Temmers van die Namib
Tagtig jaar gelede het ’n handjie vol boere teen die hange van die Gamsberg afgetrek na die vlaktes van die Namib, waar “niemand sou kon bestaan nie”.
Só skryf Landbouweekblad in 1969 oor dié baanbrekers:
Van Windhoek af kronkel ’n stofpad deur die suidelike hange van die Khomas Hochland tot op die kruin van die Gamsberg. Vir die reisiger wat daar stilhou, vou een van die treffendste ruwe natuurtonele van Suidwes uit die newels van die Namib oop. Tussen die reisiger en die vlaktes vleg die Gamsbergpas deur die skurwe rotslandskap na die boerderystreek van dié halfwoestyn.
Na regs eindig die horison teen ’n duisend heuwels. Voor wink die blinksaadgras deur baie myle van die vallei na die vlaktes en links eindig die berge in een massiewe plato.
’n Murasie van gestapelde klip vertel van die dobbelspel wat ’n handjie vol Suidwes-boere aangegaan het. ’n Graf in die blinksandgras vertel van enkeles wat die hoogste prys vir ’n nuwe wêreld moes betaal.
TEMMERS
In 1937-’38 het ’n groepie aspirantboere teen dieselfde berghang gestaan en oor dieselfde vlaktes gekyk. Die beskawing was nog nie daar nie.
Hulle was die temmers van die Namib – Schutztruppe wat die land op die slagveld leer lief kry het, klerke met ’n boer se drome, plaasvoormanne met die drang na ’n eie boerdery, avontuursoekers en mense met ’n drif na die skatte van ’n onbekende land – Roelf de Jager van die plaas Corona, kapt. Andries Richter van Piccadilly, Isak Greyling van Rostok, Johan Viviers van Chausib en Niklaas Spreeth van Spreethshoogte . . .
Baie het bo-op die berg omgedraai. Ander het die uitdaging aanvaar.
Die eerste bewoners van die Namib het een-een gekom en een-een getrek. Spanpogings het eers gevolg nadat die natuur die mense van die Namib na mekaar gedryf het.
Voor dié intog het graslisensiehouers reeds die Namib verken. Trekboere het vir hulle ’n basis bo-op die berg ingerig en honderde Karakoele in die Namib-vlaktes laat wei.
Die gevare van die nuwe land was bekend – ’n wisselvallige jaarlikse reënval van sowat vyf duim (127 mm), duisende wildsbokke wat groot lappe weiveld in een nag op hul trekpad opvreet, roofdiere wat talle stuks kleinvee vang, net ’n paar versteekte fonteine as drinkplekke.
DONKIES
Die eerste intrekkers het donkies teen die steil berghange af gebruik. Tydelike blyplekke is gebou en ná die eerste vesting van boere is saamgespan om ’n pad te maak.
Oorblyfsels van die eerste paaie kan vandag nog teen die hange van die Gamsberg gesien word. Die blinksaadgras het reeds weer gegroei waar donkies ’n beskawing na ’n haas ongerepte tuiste gebring het.
Pakdonkies was algemeen in gebruik. Mnr. Roelf de Jager onthou die dag nog goed toe hy en mnr. Isak Richter ’n houtstoof – ’n Dover Merk III – op ’n pakdonkie teen die berg af gebring het.
Later, toe die eerste waens gekom het, is ander planne beraam. Berg af is ’n span donkies op die “gemaakte” pad agter die waens gespan. Al wat ’n remskoen was, was tot skreepunt vasgedraai. Terwyl die waentjies teen die steil hellings geskuur-gly het, het die donkies agter gebeur om ’n egalige pas te verseker en ’n kosbare vrag te red. Materiaal vir plaaswonings, die eerste boormasjien en die eerste motors is op dié manier na die Namib gebring.
NUWE TYDVAK
Motors het ’n nuwe tydvak in die geskiedenis van dié streek ingelui. Dit het makliker geword om Karakoelpelse by depots in Windhoek te besorg en skape kon gered word omdat middels teen die gevaarlike bloednier gouer by handelsposte verkry kon word.
Wanneer Windhoek toe gery moes word, is die donkie se hulp weer ingeroep om die motors by te staan sodat hulle die hoogland bo-op die berg kon bereik.
Die mense vertel vandag met ’n tikkie heimwee van hul voorkeur-donkies – moedige pakdiere, soos Japie en Regter, wat vir hulle ’n plek in die geskiedenis van die Namib oopgebeur het. Japie en Regter rus ook vandag onder die blinksaadgras van die Namibvlaktes.
Mnr. Roelf de Jager onthou die dag nog goed toe hy en mnr. Isak Richter ’n houtstoof – ’n Dover Merk III – op ’n pakdonkie teen die berg af gebring het.
Dié artikel het op 30 Desember 1969 verskyn.