Wan­neer die na­tuur jou sus in Pel­grims­rus

Beeld - - Kommentaar -

Laat­mid­dag ry die son en die maan wip­plank. Die son het oor die Ho­ë­veld­se ran­te in die rooi van sy eie gloed be­gin weg­sak en aan die an­der kant van die val­lei, oor die heu­wel, kom ’n vol­maan soos ’n blink wit bal oor die den­ne­plan­ta­sie op. Ek moet kies: Wil ek kyk hoe die son on­der­gaan of oor die rant stap om te sien hoe die maan op­kom? Die maan wen. Teen die han­ge van die krans land twee flad­de­ren­de bruin­sy­lang­ster­tjies op ’n ly­sie. Dit laat my dink aan die twee ge­wo­ne bos­bont­rok­kies wat vroeg­og­gend voor my ka­mer­ven­ster op die ryp­nat gras kom sit het. Vroeg­og­gend toe die mis oor die Ho­ë­veld se vlak­tes aan­rol om in die voue van die kloof te kom leg­kaart-lê. Die man­ne­tjie-bos­bont­rok­kie was al ag­ter die wy­fie­tjie aan. In die na­tuur pas die vo­ël­maats me­kaar mos mooi op.

Die maan het sy kop net-net oor die rant be­gin stoot toe ek die ge­raas hoor. Ver af in die val­lei ver­jaag ’n kwaai kraai ’n vis­a­rend van sy nes af. Fo­reldam­me blink koel in die aand­lug, geen te­ken van speel­se fo­rel­le wat die wa­ter se glad­de op­per­vlak breek nie. In die aand­ske­me­ring is die den­ne­bo­me op die rant nie meer stom­pe op pad na Bos­bou se slag­pa­le nie, maar toe­skou­ers wat saam met my na ’n vol­maan­op­koms staar.

“Mam­ma,” sê my seun die vol­gen­de og­gend aan my, “Mam­ma moet my in die den­ne­woud af­neem voor ons hier weg­ry.”

Ek help hom nie reg nie. Ek sê nie aan hom dis eint­lik ’n plan­ta­sie nie. Ek ver­staan wat hy be­doel. Die kind aard na sy ma. Hy ver­kies dit ook om die men­se­han­de mis te kyk wat die den­ne­bo­me daar ge­plant het.

Hy weet ook sy lyf is in ’n plan­ta­sie, maar sy hart be­leef ’n woud. Hy kan soos ek sit­tend teen die stam van ’n den­ne­boom af­skuif en in ’n bos­nimf ver­an­der, soos ek een word met die stil­te en sag­te ge­lui­de van die in­sek­te op die woud­vloer. Hy let ook op hoe die den­ne­naald­mat in ’n ta­pis­se­rie ver­an­der soos spat­sels son deur die top­pe van die boom­top­pe beur.

Ons is in Pel­grims­rus. Hier word van­dag steeds goud ge­myn. Die ou myn­dorp spog met ou­tyd­se snuis­te­ry­win­kel­tjies. Sink­ge­boue met rooi dak­kies staan nes van­me­lee in M­pu­ma­lan­ga se son en bak. Daar word soos van ouds in dorp­skroeë ge­drink. Maar dis nie net die goud­storm­loop se ge­skie­de­nis wat my mee­voer nie. Dis die wy­se waar­op berg­stroom­pies in na­tuur­li­ke berg­poe­le in­kab­bel, waar­op ge­hoor­sa­me bie­sies met die wind kan buig en ’n wil­de­vy sy wor­tels oor die ri­vier­bed­ding die wa­ter in stoot.

Die vol­maan het nie ’n mond nie, maar daar­die aand het ek hom hoor praat. Dis toe die vol­maan sy staan wyds­been oor ’n land­skap van na­tuur­li­ke wa­ter­val­le kry dat ek sy stem dui­de­lik hoor: Soms moet jy iets wat vir jou mooi is (’n a­sem­ro­wen­de sons­on­der­gang) laat vaar om iets nog be­ters te ont­vang.

Dit te ont­vang nes die aar­de die maan se sil­wer stra­le ont­vang: son­der voor­be­houd.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.