Kuier

Antie Val

Sukkel jy met jou liefdeslew­e? Hier is raad.

-

Vraag BAIE KERE VERNEUK

Ek was vir twee jaar in ’n verhouding, maar my ou het my verskeie kere verneuk. Selfs toe ek swanger was, het hy my verneuk. Hy wil nie ’n verhouding met sy kind hê nie en sê die kind sal self eendag besluit. Hy sê ons moet vriende wees, maar hy wil nog steeds met my slaap. Ek is steeds lief vir hom. Moet ek na my hart luister of aanbeweeg? SEERGEMAAK

Antwoord BESTE SEERGEMAAK

Ek wil jou nie oordeel nie, maar dit gaan my verstand te bowe dat jy nog die man entertain. Hoeveel seer wil jy nog onder dié man ervaar? En dan wil jy nog jou kind ook by die gemors insleep! ’n Man wat jou nie respekteer nie, veral terwyl jy sy kind dra, is slegte nuus. Hy maak dit dan duidelik hy wil niks met die kind te doen hê nie, maar jou oë gaan steeds nie oop vir hoe sleg hy eintlik is nie. Hoeveel keer moet hy jou nog teleurstel en verneder? Nou wil hy nog jou liggaam ook misbruik sonder om sy verpligtin­ge na te kom. Respekteer jouself ’n slag sodat hy jou ernstig kan opneem. Wys hom jy is nie sy speelmaat nie. Hy kan nie met jou maak wat hy wil nie. Dis tyd om aan te beweeg. Jou kind het ’n ma nodig sonder muisneste.

Vraag ’N MOEILIKE SITUASIE

My man het ’n buite-egtelike dogter; dit het in ons huwelik gebeur, maar ek het hom vergewe. Haar grootouers het besluit sy sal nooit weet wie haar pa is nie en hulle verwag niks van hom nie. Ná 22 jaar het die ma my gebel en om vergifnis gevra. Maar ek het reeds lankal vergewe, want ek is ’n wedergebor­ene. ’n Jaar gelede was my man met kanker diagnoseer en die buite-egtelike dogter het haar pa in die hospitaal besoek. Sy het gesê sy sal graag ’n verhouding met hom wil hê, maar ná ’n jaar het dit nie gebeur nie. Ek as sy vrou is nie seker hoe ek moet optree as ek haar vir die eerste keer ontmoet nie. Ons het ook twee kinders in die huwelik. Wat moet ek doen? GIGI

Antwoord BESTE GIGI

Jy praat van jy het haar ma blykbaar lankal vergewe, so dan verstaan ek nie so mooi hoekom jy confused is oor hoe jy die kind moet hanteer nie. Ek is jammer dat dit in jou huwelik gebeur het, maar die lewe het jou mos nou baie dinge geleer en wat gedoen is, kan nie verander word nie. Onthou die dogter het nie gevra om in die situasie te beland nie. Sy wil ook net ’n hoofstuk in haar lewe begin of dit probeer uitsorteer. Sy het haar eie familie en klink nie asof sy iets van julle soek nie. Wees hoflik en vriendelik teenoor haar; sy het niks verkeerd gedoen nie. Sy is net die slagoffer van haar ma en pa se besluite. Jy is mos ’n groot vrou en boonop ’n ma ook, so moenie dat dit so swaar op jou rus nie. Daar is tans baie ander belangrike­r dinge waarop jy moet fokus. Ek dink jy het eintlik lankal die ding aanvaar, jy is maar net ’n bietjie bang. Onthou, sy is ook skrikkerig en bang.

Vraag OUWIL HAAR CONTROL

Antie Val, my ou is ’n monster! Hy slaan my gereeld en wil nie hê ek moet vriende hê nie. Ek is baie lief vir hom en lieg vir ander om hom te beskerm. Hy het onlangs my kind ook geslaan toe sy terugpraat en nou is hy gereed om dit enige tyd weer te doen. Wat moet ek doen? MISHANDEL Antwoord BESTE MISHANDEL Ag nee man! Dit is nou nie lekker om te hoor nie. Ek is baie jammer dat jy en jou kind dit moet deurgaan, maar ek verstaan nie hoe jy kan lief wees vir iemand wat jou so sleg behandel nie. Hoekom kan jy nie in jouself glo en glo dat jy ’n beter lewe verdien sonder al die bakleiery nie? Hy mag nooit weer sy hand vir jou of jou kind lig nie; hy mag dit nie eens in die eerste plek gedoen het nie, so hou op om hom te beskerm. Jy maak eintlik ’n bespotting van jouself, want almal weet reeds die waarheid; mense is nie dom nie. Dink aan jou kind; hy of sy verdien nie so ’n lewe nie. Gebruik dus jou kop en doen wat reg is. Ek hoop van harte jy maak die regte besluit en dinge werk uit vir julle.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa