, soos die Cy­cle for Can­sa by Sun Ci­ty op Son­dag 20 Au­gus­tus en die Tshwa­ne-ren op 5 No­vem­ber.

En ver­geet nie van die 947 Cy­cle C­hal­len­ge wat van­jaar op 18 No­vem­ber in Jo­han­nes­burg plaas­vind nie. Dit is die een ren in die land wat elk­een wat ’n fiets be­sit, eint­lik be­hoort te ry, want dit is reg­tig so­veel pret. Selfs al kry jou fiets­saal nes my­ne ná 60 km tand­jies.

Fo­to: JETLINE ACTION PHOTOGRAPHY

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.