My ag­ter­werf is nie vir an­der se oë be­doel

Beeld - - Kommentaar - An­ne­ma­rie van der Walt

Dit voel as­of ’n mens ie­mand on­kant be­trap wan­neer jy om die een of an­der re­de by ’n ag­ter­deur moet aan­klop; deur die ag­ter­werf waad en pro­beer om die on­der­kle­re op die was­goed­lyn mis te kyk.

Dalk is dit slegs my eie heb­be­lik­heid, en pla dit die mees­te men­se glad nie. Per­soon­lik wil ek net nie hê men­se moet sien hoe boer ek daar nie, al kan ’n mens dit se­ker so dig­ter­lik laat pro­beer klink soos Chris Bar­nard in sy sto­rie oor Gert-se-goed: Kyk, hier is die ge­roes­te raam van die wip­mat wat ook nou al hoe lank deur die jon­ger ge­slag in die fa­mi­lie be­ër­we is; ’n ge­breek­te fas­sie­plank, da­rem net­jies ge­sta­pel, na­dat dit hoe­veel maan­de ge­le­de deur ’n woes­te wind af­ge­waai is; twee leë 20-li­ter-verf­drom­me, al­tyd bruik­baar; ’n ken­nis­ge­wing­bord (“Blue S­wal­low Sanc­tu­a­ry”) wat met ’n voor­brand in die slag ge­bly het; twee la­teie as ’n ban­kie ge­prak­seer (een hout­voet weg­ge­vrot); vyf ge­roes­te blik­ke waar­in die kruie nie wou vat so on­der die ska­du nie; ’n hout­blok waar­op kag­gel­hout ge­kap word, en die weg­ry­hou­ers vir plas­tiek, kar­ton en pa­pier, blik­ke, en glas. Wel, eint­lik is daar twee vir glas.

Dis nie dat ’n mens met op­set die spul­le uit die oë van ver­by­gan­gers en kui­er­gas­te hou nie. Maar waar an­ders sal ek verf loop meng om die voor­kant van die huis op te knap, kom­pleet soos wan­neer ’n mens jou dorp­ge­sig op­sit die dag as jy eint­lik net jou kop on­der ’n kus­sing wil in­druk? Waar­heen an­ders gaan ek met ’n af­kop­gie­ter wat my ie­der ge­val bloot her­in­ner hoe my woor­de soms ’n on­be­heers­te sterk stroom is wat weg­kal­we p­leks van sag­kens nat­lei? Of die tal­le leë plant­bak­ke, hoe lank reeds on­ge­bruik en ge­tui­es van al die plan­ne en dro­me wat ek in die ou­nag be­dink maar wat sel­de tot was­dom kom.

Hier hoor nie­mand as ek ’n mo­no­loog voer met die re­ën­spin­ne­kop­pe nie; die e­nig­ste plek waar ek ooit ’n ar­gu­ment wen.

Dis ook aan hier­die kant van die huis dat die dog­ters as tie­ners in- en uit­ge­slip het, al kon ek die hoe of waar nooit heel­te­mal be­paal nie, nie eens die een aand toe ek moes in waar ek my­self uit­ge­sluit het nie; die huis op­eens ja­loers en stug met die rug­kant na my ge­draai.

Nou hark ek die bla­re by­me­kaar, trek die klein lu­kwart­boom­pies uit – die moe­der­boom gee kos vir die ape en die ver­loop­te bob­be­jaan wan­neer veld­kos skaars is – en snoei die wil­de ran­ker te­rug tot teen die mos­be­groei­de muur. Daar word reg­ge­pak, ho­pies ge­maak vir weg­kar­wei.

Teen ske­mer kweel die jan­fre­de­rik in die a­vo­ka­do­boom, en ek dink aan D.J. Op­per­man se “Edms. Bpk.”. Maar toe ek die vaag ont­hou­de ge­dig gaan na­lees, is ek ont­huts: “Bak­ka­pel [ . . .] te­ken op sand­kol­le waar hy kom / oral in ou­der­wet­se skrif: ‘Al­les . . . al­les my ei­en­dom.’ ”

Ek gaan sit in die don­ker op die ag­ter­trap, ver­beel my ’n rit­se­ling tus­sen die bos­le­lies. ’n Mens moet jou werf el­ke dag skoon­maak, weet ek op­nuut.

‘‘ Hier hoor nie­mand as ek ’n mo­no­loog voer met die re­ën­spin­ne­kop­pe nie . . .

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.