Ganse bedryf gons oor ganse
Kolganse en wildemakoue se getalle neem toe omdat mense meer en meer gunstige habitatte vir hulle skep. Dit is tyd om oor geskikte beheermaatreëls na te dink.
Navorsing toon die getalle van wildemakoue in die meeste gebiede in die Wes-Kaap het binne ’n kwessie van ’n dekade viervoudig toegeneem. In dieselfde tydperk het kolgansgetalle ook met 50% vermeerder.
’n Hele aantal faktore moet in ag geneem word wanneer ’n mens dié toename probeer verklaar. Landskappe is aangepas en verander, wat dit aantrekliker vir hierdie voëls maak. Veral plaasdamme skep meer permanente en geskikte habitatte.
Ganse hou van oop water en oop oewers laat hulle toe om ’n ononderbroke blik van die omgewing en veral roofdiere te hê. Daar kan hulle rustig wees, veral wanneer hulle verveer.
Veral die Wes-Kaap het ’n toevlugsoord vir kolganse en wildemakoue geword, hoewel die toename in getalle nie net tot daardie provinsie beperk is nie. Verstedeliking speel ook ’n belangrike rol omdat daar minder natuurlike roofdiere is, met meer oop ruimtes en water in stede.
Getransformeerde landskappe, soos grasperke in parke, op gholfbane en sportterrein, asook weivelde en gesaaides skep ’n ryk bron van kos vir die ganse. Die verandering van natuurlike habitatte in landerye en veekampe het ook ’n rol gespeel, want veral in droogtetye is gesaaides baie aanloklik vir dié voëls en kan hulle groot skade aanrig.
Voëlkykers is bekommerd oor hoe die toename van kolganse ander voëls raak. Kolganse is geneig om die neste van ander voëls oor te neem en sodoende kan sulke voëls uit ’n gebied verdryf word. Aantekeninge toon dat meestal roofvoëls, soos hamerkoppe, swartsperwers en visarende, daardeur beÏnvloed word.
Die vraag is: Wat kan ’n mens hieraan doen? Die dodelike metodes sluit in die skiet en vergiftiging van ganse en die vernietiging van neste. Nie-dodelike metodes kan afskrikmiddels insluit, soos die gebruik van klappers of skote, of om die voëls deur mense, honde of opgeleide roofvoëls te verjaag. Kits-oplossings, soos die dodelike metodes, lok gereeld bespreking uit wat uiters emosioneel kan raak.
VEERWILDJAGTERS
Dit is nie onwettig om ganse te jag nie. Jy het wel ’n jaglisensie nodig en moet dit in die vasgestelde jagtyd doen. Provinsiale bewaringsowerhede reik spesiale jagpermitte uit wanneer die skade wat die voëls aanrig, te groot is. Meld probleme aan by dr. Gerhard Verdoorn van die Griffon-gifinligtingsentrum. Hy sal dit by die Suid-Afrikaanse Jagtersen Wildbewaringsvereniging aanmeld, wat met die grondeienaar en die provinsiale bewaringsowerheid sal beraadslaag.
Hulle bring veerwildjagters om ongeveer 50 ganse te skiet. Dit is gewoonlik genoeg om die ganse van die gesaaides te verdryf. Die voëls se vleis word gewoonlik aan plaaswerkers geskenk, pleks daarvan om die proteÏen in die veld te laat verrot.
GEEN GIF
Sommige boere vergiftig ook ganse. Dis onwettig en benadeel die breër ekologie en biodiversiteit. Vergiftiging bly ’n ernstige bedreiging vir die natuurlewe. Sekondêre vergifiging veroorsaak gereeld vrektes onder kraanvoëls, aasvoëls, arende en ander roofdiere. Daar is slegs twee geregistreerde gifstowwe om voëls mee te bekamp en dit is nie op ganse van toepassing nie. Slegs die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye mag wettiglik voëls vergiftig en dit is gewoonlik net op die rooibekkwelea van toepassing.
Die nie-dodelike metodes is veral op gholfbane in Amerika getoets, met wisselende resultate. Uit die aard van die saak skep gholfbane die ideale toestande vir ganse om in te floreer – wat gholfspelers en veral die baanbeamptes irriteer. Die metodes is gewoonlik nie kostedoeltreffend nie en ek betwyfel of dit werklik op die boerderygemeenskap van toepassing sal wees.
Kolganse en wildemakoue is duidelik hier om te bly omdat mense toenemend vir hulle geskikte habitatte skep. Veral in droogtetye skep ganse in landerye en damme met waterblommetjies groter probleme. Wanneer omgewingstoestande verbeter, kom hulle weer oor ’n groter gebied voor. Miskien is ’n bietjie meer geduld en verdraagsaamheid nodig terwyl geskikte en omgewingsvriendelike afskrikmiddels toegepas word. Met erkenning aan navorsing en skrywes deur drs. David Allan, Rob Little, Gerhard Verdoorn en mnr. Kevin Shaw van CapeNature.
Odendal is die voorsitter van BirdLife Overberg en die Wes-Kaapse voëlforum. Hy woon op Hermanus.
Veral plaasdamme skep meer permanente en geskikte habitatte.