Kuier

Voorblad:

Theodore Jantjies reg vir eerste Vadersdag

- Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Wanneer Theodore Jantjies vandag in sy vyf maande oue babaseun se groot oë kyk, kan hy soms steeds nie glo dat die Here hom gekies het om pa te word nie.

Nog minder kan die 35-jarige akteur wat Xander Meintjies in die gewilde sepie 7de

Laan speel, glo daar was ’n tyd toe hy en sy lewensmaat, Tammy van der Merwe (30) oorspronkl­ik van Malmesbury, dit oorweeg het om ’n kind aan te neem omdat hulle nie geweet het of hulle swanger sal kan word nie. Hulle was dus absoluut verheug toe Tammy uitvind sy verwag.

Hulle is al vir jare ’n paartjie en Theodore lag goedig terwyl hy vertel dat hulle al teen daai tyd moeg was vir familie en vriende se vrae oor wanneer hulle gaan trou of met ’n gesin gaan begin. Maar dit was nie altyd ’n grap nie. Volgens hom kan sulke persoonlik­e vrae ’n mens nogal ongemaklik maak, veral as die redes daaragter nie vir almal se ore bedoel is nie. Dalk begeer ’n paartjie tog kinders, maar daar is mediese komplikasi­es. Dus glo Theodore jy moet eerder nie sulke persoonlik­e vrae vra nie.

WIL OUERS WORD

Hy en Tammy het juis gewonder of hulle ooit kinders van hul eie sal hê. Tammy ly jarelank aan ’n mediese toestand wat veroorsaak het dat haar kanse baie skraal was om natuurlik swanger te word. Volgens Theodore het dit egter nie beteken dat hulle nooit ouers sou word nie.

“Daar is baie kinders in die wêreld wat ’n huis en liefde nodig het. Ek het geweet as ons nie ’n kind van ons eie kon hê nie, sou ek graag ’n kind wou aanneem.”

Vir Theodore was dit nog altyd ’n groot droom om eendag ’n pa te word. Hyself het in ’n enkelouerh­uis grootgewor­d en hoewel hy baie na aan sy ma en ouma is, erken hy hy het as kind altyd gehunker na ’n hegte verhouding met sy pa.

Volgens Theodore het hy baie vroeg in sy lewe aanvaar dat sy pa nie elke dag deel van sy lewe gaan wees nie.

Maar hy het tog gewens sy pa sou op spesiale dae soos sy aanneming of ’n groot sportwedst­ryd daar wees. Hy het egter vrede gemaak met daardie deel van sy lewe, want, sê Theodore, dis nie gesond om kwadegevoe­lens saam met jou te dra nie. Volgens hom ervaar jy ’n spesiale soort vryheid wanneer jy diegene wat jy liefhet, kan vergewe vir dinge wat jou seergemaak het.

“Dit help niemand om aan dinge vas te klou nie. In alles wat gebeur, is daar iets positiefs en ’n les wat jy daaruit kan leer. Vir my het my verhouding met my eie pa my vroeg in my lewe laat besef dat ek heeltemal teenwoordi­g in my kind se lewe wil wees,”sê hy met passie.

Liefde sonder grense

Jy kan sommer sien klein Shiloh, wat op 5 Januarie vanjaar gebore is, maak sy pa baie trots. Daar is altyd liefde in sy stem wanneer Theodore van sy klein mannetjie praat. Hy sê hy het altyd gehoor mense ontwikkel onmiddelli­k ’n sterk liefde vir hul kind vanaf geboorte, maar hy het nooit

besef hoe vinnig dit gebeur nie. Hy het ook nooit gedink dat jy so vinnig, so lief vir iemand kan word nie.

Volgens Theodore is dit ’n intense liefde wat hy nie in woorde kan beskryf nie, maar die oomblik toe hy Shiloh sien, kon hy nie wag om sy seun vas te hou nie.

“Hy het onmiddelli­k ons harte gesteel. Ons wou nie voor die geboorte die geslag van die baba weet nie, so toe ek hom sien, was die eerste ding wat ek vir Tammy gesê het, ‘Baby, hy het ’n tollie!’, ”vertel Theodore terwyl hy lekker begin lag.

“Ek was so opgewonde! Ons het ook vooraf op die naam Shiloh besluit, juis omdat ons nie die baba se geslag geweet het nie. Dit is ’n naam wat vir ’n meisie en ’n seuntjie kan werk, maar die betekenis is ook mooi. Shiloh kom uit die Bybel en beteken vredemaker.”

So opgemaak was Theodore met sy seuntjie dat hy amper nie wou hê hospitaalp­ersoneel moet hom vat om skoon te maak nie. Theodore sê as hy so na sy seun kyk, dink hy sy naam pas perfek by hom. Hy is ’n besige seuntjie, maar met ’n kalmte en ’n rustigheid. Theodore sê om ’n pa te wees, is iets wat hy as ’n eer en nie ’n opsie beskou nie.

Volgens hom bereik jy ’n stadium in jou lewe waar jy nie meer elke naweek wil uitgaan en partytjie hou nie. Jy wil rustig word en ’n gesin begin. Met Shiloh se koms het die volgende fase in Theodore se lewe ook aangebreek.

Hy sê Shiloh het reeds sy hele uitkyk op die lewe en sy werk verander.

Deesdae sien hy alles met ander oë en doen hy alles anders, vertel hy. Hy is steeds dieselfde persoon, maar alles wat hy nou doen en sê, word met Shiloh in gedagte gedoen.

In al die besluite wat hy maak, die dinge wat hy doen, planne wat hy beraam en selfs hoe hy aan die toekoms dink, kom Shiloh eerste.

Hy raak ernstig wanneer hy verduideli­k as pa gaan dit nie meer net oor jou nie en dink jy eerste oor hoe jou besluite jou kind gaan raak.

DIT KOM NATUURLIK

Hy sê dit is iets wat so natuurlik vir hom kom al het hy nie ’n pa-en-seunverhou­ding gehad nie. Maar dit motiveer hom ook nóg meer om deel van Shiloh se lewe en ’n teenwoordi­ge pa te wees.

Theodore sê voor Shiloh se geboorte sou hy nie omgegee het om by die werk laat te bly om met mede-akteurs te kuier of ekstra lyne te leer nie, maar deesdae wil hy so gou as moontlik by die huis kom. Hy hou selfs daarvan om doeke om te ruil en hy wil steeds daar wees wanneer Shiloh gebad word al is dit nie sy beurt nie.

“Elke oomblik is ’n spesiale oomblik vir my. Hy groei so vinnig, voor ons ons oë uitvee, gaan hy nie meer ’n baba wees nie, so ek probeer om elke oomblik daar te wees. Maar ek kan ook nie wag vir die dag wanneer hy begin praat nie. Al is hy nog klein, lyk dit asof hy reeds baie het om te sê,”vertel Theodore.

“Shiloh is baie oplettend en wakker. As iemand ’n geluid maak dan kyk hy om. Hy is ook mal daaroor wanneer ek in die aande vir hom act en my lyne vir die volgende dag saam met hom leer.”

Gemaklik met kinders

Theodore, wat twee kinders in die sepie het, sê sedert Shiloh se geboorte is hy meer gemaklik rondom kinders en speel hy sy karakter met nog meer passie. Voor Shiloh se geboorte was hy bang om kinders vas te hou, maar deesdae is hy nie meer so haastig om die kinders vir hul ouers terug te gee nie.

Wanneer hy by die huis is, beskryf hy homself as mal en wonder hy soms wat sy seun van hom dink. Maar hy sê hy wil so mal moontlik bly vir sy seun en sy beste vriend wees.

Hy hoop om ’n pa te wees met wie sy seun kan gesels oor moeilike en goeie dinge.

’n Pa saam met wie hy kan lag en wat vir hom sê hoe trots hy op hom is. Hy hoop ook om vir sy kind die belangrike dinge in die lewe te leer, soos goeie maniere en hoe om mense goed te laat voel, want dit is die dinge wat sy ma en ouma vir hom geleer het en wat vir hom die mens gemaak het wat hy vandag is.

Dis duidelik Theodore leef vir sy nuwe rol as Shiloh se pa en dat hy glad nie genoeg daarvan kan kry nie.

“Dit is lekker om iets te hê wat jou nog meer opgewonde maak oor die lewe. Dit gee jou ook meer begrip vir ander paartjies wat nie kinders kan kry nie. Dis iets wat my emosioneel laat word, want om ’n pa te kan wees, is ongeloofli­k en ’n waardevoll­e geskenk. Dit is hartseer dat sommige mense nooit hierdie gevoel sal ken nie, maar dit laat my dit nog meer waardeer.”

Elke oomblik is’ n spesiale oomblik vir my. Hy groei so vinnig, voor ons ons oë uitvee, gaan hy nie meer’ n baba wees nie. THEODORE JANTJIES

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? HEEL LINKS NA REGS: Theodore is en wil altyd aktief betrokke wees wanneer dit by sy seun se grootmaak en versorging kom.
HEEL LINKS NA REGS: Theodore is en wil altyd aktief betrokke wees wanneer dit by sy seun se grootmaak en versorging kom.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa