Benut kundigheid vir snelste genetiese vordering
Mnr. Heinrich Bruwer van Vryburg, Voermol se Beesboer van die Jaar vir 2016, is ’n ou kop op ’n jong lyf. Hy maak vinnig naam as beesboer, internasionale beoordelaar én leierboer. Hy benut veral alle beskikbare tegnologie om so vinnig moontlik genetiese v
Hy is ’n gebore beesboer – en deur by net die bestes in die bedryf te leer, presisieboerdery tot op die volgende vlak te neem en in vitro-bevrugting toe te pas, bou mnr. Heinrich Bruwer ’n uitsonderlike kudde op – baie vinniger as deur die normale proses.
Heinrich boer in Noordwes op die plaas Lovedale noord van Vryburg op die pad na Tosca. Hy en sy pa, Bokkie, wat reeds sedert 1986 in die omgewing boer, besit die Grandview-Brahmanstoetery, genoem na die buurplaas, Grandview, waar Bokkie boer.
Lovedale is al vyf geslagte lank in die familie se besit, met Heinrich, Voermol se Beesboer van die Jaar vir 2016 en Noordwes se Jongboer van die Jaar vir 2013, tans aan die roer van sake.
Hy is in 2005 plaas toe, pas nadat hy die vorige jaar matriek geskryf het. “Ek wou nie gaan leer nie, want ek het genoeg van boeke gehad en wou net boer,” lag hy.
Heinrich en sy vrou, Clara, boer met Brahmane, Charolais’s, Herefords, Angusse, Brafords en Brangusse.
Brahmane het hom altyd na aan die hart gelê, selfs toe hy nog op skool was, al het Bokkie toe nog met ander beesrasse geboer. Heinrich het sy eerste Brahmanbeoordelaarskursus gedoen toe hy nog op skool was en altyd gesê hy gaan eendag met dié ras boer.
Hy het ook aan jeugskoue deelgeneem. In 2002 is hy as deel van die Suid-Afrikaanse jeugskouspan na Amerika, waar hy die afdeling vir touleiers op ’n groot jeugskou gewen het. In 2004 was hy as matriekseun die nasionale jeugskoukampioen op die Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms.
Voor hy begin boer het, het hy eers vir vier maande by mnr. Jan van Zyl van Vryburg gaan werk om meer praktiese kennis van beesboerdery op te doen, “want dit is die beste om by ’n ervare teler te gaan leer”.
Hy het ook senior beoordelaarskursus- se begin bywoon, meestal by mnr. Martin Seyfferdt van Bloemfontein, die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Interrasbeoordelaarsvereniging. Só het hy nóg van beeste geleer.
KOOP EERSTE BRAHMANE
Terug op die plaas het Heinrich sy pa oortuig dat hulle Brahmane by hul bestaande rasse moet voeg. Hulle het tien verse en ’n bul by mnr. Sydney Hunt van Warrenton gekoop, wat uit die Amerikaanse Sugarland-bloedlyn gekom het waarop Sydney se pa, Reg, toe die alleeninvoerreg gehad het. “Ek het van hul sterk beenstruktuur, diepte, melkeienskappe en goeie
kalfsyfers gehou,” verduidelik hy. Dit was die begin van die Grandviewkudde, wat vandag nog sterk groei. Daarmee gebruik hy ook teelmateriaal van Bos Blanco van mnr. Burnie Staal van Kroonstad en R10 Brahmane van mnr. Llewellyn Labuschagne van Letsitele, wat goed in sy kudde vaar.
“Asekommykyk, sienekmybureboerál meer intensief onder spilpunte met graan en groente. Ons boer net met beeste, maar moet ook presisieboerdery toepas om met hulle tred te hou en die stoetery se waarde te verhoog,” sê Heinrich.
Hulle het intussen ook by ander stoettelers teelmateriaal aangeskaf, maar die suksessyfer was nie waffers sover dit die retensie van bulle en vroulike diere uit dié diere betref nie. Hy het dus besluit om met presisieboerdery te begin deur in vitro-bevrugting en embrio-oorplasing by sy beste beeste te doen.
Heinrich het ’n in vitro-stasie op die plaas gebou. Dié delikate werk moet uit regstreekse sonlig gehou word as die piepklein embrio’s by die ontvangerkoeie ingeplant word. Hy het dus ’n laboratorium in dié gebou ingerig waarin drs. Neil van Zyl en Johan Coertze van In Vitro Africa op Parys die embrio’s kan oorplaas.
In ’n aangrensende vertrek met deure aan weerskante is ’n onderdakdrukgang en ’n nekklamp. Die beeste loop aan die een kant van die gebou in, word een-een vasgeklem sodat embrio’s ingeplant kan word en loop dan by die ander kant uit.
SELEKSIE VIR TEELDIERE
Voor Henrich ’n koei, vers of bul koop, bestudeer hy inligting oor beskikbare diere op die internet. “Ek kyk veral na die stambome van soveel diere moontlik, veral koeie wat ek ken. Ek selekteer dan bulle en koeie wat nie net ’n impak op ’n kudde gehad het nie, maar die hele ras gunstig beïnvloed.”
Hy noem as voorbeeld die Brahmankoei BOS 108 wat meer as duisend aangetekende kleinkinders het, asook HS Miss Fayette wat 17 kalwers gehad het en met ’n tussenkalfperiode van 371 dae spog. Die seuns, kleinseuns en ander nageslag van dié tipe topbeeste maak teling meer voorspelbaar.
Heinrich het in 2015 ’ n bul gekoop waarna hy lank gesoek het. “’n Stoetbul moet die volledige pakkie wees en niks minder as die beste is goed genoeg nie. Eerstens kyk ek na eienskappe wat ek in my kudde wil verbeter en watter bulle dit kan doen. Dan word dit moeiliker, want dié bul moet fenotipies 100% struktureel korrek wees. Hy moet die gewenste Breedplansyfers en perfekte stamboom met geneties meerderwaardige diere in sy voorgeslag hê.
“Die prys is die laaste aspek wat ’n invloed moet hê. Ek sal eerder die onderste 10% van my kudde verkoop en my begroting rek om die regte bul vir my topkoeie te koop, pleks van om ’n goedkoper een te koop wat nie genetiese verbetering vir my gaan meebring nie,” sê hy.
KI VIR RASVORDERING
Kunsmatige inseminasie (KI) maak die wêreld van genetika baie kleiner. Dit is moontlik om enige bul op aarde in ’n kudde te gebruik, selfs al is hy nie te koop nie of selfs iewers in die buiteland. Die bul se semen kan gekoop en vir KI gebruik word. ’n Mens kan selfs semen van bulle gebruik wat lankal dood is en waarvan die semen die betrokke eienskappe het waarna ’ n teler soek. Twee mooi, wit Brahmankoeie waaroor Heinrich baie opgewonde is, is byvoorbeeld dogters van Sugarland-bulle wat in die 1970’s gebore is. Dié kudde met sy wêreldklasteelmateriaal bestaan lankal nie meer nie.
In vitro-tegnieke maak dit vir telers moontlik om baie verder te kom met ’n strooitjie semen wat skaars of duur is. Met KI word een strooitjie per koei gebruik om haar kunsmatig te bevrug. Dan het sy ’n kans van sowat 60% om dragtig te word. Met in vitro kan een strooitjie semen gebruik word om 20 tot 30 eierselle van verskillende koeie te bevrug.
Heinrich sê dikwels lewer embriospoeling nie die tipe nageslag waarna die teler gesoek het nie, want ’n vreemde, onbeproefde bul se saad word dalk gebruik. ’n Boer selekteer dalk op grond van ’n foto van ’n bul wat mooi vetgevoer is, dikwels uit die buiteland, en dan laat sy nageslag soms veel te wense oor.
“In vitro moet eerder beskou word as ’n manier om die topkoeie in jou kudde te vermeerder met plaaslike, beproefde bulle of selfs parings wat reeds goed gewerk het. Die Brahman- en Charolaisteelmateriaal in Suid-Afrika is van die beste ter wêreld. Nóg belangriker is dat hulle in ons omgewing aangepas is. Dus verkies ek eerder plaaslike bulle vir die embrioprogram.
“Vir KI kan oorsese bulle wel beproef word, want dit is goedkoper en as ’n swak kalf gebore word, is dit net een kalf en nie ’n klomp embrio’s wat ter sprake is nie.”
EMBRIOSKENKERS
Vir sy in vitro-program kies Heinrich eerstens die beste van sy topkoeie as embrioskenkers. Dit is net elitekoeie met
hoë syfers vir gewenste eienskappe, soos melk en vrugbaarheid, én wat hulself reeds oor ’n paar geboortes bewys het. Sulke koeie moet ook aan ál die rasvereistes voldoen.
Dan gaan die veearts plaas toe en oes oösiete met in vitro-spoeling uit die skenkerkoeie. Oösiete is vroulike geslagselle wat in die follikels (sakkies) van ’n koei se eierstokke voorkom en eierselle vorm. Dié proses kan elke twee weke plaasvind tot die koei drie maande dragtig is.
Die oösiete word na die laboratorium op Parys geneem, waar hulle in ’n houer met bulsemen van Heinrich se keuse bevrug word. As die bevrugting suksesvol is, word dit op die sewende dag as ’n embrio beskou en bevries.
Dié embrio kan dan teruggeplaas word in ’n ontvangerkoei wat met sinchronisasie voorberei is sodat haar hittesiklus met dié van die bevrugting sinchroniseer. Die terugplasing van die embrio geskied dus sewe dae nadat die ontvangerkoei op hitte gekom het.
Heinrich sê sowat 30-50% van die oösiete ontwikkel tot embrio’s. Hulle kan vars in ’n ontvangerkoei ingeplaas word, oorgeplant of vir ’n onbeperkte tydperk gevries word om later te gebruik. “Die voordeel is dat dit ’n natuurlike proses is waarby geen hormone betrokke is nie en ek kan elke twee weke oösiete oes,” sê hy.
Hy het die groot waarde van in vitrobevrugting by mnr. Burnie Staal van Kroonstad geleer – hoe genetiese vordering versnel en die beste koeie se potensiaal beter aangewend word. “Só bou jy ’n voortreflike kudde baie vinniger as met die normale proses, wat baie tydsaam is.”
As voorbeeld noem hy ’n koei wat hy vir R100 000 verkoop het, maar hy het al vyf in vitro-kalwers van haar en ook tien bevrore embrio’s in die laboratorium wat later by ontvangerkoeie ingeplant gaan word. Hy kan dus ewe veel kalwers van dié 2011-koei binne ’n jaar kry as wat sy in ’n gemiddelde leeftyd sou voortbring.
IN VITRO MET CHAROLAIS
Heinrich en Clara doen dié genetiese versnelling ook met haar Charbella Charolais-stoetery. Die heel eerste in vitro Charolais in Suid-Afrika is in Februarie in hierdie kudde gebore.
Clara het die graad B.A. in menslike bewegingskunde en rekreasie aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus behaal. Sy is baie lief vir beesboerdery, want sy het van kleins af daarmee gehelp op haar ouers, mnr. Harry en mev. Lizette Burger, se plaas by Schweizer-Reneke.
Nadat sy haar studies in 2012 voltooi het, het Harry haar gevra om Charolaisbulle vir sy Branguskudde te begin teel om terminale kruisteling te doen.
HOË SUKSESSYFERS
Heinrich behaal goeie sukses met sy embrioprogram. Met die mees onlangse spoelings het hy 60% besetting gekry en met een groep Brahman-embrio’s ’n alle- mintige 90% dragtigheid.
Hy verduidelik dat die natuur “reg” moet wees. September en Oktober as dit gewoonlik begin reën en dit nog nie baie warm word nie, is ideaal. Van Februarie tot April vaar hulle ook goed. Die laaste ronde in vitro-bevrugting wat so suksesvol was, het met ’n paar gunstige faktore gepaardgegaan, veral die laat somerreën en koeler weer in April verlede jaar.
’n Groot deel van die sukses kan egter ook aan die ontvangerkoeie toegeskryf word, asook sinvolle seleksie deurdat Heinrich voorkeur aan funksionele, vrugbare koeie met ’n goeie wigvorm en goeie temperament gee.
HEREFORD EN ANGUS
Heinrich en Clara het onlangs ook ’n Angusstoetery begin om bulle vir Harry se Brangusteelprogram te teel. “Dit was ’n maklike keuse omdat die Angus een van die vrugbaarste rasse is, die kalwers ’natuurlik’ onthoring is en die ras met die grootste genepoel ter wêreld spog. Ons het die Amerikaanse bulle SAV Networth en SAV Final Answer gekies om die grondslag van die kudde met teeldogters te skep,” sê Heinrich.
Die Herefords word weer gebruik om kommersiële Brafordverse vir Bokkie se kudde te teel.
Die Bruwers gebruik Charolaisbulle in ’n terminale kruising by Braford- en Branguskoeie om die swaarste moontlike speenkalwers te lewer.