Jan Taks raak nou ernstig oor trusts
Trusts moet oordeelkundig gebruik word, of dit kan ’n mens duur te staan kom. Vanaf 1 Maart is daar nuwe bepalings oor lenings aan trusts, asook verhoogde belastingkoerse.
Is daar nog waarde in trusts? Dit is ’n ope vraag noudat ons die aanslag van die Tesourie op trusts ervaar. Ek kyk vandag kortliks na twee belangrike belastingkwessies wat trusts nou en vorentoe gaan raak. Die eerste is die nuwe artikel 7C van die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962) wat lenings aan trusts hanteer, asook die nuwe verhoogde belastingkoers wat geld vir trusts.
Ek het al oor die jare in hierdie rubriek my kommer uitgespreek oor die onoordeelkundige gebruik van trusts op grond van gewaande voordele – gewoonlik wat belasting betref – of werklike voordele wat egter in die gegewe omstandighede ontoepaslik is. Ek gaan nie nou hierop uitbrei nie. Ek bepaal my eerder by die gevolge van die twee kwessies hier uitgelig.
Artikel 7C is ná enkele wysigings sedert 1 Maart vanjaar wet, maar is terugwerkend en hanteer lenings voor en ná dié datum. In die verlede is bates aan ’n trust verkoop op ’n leningsrekening. Danksy die verkoop sou geen skenkingsbelasting (20%) betaalbaar wees nie. Oor die algemeen is geen rente op die lening deur die trust betaal nie en is die lening mettertyd “afgeskryf” deur die jaarlikse belastingvrye skenking van R100 000 vir individue te gebruik.
Mettertyd het die verdere waardetoename van die bates in die trust plaasgevind – synde dit nou trust-eiendom is – en só is dit uit die trustoprigter se boedel gekry. Die ergste sou wees dat die uitstaande leningsrekening by dood ’n bate in sy boedel is.
Niks is hiermee verkeerd nie. Jan Taks meen egter dat as die verkoop en leningsrekening tussen nie-verwante persone was, rente gehef sou word, waarop inkomstebelasting betaal moes word. Daarom is gevoel dat die Tesourie belasting inboet en gevolglik word daar ’n stokkie voor gesteek.
Vandaar artikel 7C, wat kortliks bepaal dat waar rente op so ’n lening nie gehef word nie, of teen ’n laer koers as die amptelike koers (tans 8%), Jan Taks jou gaan aanslaan vir geskenkebelasting – asof jy daardie rente, of die verskil in rente, aan die trust geskenk het.
Dit het nie lank geduur nie of belastingraadgewers het met ’n plan vorendag gekom om die lening aan ’n maatskappy te doen, wat deur die trust besit word en só rondom artikel 7C probeer kom. Maar Jan Taks het reeds laat deurskemer dat die wet aangepas kan word om hierdie een hok te slaan. Wees dus gewaarsku.
KAPITAALWINS
Artikel 7C moet egter nie in isolasie gesien word nie. Die aanslag is op welvarende mense se rykdom. In hierdie geval daardie rykdom wat volgens die Tesourie in trusts “weggesteek” word. Om 8% rente (na verwagting gaan dit ook binnekort verhoog word) op ’n leningsrekening te moet hef is een ding, maar sedert 1 Maart is die belastingkoers op inkomste in trusts ook verhoog in ooreenstemming met die maksimum nuwe marginale koers vir individue (op ’n belasbare inkomste van R1 500 000 per jaar). Dit is 45% en daar is geen glyskaal soos met individue nie. Vrystellings, soos dié op rente-inkomste vir individue, is ook nie beskikbaar nie. Die trust betaal dus vanaf die eerste rand 45% belasting op inkomste.
En kapitaalwinsbelasting? Die ingeslote koers vir individue is 40% (dit is die deel van jou kapitaalwins waarop jy belasting betaal), maar vir trusts is dit 80%. Kortom, vir individue is kapitaalwinsbelasting tussen 0% en 18%, terwyl dit in ’n trust 36% is, sonder die jaarlikse vrystelling van R40 000.
Die deurvloeibeginsel laat toe dat trustinkomste (waaronder kapitaalwinste) uitgekeer kan word aan trustbegunstigdes en dit word dan in hul name belas teen die meer gunstige koerse vir individue. Maar dit skep ’n nuwe probleem, want daardie geld is nou nie meer net ’n diskresionêre trustbate nie.
Die begunstigde het nou ’n belang in die trust, wat die trustees aan bande lê en die hele doel van die trust kan verydel.