Poskantoor hoor dalk binnekort oor Sassahulp
Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) behoort teen die einde van aanstaande week te weet of hy Sassa met die uitbetaling van toelae sal kan help.
Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, het gister op’ n mediakonferensie in Pretoria gesê die bod evaluerings komitee sal Sapo se verslag Woensdag beoordeel.
Mark Barnes, uitvoerende hoof van Sapo, het in April vanjaar gesê samesprekings met Sassa om die toelae uit te betaal vorder goed.
News24 berig dat verskeie LP’s in die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) verlede week sy kommer uitgespreek het oor ’n klaarblyklik “moedswillige poging” om Sapo se rol in die uitbetalings van die toelae te beperk.
Uiteindelik sal Sassa self die uitbetalings wil behartig.
Dlamini het gesê om die uitbetalings binnenshuis te kan doen is ’n “enorme taak”.
Dit sal dié agentskap tot vyf jaar neem om die nodige prosesse geleidelik in te faseer om ’n naatlose oordrag te verseker.
Sassa het daarom in die tussentyd met Sapo ooreengekom dat hy die uitbetalings van die toelae ná Maart 2018 sal hanteer.
Die konstitusionele hof het in 2014 bevind dat die kontrak wat die regering met Cash Paymaster Services (CPS) vir die uitbetaling van maatskaplike toelaes gesluit het onwettig en ongeldig is.
Dit het vroeër vanjaar byna tot ’n chaos met die uitbetaling van toelae aanleiding gegee.
In Mei, ná ’n uitgerekte geding, het die konstitusionele hof Sassa en CPS beveel om voort te gaan met die uitbetaling totdat ’n nuwe entiteit aangestel is om dit te doen.
Sassa voer samesprekings met die nasionale tesourie om die skakel na Bankserv te hervestig sodat twee miljoen begunstigdes se toelae met dié metode betaal kan word.
Skoor sou Donderdag en gister Sassa en die Poskantoor se onderskeie hoofkantore besoek, maar die besoek is vertraag.
Sassa moes teen die einde van die werkdag gister sy volgende verslag by die konstitusionele hof in Johannesburg inlewer.
Kenny K unene gis ter buit e die hoo ggeregshof in Johanne sburg.