Gesonde tande en tandvleis help vir jou algemene welstand
Moenie net na jou tande omsien sodat hulle tot op jou oudag hou nie – dis ook belangrik vir jou algemene gesondheid.
Tandsiektes veroorsaak slegte asem, ja. Maar dit lei ongelukkig ook tot veel erger toestande. Mondgesondheid word direk verbind met verskeie siektetoestande, waaronder diabetes, beroertes, longsiektes, hartsiekte, vetsug asook vroeë sterftes by bejaardes.
En ongesonde tande begin in baie gevalle by ongesonde tandvleis. Wanneer plaak en tandsteen tussen ons tande nie behoorlik verwyder word nie, swel die tandvleis op en begin bloei, ’n toestand wat as tandvleisontsteking bekend staan. As dit onbehandel bly, trek die tandvleis weg van die tande en inflammasie ontwikkel onder die tandvleis-lyn. Sonder behoorlike sorg word die been, tandvleis en bindweefsel wat die tande ondersteun, aangetas en tandverlies kan voorkom. Die bakterieë wat weens tandvleissiekte groei, kan ook in ons bloedstroom beland en ons risiko vir ander ernstige siektes verhoog.
Prof. Robin Seymour, verbonde aan die skool vir tandheelkundige dienste aan die Universiteit van Newcastle in Brittanje, sê navorsing toon daar is ’n verband tussen mense wat siektes van die tandvleis het en swak bloedtoevoer in die liggaam.
“As mense by my kom met ’n tandvleissiekte, laat ek hulle onmiddellik toets vir diabetes. In 70% van gevalle het hulle dié siekte of hulle is op die punt om dit te kry.
Seymour glo swak mondgesondheid kan ’n mens se kanse om ander siektes te ontwikkel met soveel as 20% verhoog.
Wanneer jy jou tande laat skoonmaak, behoort die mondhigiënis jou in te lig oor hoe jou tande lyk, vergeleke met die vorige keer. ’n Spesiale lig behoort ook in die mond en keel geskyn te word om te kyk of daar selle is wat kankeragtig kan raak. Dit is ongelukkig ’n prosedure wat meestal oor die hoof gesien word.
’n Periodontis, dr. Howard Gluckman, sê:“Tandvleissiekte is nie seer nie en die meeste mense besef nie daar is ’n probleem voor dit te laat is nie. Die aggressiewer soort tandvleissiektes word gewoonlik by jonger mense aangetref en die meer chroniese soort by ouer mense.”
Volgens Gluckman borsel die meeste van ons minstens twee keer per dag ons tande en – as ons nie te moeg is nie – flos ons en gebruik ’n mondspoelmiddel, maar dit is egter nie goed genoeg nie. ’n Jaarlikse tandartsbesoek bly noodsaaklik omdat tot 40% van mense oor die wêreld heen aan ’n soort tandvleissiekte ly.
WAT IS DIe siekte?
Daar is ’n rits faktore betrokke, waaronder genetiese vatbaarheid, spesifieke bakterieë in die tandvleis, die omgewing, rook, diabetes ens., sê Gluckman. Daar is ook ’n sterk verband tussen stres, vetsug en tandvleissiekte. Kyk uit vir dié gevaartekens:
Bloeiende tandvleis: Dit bly ’n baie belangrike simptoom en gevaarteken, hoewel dit by rokers verbloem kan word namate tandvleisontsteking herstel. •
Los tande: Die been is gedeeltelik vernietig en die tande kan in hul holte beweeg. •
Tandvleis-resessie: Wanneer gedeeltes van die wortels ontbloot word as gevolg van onderliggende beenverlies. Dit kan ook deur aggressiewe borselwerk en ortodontiese behandeling veroorsaak word. •
Slegte asem: Die graad van slegte asem verskil by elke persoon en lyers is dikwels nie daarvan bewus nie. Borsel jou tande gereeld en flos, flos en flos. Volgens Gluckman is flos baie belangrik, maar nie juis baie gewild nie omdat dit redelike handvaardigheid vereis. Tandvleissiekte begin meestal tussen die tande wat nie so gereeld skoongemaak word nie.
Wees ook daarvan bewus dat dit nie nét swak mondhigiëne of baie uie en knoffel is wat jou asem kan laat stink nie. ’n Droë mond is die ideale broeiplek vir bakterieë. Dis waarom dehidrasie, rook, hardlywigheid en alkoholmisbruik bydra tot die probleem. Mense wat op ’n dieet is (veral ’n hoëproteïen-dieet) sukkel ook dikwels met ’n slegte asem.
Intussen sê navorsers aan die Universiteit van Kalifornië, mense wat hul tande en tandvleis gereeld skoonmaak, het dalk ’n
kleiner risiko om demensie te ontwikkel. Hulle het sowat 5500 bejaardes oor ’n tydperk van 18 jaar gemonitor en gevind diegene wat minder as een keer per dag hul tande borsel, was 65% meer geneig om demensie te ontwikkel. Inflammasie word betrek by ’n hele klomp gesondheidstoestande, insluitend hartsiektes, beroertes en diabetes.
Maar Amber Watts, wat demensie aan die Universiteit van Kansas bestudeer, is versigtig om tandeborsel as voorsorg aan te moedig.“Ek sou huiwerig wees om die gevolgtrekking te maak dat om jou tande te borsel jou beslis teen Alzheimer se siekte sal beskerm.”
WAT VAN KINDERS se tande?
Dr. Angela Gilhespie sê in haar boek, The ABC of Children’s Teeth, dat tandbederf by kinders jonger as ses ’n wêreldwye epidemie is en dat te min gedoen word om dit te voorkom.
“Tandartse het tradisioneel gefokus op die behandeling van tandbederf. Hulle het gewag tot dié siekte gevorder het en ouers het, meestal uit onkunde, gewag tot hul kinders tandpyn het voor hulle professionele tandesorg opgesoek het.”
Gilhespie is egter ’n voorstander van die teenoorgestelde: Om voorsorg te tref sodat jou kind nié tandprobleme ontwikkel nie.“’n Kind kan nie ’n gesonde liggaam hê sonder ’n gesonde mond nie. Tandbederf het ’n invloed op ’n kind se vermoë om te eet; infeksies beïnvloed die immuunstelsel en kan ook ’n uitwerking op haar emosionele en sielkundige toestand hê.”
Goeie tand- en mondsorg vir jou kinders begin al wanneer jy swanger is, glo Gilhespie. Dit sluit in om tydens swangerskap vitamien D-aanvullings te gebruik.
Volgens dr. Marc Sher, ’n Kaapstadse tandarts, dra borsvoeding by tot mondontwikkeling.“Die aksie om te suig en te sluk, is baie belangrik omdat dit die groei van die kaak en gesigbene aanmoedig.”
Dit is ook belangrik om jou kind se mond so gou moontlik te begin skoonmaak om die ontwikkeling van bakterieë te voorkom, sê Gilhespie.“Die beste manier om ’n baba se mond skoon te maak, is om die tandvleis ná elke hoofvoeding af te vee met gaasblokkies gedoop in skoon, gekookte water. Dit kan vervang word deur ’n vingerborsel en later ’n babatandeborsel.”
Beskerm bABA SE TANDJIES
Gilhespie gee ook die volgende wenke:
Vrugtesap en koue drankies is te suur vir babatande, selfs al verdun jy dit met water. Kinders wat voortdurend aan ’n bottel met ’n suikerige drankie suig, se tande is altyd met vloeistof bedek, wat keer dat spoeg die tande beskerm.
Vervang teen eenjarige ouderdom jou kind se suigbeker met ’n gewone koppie. Moenie suiker by melk, vrugte en groente voeg nie. Jou kind moet genoeg water drink vir voldoende spoegvloei. As jy jou kind bederf met ’n soetding, moet jy die gewoonte vestig dat hulle daarna tande skoonmaak.
Omdat daar snags minder spoeg in die mond is wat tande natuurlik teen die vorming van gaatjies beskerm, is dit belangrik om voor slaaptyd van alle plaak ontslae te raak.