Matriek 2014
Die viering was groot vir elke matrikulant wat geslaag het. Maar ten spyte hiervan, is daar steeds groot kommer oor die gehalte van die land se onderwysstelsel.
Dit was ’n donker jaar vir 2014 se matrieks en alles dui daarop dat die klas van 2015 harder sal moet werk om sukses te behaal. Die slaagvereiste vir individuele vakke kan moontlik vanjaar hoër wees en daar sal geen genade wees vir leerders wat afkyk nie.
Prof. Kobus Maree, ’n onderwyskundige van die Universiteit van Pretoria, sê die nuwe Caps-kurrikulum, wat groter eise aan verlede jaar se gr. 12’s gestel het, kan vir die dalende slaagsyfer geblameer word, maar daar skuil“berge vol ander faktore” daaragter.
In 2013 het die nasionale slaagsyfer op 78,2% gestaan – verlede jaar het dit tot 75,8% gedaal. Veral die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal se matrieks het kwaai agteruitgeboer, maar selfs in die Wes-Kaap is daar rede tot kommer.
“Ja, ons kon beter gedoen het, maar die klas van 2014 het goed gedoen ten spyte van al die kurrikulumveranderings wat oor hul pad gekom het,”sê Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys.“Dit bly steeds die begin van ’n nuwe era vir die matrieks wat geslaag het. Hulle het seker gemaak die 12 jaar wat hulle in onderwys belê het, is nie gemors nie.”
Die realiteit is egter dat nét 680 000 van die sowat twee miljoen leerders wat 12 jaar gelede in gr. 1 was, die 2014-eindeksamen afgelê het.“En dit is gedeeltelik die onderwysstelsel self wat ons kinders pootjie,”sê Maree.
“Amper 1,4 miljoen kinders het eenvoudig uit die stelsel verdwyn – en dan sit ons ook met ’n situasie waar skole leerders van een graad na die volgende bevorder weens druk om uiteindelik beter matriekuitslae op te lewer.”
Die slaagsyfer vir wiskunde is maar 30%, maar net 53,5% van alle matrieks met dié vak het dit geslaag. Altesame 61,5% het fisiese wetenskap deurgekom, terwyl 77,9% besigheidstudies en 68% rekeningkunde geslaag het. In 2013 het 30,6% met universiteitsvrystelling geslaag, maar vanjaar kon net 28,3% dit regkry.
Jonathan Snyman, ’n navorser by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, sê dit is ook duidelik dat die meeste matrieks steeds alle vakke op ’n baie lae vlak (van tussen 30% en 40%) slaag en bloot deur die stelsel gedruk word. Hy sê as 50% as slaagvereiste vir byvoorbeeld wiskunde en fisiese wetenskappe gestel word, soos wat universiteite vereis, sal tot 80% van matrikulante nie een van die vakke deurkom nie.
“Die eindeksamen is maar een stuk van ’n groter legkaart van ons stelsel,”sê Paul Colditz, die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame (Fedsas).“Hoekom fokus ons nie op faktore soos hoeveel leerlinge die stelsel voor gr. 12 verlaat het en hoe goed of sleg voorheen benadeelde skole gevaar het nie?”
die VROT APPELS
Volgens Colditz moet die onderwysbase ook oopkaarte speel en erken dat KwaZulu-Natal die nasionale slaagsyfer vanjaar skeefgetrek het.“Slegs 69,7% van die matrieks in KwaZulu-Natal het deurgekom. Dis skokkend. Een van die dae sit hulle ook met ’n stigma van disfunksionele skole, soos reeds in die Oos-Kaap en Limpopo die geval is. Die Oos-Kaap se slaagsyfer is met 65,4% die vrotste in die land, terwyl Limpopo vanjaar beter gedoen het met 72,9%.”
Verder het drie skole in Limpopo en nóg drie in die Oos-Kaap nie ’n enkele
matriek opgelewer wat die eindeksamen geslaag het nie. Een van die druipelinge by Kwelerane Sekondêr in King Williams Town het aan die Times- koerant gesê:“Ek het so gehuil nadat ons die nuus gekry het. Ek het regtig nie verwag om so baie vakke te druip nie. Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, maar ek sê vir myself dis nie die einde van die wêreld nie.”
Intussen is die uitslae van 5 000 matrieks in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap teruggehou nadat dit aan die lig gekom het dat hulle glo in groepe tydens die eksamen by mekaar afgekyk het. Die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys, Umalusi, is tans besig met ’n ondersoek, en sê skuldige leerders sal eers weer in 2018 toegelaat word om matriek oor te skryf.
“Ons gaan ook toesighouers straf wat vermoedelik die leerders gehelp het,” sê Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement van basiese onderwys.“Strafregtelike aanklagte is ook ’n moontlikheid, want daar is beslis ’n element van bedrog teenwoordig. Van hulle sal ook nooit weer hul voete by skole mag sit nie.”
Maree sê:“As ons ernstig daaroor is om die land se standaarde te verbeter, moet ons onder begin om ywer en toewyding in ons skoolstelsel te blaas. Die regering moet elke kind se reg tot basiese onderwys beskerm, en hy kan dit nie regkry as daar soveel disfunksionele skole is nie.”
SPOGPRESTASIES
Hy sê wel daar is heelwat uitblinkers wat as ligpunte ná ’n donker jaar in die onderwys beskou behoort te word.“Dis belangrik dat ons ten spyte van al die negatiwiteit steeds onthou om hande te klap vir die gr. 12’s én hul onderwysers wat regtig hard gewerk het om goed te doen. Ons moet ook erkenning gee aan die ouers en families wat uit die liefde van hul harte ons kinders ondersteun.”
Verskeie skole en leerders het landwyd die koppe met hul prestasies laat draai. Dit sluit die volgende skole en leerders in: Scottsdene Sekondêr in Kraaifontein, buite Kaapstad, is in 2011 as ’n onderpresterende skool beskou ná ’n matriekslaagsyfer van net 46,2%. Die afgelope drie jaar het dié syfer al meer verbeter tot 90% verlede jaar.“Ons sukses het nie in ons skoot geval nie,”sê die skoolhoof, Karel Cupido.
Onder die uitblinkers tel Nicheala Isaacs (18), wat pas geboorte geskenk het, asook Masolino Willemse (18) wie se peetbroer verlede jaar doodgesteek is.
Spine Road Sekondêr het die eerste skool in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte geword wat ooit ’n 100%-slaagsyfer kon behaal. Die skoolhoof, Rhiyaad Najaar, sê sy onderwysers verdien alle lof.
“Ons kinders en onderwysers het elke Saterdag van die jaar opgeoffer vir ekstra klasse – en die onnies is nie ’n sent meer betaal nie.”
Robin Bosman (18), wat by Swartberg Sekondêr op Caledon in die Overberg in gr. 12 was, is een van 18 leerders wat deur Motshekga self vereer is. Sy gaan volgende jaar molekulêre biologie en biotegnologie by die Universiteit van Stellenbosch swot.
“Die universiteit se kampe in wiskunde en wetenskap vir matrieks het baie gehelp,”sê sy.“Ek kan eerlikwaar sê dat ek baie hard gewerk het.”
Eersterust Sekondêr in Pretoria spog met ’n 91%-slaagsyfer. ’n Gemeenskapswerker, Valeri Willemse, sê dit was ’n traumatiese jaar vir dié se skool se leerders.“Drie van die leerders is in 2014 oorlede – van wie een met ’n mes doodgesteek is. Maar ons kinders het alles ingesit en die skool se naam hoog gehou.”
Een van die Noord-Kaap se toptienmatrieks, Johan Fourie, is twee dae nadat hy sy laaste vraestel geskryf het, in ’n botsing dood. Dié ster van die Hoërskool Duineveld in Kimberley se suster, Lindie Pretorius, sê:“Hy was ’n pragtige voorbeeld en ons is verskriklik trots op hom. Dis vir ons ’n troos om sonder twyfel te weet dat hy nou by die Here is.”
Ten spyte van al die onderwysuitdagings in die Oos-Kaap, spog 38 skole in dié provinsie met ’n 100%-slaagsyfer. Dit sluit in Kirkwoord Sekondêr, wat ’n uur buite Port Elizabeth geleë is, sowel as Pearson Sekondêr in die Baai.
Een van KwaZulu-Natal én Suid-Afrika se top-uitblinkers is Senzo Xaba (18), wat in Mtshakela Sekondêr in Zoeloeland in die skool was.“Ek wil nie oordryf nie, maar 2014 was regtig ’n moeilike jaar vir my. Maar ek het deurgedruk en sien daarna uit om binnekort vir die eerste keer die mooie Kaap te sien,” vertel hy. Senzo se hoërskool word as een van die armstes in die land beskryf. Hy is deur ’n voog grootgemaak ná sy ma se afsterwe.
Gauteng het met 84,7% die hoogste slaagsyfer in die land opgelewer. Sigourney Lishman (17) van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria het danksy ’n gemiddeld van 95% ook nege onderskeidings behaal. Haar skool het boonop vir die 29ste agtereenvolgende jaar ’n 100%-matriekslaagsyfer behaal.