Omskep indringerlas in ’n voerbate
Bosindringing is ’ n euwel wat boere in groot dele van Suider-Afrika radeloos maak. Dit kos ook ’n klomp geld om die bosse uit te roei sodat die weiding weer veld kan wen.
Kwaai bosindringing veroorsaak dikwels dat ’n plaas se drakrag skerp daal, want grasse groei gewoonlik nie onder die bosse nie, terwyl dit ook kosbare water en plantvoedingstowwe uit die grond haal. Menige boer kap en saag dié bosse af, pak dit in hope en verbrand dit.
Mnr. Piet Simpson van Dwaalboom in Limpopo het ’n slim plan gemaak om van die indringerbosse ontslae te raak én dit nuttig te gebruik. Hy het ’n werktuig, Bos tot Kos, ontwerp waarmee hy die takke net daar in die veld fynmaal en voerkorrels vir sy wild daarvan maak.
Werktuie, soos die Bosvreter (’n saag op wiele waarmee hy indringerbosse afsaag) en die meerdoelige Vuurvegter, het al onder meer die lig gesien in die werkswinkel op sy plaas Parys, sowat 95 km noordwes van Sun City, 95 km suidwes van Thabazimbi en digby die grens met Botswana.
Piet, wat al 21 jaar lank praktiese werktuie vir boere ontwerp, het op die buurplaas by sy voogde, wyle Daantjie en Una Ter- blanche, grootgeword. Later het hy ’n ambag as elektrisiën by PPC Sement op Dwaalboom verwerf, toe onder meer daar gewerk en later huise in Pretoria gebou.
In 1994 het hy sy huidige plaas gekoop en deeltyds met vleisbeeste geboer en gewasse gesaai. Hy is in 1997 heeltyds plaas toe.
ALLES-IN-EEN-MASJIEN
Sowat twee en ’ n half jaar gelede het Piet die idee gekry om geld uit indringerbosse te maak. Daar is maatskappye wat veevoer van indringerbosse maak, maar Piet se plan was om dit sommer in die veld te doen.
Hy het met verskillende ontwerpe begin eksperimenteer totdat hy tevrede was. Die Bos tot Kos- werktuig bestaan uit die volgende dele: ■ ’n Meganisme wat die takke intrek. ■ ’n Kerwer wat dit kleiner kerf. ■ ’n Meul wat dit verder in lengtes van 2 mm
opkerf. ■ ’n Tenk bo-op die werktuig met ’n menger waarin die gekerfde takke en blare ingeblaas word en waarin voerbestanddele bygevoeg en alles gemeng word. ■ ’ n Awegaar wat die voermengsel by die
pilmasjien invoer. ■ ’n Masjien wat voerkorrels maak.
Die vindingryke mnr. Piet Simpson van Limpopo het ’n werktuig gebou waarmee hy indringerbosse fynmaal en veevoer en voerkorrels maak, alles sommer in die veld. Só omskep hy ’n las in ’n bate en ontbos hy sy veld gratis.
Dit is dus ’ n alles- in- een- masjien op ’ n sleepwa met twee wiele wat met ’n bakkie, vragmotor of trekker gesleep, of selfs met die hand verskuif kan word.
Daarvoor is ’n kragopwekker nodig wat sterk genoeg is om die vyf verskillende elektriese motore op die masjien aan te dryf. Piet het ’n ou kennis gekontak wat kragopwekkers invoer. Hy en mnr. Martiens Opperman van Renttech in Wadeville, Gauteng, het uitgewerk die kragbron moet 40 kVa kan opwek.
Hoewel die motore nie soveel krag nodig het om te funksioneer nie, trek ’ n motor sowat sewe keer méér krag met die aansitslag as die stroom van 20 A tot 30 A wat hulle benodig as hulle voluit werk. Hoëtegnologie- aansitters word gebruik om die aansitstroom te beperk.
SÓ WERK DIT
Om die Bos tot Kos te gebruik, neem Piet dit na die kamp wat hy wil ontbos. Daar saag sy plaaswerkers ’n klompie sekelbosse of ander bosse met ’n Bosvreter af ( FOTO 1 ). Hulle kap die dunner takke met ’n kapmes af. Takke dikker as 25 mm word nie gebruik nie. Die dun takke word by die masjien se invoergeut ingedruk ( FOTO 2 ), waar dit hidroulies inge- voer word en die kerwer dit stukkend kap. Dit beland dan in die meul ( FOTO 3 ), wat dit met lemme in lengtes van 2 mm maal. Die meul se drom en sif kan nat hout hanteer. Die gekerfde materiaal beland met ’n blaas-aksie in die tenk waar ’n roerapparaat dit heeltyd omroer ( FOTO 4 ). Daar kan melassemeel en ander bestanddele, soos fosfaat, bygevoeg word. Die voerkorrels kan net daar in die veld gemaak word ( FOTO 5 ). Die materiaal word met ’n awegaar uit die tenk onttrek.
Piet sê die korrelmaker is opsioneel, want die boer kan die voer in sakke tap en net so aan die vee of wild voer. As voer vir die winter opgeberg word, word die pilmasjien aanbeveel omdat die raklewe langer is. Die korrels is droër as f yngemaalde materiaal weens die hitte wat tydens die samepersing van die mengsel in voerkorrels gepaardgaan.
Die werktuig vervaardig maklik 2 ton voer per dag. Die tenk hou sowat 250 kg gekerfde takke en blare wanneer dit vol is.
Die hoeveelhede van die bestanddele wat bygevoeg word, hang af van die tipe voer wat die boer wil vervaardig en die koste per kilogram sal uiteraard ook verskil tussen ’n winter- en ’n somervoer.
Piet se basiese mengsel vir wild bestaan uit 80 kg melassemeel, 50 kg mieliemeel en 250 kg fyngemaalde materiaal. Die melasse en meel maak dit smaaklik en voedsaam.
Baie bosse bevat tannien wat effens giftig en minder smaaklik is. Die boer kan die nadelige gevolge van tannien op die diere se spysvertering oplos deur Browse Plus (reg. no. V11013, Wet 36 van 1947) in hul drinkwater toe te dien.
Vir 2 ton voer het hy basies vyf sulke mengsels nodig en daarmee kan hy 200 grootvee-eenhede (GVE) per dag voer teen R1 610 (R32,20 per 40 kg melassemeel en mieliemeel wat bygevoeg word). Dit sluit elektrisiteit, diesel en arbeid uit.
Hy kry ’n ekstra inkomste uit die hout, want die dik stukke word met sy self ontwerpte houtsaag in lengtes van 30 cm opgesaag en as brandhout verkoop. Die dooie stukke kan dadelik bemark word, terwyl dit twee tot drie maande kos voor die nat stukke droog is.
“Die afgesaagde bosse se stompe moet chemies behandel word om te voorkom dat dit weer uitgroei.
“Sommige boere maak egter nie alles dood nie sodat dit weer kan uitgroei en tydens droogtes geoes kan word,” sê Piet.
Die werktuig sal ’ n vee- en wildboer in staat stel om ’n kernkudde met die minimum uitgawes deur ’n groot droogte te dra.
DRIE TOT VYF MOTORE
Die werktuig het vyf BMG-motore: vir die kerwer ( 5,5 kW) , meul ( 7,5 kW), roerder ( 4 kW), awegaar ( 1,5 kW) en pilmasjien ( 11 kW). As die boer dit sonder die pilmasjien koop, het dit net drie motore.
Piet verkoop die werktuig teen R530 000 ( BTW en aflewering ingesluit). Dit sluit ’ n Bosvreter en houtsaag in. Die Bosvreter het ’n Hoffmann-petrolenjin van 6,3 kW en die houtsaag ’ n elektriese BMG-motor van 5,4 kW.