Kuier

FINALE rusplek

Daniella de Wee (inlas) se ma kon haar uiteindeli­k ná ses jaar begrawe nadat sy op pad skool toe verdrink het. Al is die seer nog daar, kan hulle uiteindeli­k berusting kry.

- DEUR Ernusta van wyngaard

Sy was doodstil. Sy het haar kop uit die water gelig, na my gekyk en toe gaan sy. Tizar Bani

Hierdie tyd van die jaar wanneer suksesvoll­e matrikulan­te hul prestasies vier, is dit soos ’n dolk deur die hart van Maria Bani (43) van die plaas Dennegeur in De Doorns in die Wes-Kaap.

Dit voel elke November vir haar asof hierdie dolk ál dieper gedruk word, want al wil sy, kan sy haarself nie keer om te onthou en te wonder nie:“Wat as my Daniella nog hier was? . . .”

Dit is in hierdie tye wanneer so baie matrieks en hul familie daarna uitsien om die volgende hoofstuk van hul lewe te begin, dat Maria opnuut die hartseer, pyn en verdriet van 12 November 2008 herleef toe haar 17-jarige matriekdog­ter, Daniella de Wee, deur vloedwater meegesleur is en verdrink het.

Daniella, toe ’n leerder aan die Hexrivier Sekondêre Skool, was op pad skool toe om haar Afrikaanse vraestel te gaan skryf toe die tragedie tref.

Haar stiefpa, Tizar (52), het saam met haar geloop toe dit gebeur. Hy het Daniella probeer red, maar die stroom was te sterk en sy het uit sy hande geglip.

Al was Maria nie by toe dit gebeur het nie, is die toneel van haar“spontane kind wat altyd geglimlag het”en deur die vloedwater weggevat is, verewig in haar geheue vasgebrand.

Sy weet Daniella, wat nie kon swem nie, het nie ’n kans gestaan teen die krag van die water nie. Maria sal nooit kan wegkom van die gedagte van haar dogter wat al hoe verder en verder meegesleur word en uiteindeli­k deur die donker, vuil water ingesluk word nie.

“Iemand anders sou geraas het en om hulp geskreeu het, maar nie Daniella nie. Sy was doodstil. Sy het haar kop uit die water gelig, na my gekyk en toe gaan sy,” begin Tizar sag vertel. Dis duidelik dat ook hy nooit hierdie dag sal kan vergeet of die magteloosh­eid wat hy gevoel het toe die water haar vat nie.

’n WATERGRAF

En Daniella sou vir vyf jaar onder die water begrawe bly, want soektogte na haar lyk het destyds niks opgelewer nie. Daar was eers op 17 September 2013 ’n deurbraak toe werkers wat by ’n dam op ’n plaas in die dorp gewerk het, op beendere afgekom het. Die dam is ’n goeie ent (sowat 5 km) weg van die plek waar Daniella meegesleur is.

Daar was ook ’n skoolunifo­rm, kunsgebit, ’n hangertjie en ring saam met die beendere gevind en daar is vermoed dit is Daniella, maar DNS-toetse moes eers gedoen word om dit te bevestig.

Om haar ambisieuse dogter so sonder waarskuwin­g te verloor, was alreeds tragies, maar Maria kon nie die afsluiting kry waarna sy gesmag het nie, want dit het so lank gevat voor Daniella se lyk gekry is. En toe dit wel gebeur, moes sy weer wag vir die uitslae van die DNS-toetse.

En toe kry Maria in November 2014 uiteindeli­k die bevestigin­g. Die DNS-toetse het gewys die beendere is wel Daniella s’n. Uiteindeli­k kon hierdie ma, ná ses jaar, haar kind op 6 Desember 2014 begrawe. Daniella kon nou ’n rusplek bo die water kry.

Maria en Tizar vertel hul storie moedig, maar dit is wanneer die herinnerin­ge weer opkom van die oomblik toe Maria die nuus van Daniella se verdrinkin­g gekry het en die jare daarna, dat sy haar kop sak en haar woorde wegraak.

“Toe Daniella se niggie, wat ook

Van vorige bladsy

in matriek was en by Daniella en Tizar was toe dit gebeur het, vir my kom sê my kind het verdrink, was my vraag net:‘Hoekom dan sy?’ Toe ek by die rivier kom, het ek net geroep, ‘Daniella, Daniella!’Tizar was nêrens te vinde nie en ek het gedink ek het my man en my kind op een slag verloor,” kry Maria sukkelend uit.

Sy bly is eers stil en sit haar bewende hande oor haar oë voor sy verder gaan.

“Toe hulle Daniella (se beendere) kry, was haar voet in ’n hakiesdraa­d vasgestren­gel. Dit is hoekom sy nooit uit die dam gekom of iewers anders uitgespoel het nie. Sy was twee meter onder die modder vasgevang,”sê Maria deur die trane.

Oor hoe sy dinge sedertdien hanteer, antwoord Maria:“Soms het ek goeie dae en dan is daar ander dae wanneer ek terugsit en die verlange na Daniella my oorweldig. Matriektye (afskeide en eksamens) dink ek baie aan haar. Maar ek is net bly ek kon haar darem begrawe. Nou het ek ’n graf waarop ek kan gaan blomme sit en waarna ek kan gaan wanneer sy verjaar of as ek net ’n bietjie wil gesels.”

Maar as sy net die manier hoe Daniella weg is, kon vergeet . . .

die TRAGIESE DAG

Die dag wat Daniella verdrink het, het dit gestorm.

Sy het ’n rivier op Dennegeur probeer oorsteek saam met Tizar en haar niggie Natelea Jasson, wat ook moes gaan eksamen skryf, om by haar skool in die dorp uit te kom.

Met Kuier se besoek was daar nie water in die rivier nie. Swaar reën wat daardie tyd in die Breërivier-vallei geval het, het veroorsaak dat die rivier, wat naby Maria- hulle se plaashuis verbyloop, afkom. Die pad wat hulle gewoonlik deurloop, was oorstroom. Om die rivier oor te steek, was die enigste manier hoe Daniella destyds by die skool sou kon uitkom. Sy sou daarna die sowat 5 km dorp toe stap – selfs al sou sy papnat wees teen die tyd dat sy by die skool aankom.

Die webtuiste www.breede-river.org beskryf die vloede van November 2008, die maand waarin Daniella verdrink het, as die“ergste die afgelope dekade”in die Breërivier-vallei. Luidens www.iol.co.za was die vloedskade toe op sowat R1 biljoen beraam.

Daniella was die dag van haar verdrinkin­g vasbeslote om haar Afrikaanse vraestel om 12:00 die middag te gaan skryf, want sy wou matriek slaag. Maria vertel sy was ook reeds by Northlink-kollege aanvaar om die volgende jaar biotegnolo­gie te gaan studeer sodat haar reis na ’n beter lewe vir haarself kon begin.

Maar Daniella se drome vir die toekoms is daardie dag kortgeknip.

Tizar het saam met Daniella en Natelea geloop om hulle oor ’n pyp te help wat oor die rivier geloop het. Hulle het die pyp gebruik om die rivier oor te steek en het aan ’n draad vasgehou wat bo-oor die pyp geloop het om hul balans te hou.

“Al kon Daniella nie swem nie, was sy nooit bang vir water nie,”voeg Maria by.

Tizar onthou Daniella het voor hom geloop, hy in die middel en Natelea het laaste geloop, maar omgedraai omdat sy te bang geraak het vir die stygende water.

In daardie stadium, sê Tizar, was die water nog onder die pyp, maar die krag waarmee dit gevloei het, het hom duiselig gemaak en hy het eerste in die water geval. Terwyl hy nog gespartel het om uit die water te kom, het Daniella ’n paar minute daarna ook in geval.“Die water was baie sterk en het ons altwee meegesleur. Ek het by Daniella probeer uitkom, maar dit was nie maklik nie. Toe ek uiteindeli­k by haar kom, het ek haar op my bors gesit, maar toe dol (tuimel) die water ons om,”vertel Tizar.

Hy sê voorts hy het uiteindeli­k vastrapple­k op ’n klip gekry en aan ’n bos vasgehou. Dit het hom in staat gestel om Daniella se hand vas te gryp, maar nie vir lank nie toe gly haar hand uit syne.

“Die water was sterk en het my toe al te moeg gemaak. Ek voel ek kon haar gered het as ek nie so moeg was nie.

“En toe gaan Daniella. Toe ek uit die water kom, het ek langs die (rivier)wal gehardloop om te kyk of sy nie dalk aan ’n bos vashou nie, maar sy was weg,”sê Tizar sag terwyl Maria weer haar hande oor haar oë sit.

Maria was by die huis toe dit gebeur en sê vroeër daardie dag het sy met haar twee jonger dogters die rivier oor dieselfde pyp oorgesteek om hulle skool toe te neem. Die water was toe nog nie so hoog nie.

“Tizar het daardie aand eers halfses by die huis gekom van die kliniek af. Ek het nie geweet waar hy was nie en hy weet nie eens hoe hy by die kliniek gekom het nie. Ons het nie woorde vir mekaar gehad nie.

“Daardie hele aand het alles voor my afgespeel asof ek daar was toe Daniella verdrink het. Dít en die feit dat sy nie kon swem nie. Dalk sou sy uit die water kon kom as sy kon swem,”sê Maria.

Tizar het gevrees Maria sou hom blameer vir wat gebeur het, maar sy het nie. Sy het geweet hy het gedoen wat hy kon om Daniella te red.

SOEKTOG na daniella

Die soektog na Daniella het die volgende dag begin, maar“omdat sy nie kon swem nie, het ek geweet sy is weg”, voeg Maria by. Die rivier waarin Daniella meegesleur is, vloei in die dam waar haar beendere uiteindeli­k gevind is.

Dit voel vir Maria soos nou die dag dat die soekspan haar genooi het om saam met hulle en Daniella se biologiese pa met ’n bootjie na haar te gaan soek.

Maria hou haar kop vas wanneer sy sê: “Hulle wou hê ek moes moederinst­inkte gebruik en kyk of ek kon‘voel’waar sy lê.

Maar dit was te swaar vir my. Ek kon dit nie doen nie.”

Maria sê sy het al die jare ’n gevoel gehad Daniella lê in daardie einste dam.

Die dag in 2013 toe Daniella se beendere gevind is, was dit reeds in die lykshuis toe Maria daar aankom. Maria het die skoolklere, kunsgebit, hangertjie en ring uitgeken en met haar begrafnis het Maria haar beendere, hangertjie en kunsgebit in die kis geplaas.

Maria, wat ná Daniella se dood vir meer as ’n jaar berading ontvang het, sê sy was tot voor Daniella se begrafnis emosioneel nog sterk.

Sy bly vir ’n oomblik stil en vee die trane weg wanneer sy sê:“Maar daardie Saterdag van haar begrafnis toe ek langs haar kis sit, het die werklikhei­d ingesink dat ek my kind ná ses jaar begrawe.

“Sedert 12 November 2008, is dit elke jaar ’n hartseer dag en ek kan nie die hartseer vergeet nie. Dit kom elke keer terug. In dieselfde jaar wat ek Daniella verloor het, het my ma ook gesterf. So, 2008 was ’n hartseer jaar vir my.”

uiteindeli­k BERUSTING

Deur die hartseer kry Maria dit ook reg om te glimlag wanneer sy dink aan watter plesier Daniella haar verskaf het.

Maria beskryf Daniella as ’n“spontane kind wat altyd gedoen het wat jy vra”en wie se skoolwerk altyd eerste gekom het.

Sy onthou ook hoe opgeruimd en“vol smiles”Daniella die oggend van haar dood was. Hulle het nog na ’n gospel-CD geluister.

Ook Tizar het goeie herinnerin­ge van Daniella. Hy het haar van vierjarige ouderdom grootgemaa­k en sê, vir hulle twee het die“stief”-deel van hul verhouding nie bestaan nie.

“Op die dag wat sy verdrink het, het ek nog vir haar gesê ek weet is net haar stiefpa, maar sy voel soos my eie kind. Sy sê toe vir my, nee, sy ís my kind. Ons was na aan mekaar,”sê Tizar met verlange.

Maria glimlag breed wanneer sy sê selfs in haar dood maak Daniella haar ’n trotse ma. Hexrivier Sekondêre Skool het verlede jaar die Daniella de Wee-toekenning vir Afrikaans vir die eerste keer as akademiese prys bekendgest­el.

“Die skool het die Afrikaanse toekenning na haar vernoem omdat sy op pad was om dié vak te skryf toe sy verdrink het. Die skool wil hê die kinders wat agterbly, moet moed skep in Daniella se storie en in haar ywer (wat sy vir haar skoolwerk gehad het). Sy kon nie swem nie, maar sy was vasbeslote om te gaan eksamen skryf. Vandag is ek ’n trotse ma vir wat my kind vermag het,”sê Maria.

Ja, die seer van haar kind se dood sal nooit verdwyn nie, maar Maria is net bly sy kon uiteindeli­k die afsluiting kry waarna sy gesoek het. En op die dae wanneer haar verlange na Daniella te erg raak, het sy darem nog haar herinnerin­ge en die wete dat haar dogter se laaste rusplek naby hulle is en nie meer onder water nie.

 ??  ?? Maria en Tizar staar uit na die dam waar Daniella se beendere ses jaar
ná haar verdrinkin­g gevind is.
Maria en Tizar staar uit na die dam waar Daniella se beendere ses jaar ná haar verdrinkin­g gevind is.
 ??  ?? HOOFFOTO: Maria Bani en haar man Tizar by die graf van hul dogter, Daniella de Wee (17), wie in 2008 verdrink het toe sy op pad skool toe was.
HOOFFOTO: Maria Bani en haar man Tizar by die graf van hul dogter, Daniella de Wee (17), wie in 2008 verdrink het toe sy op pad skool toe was.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa