‘PLAE IS MODERNE LANDBOU SE EIE SKULD’
Hedendaagse boere sal monokultuurverbouing in vee- én saaiboerdery moet laat vaar as hulle die toenemende aanslag van onkruid en plae wil oorkom.
Só waarsku mnr. Walt Davis, bekende Amerikaanse beesboer en konsultant. Hy was ’n spreker op die jaarlikse boeredag oor herlewingslandbou op die plaas van mnr. Gail Fuller, buite Emporia in die Amerikaanse deelstaat Kansas.
Landbouweekblad het dit danksy borgskappe van VKB en Pannar bygewoon.
Walt, wat baie jare gelede met holistiese landboupraktyke sy erfplaas van finansiële ondergang gered het, sê die gebrek aan biologiese diversiteit is die oorsaak van ’n beduidende aantal probleme wat deesdae boere in die gesig staar.
“Konvensionele landboupraktyke is ontwerp vir die produksie van monokulture van verskillende plante en die konsentrasie van groot getalle diere in klein areas, wat op produksiedoeltreffendheid gemik is.
“Hierdie afhanklikheid van monokulture, saam met algemene praktyke, soos chemiese beheer en grondbewerking, verminder die aantal verskillende plante, diere en mikroorganismes op en in die grond.
“Enkelvoudige gemeenskappe van plante en diere is inherent onstabiel. Die konstante aanslag van onkruid, siektes en plae wat die moderne plaas die hoof moet bied, is niks anders as die natuur se pogings om daardie organismes te hervestig wat nodig is vir ’n funksionerende gemeenskap van plante en diere nie. In só ’n stelsel word al die beskikbare hulpbronne – water, energie, minerale en ruimte – optimaal benut sonder om een te vermors.”
Die natuur “verpes” vermorste hulpbronne, verduidelik Walt. As sulke onderbenutting plaasvind, sal die natuur intree om al die leë ekologiese nisse met lewe te vul. Voorbeelde daarvan is peulplante en Rhizobia-bakterieë wat saam in stikstof-arm grond groei om stikstof simbioties te bind en te hersirkuleer; of dat party plante aangepas is om in die warm seisoen te groei en ander in die koue seisoen sodat sonlig oor so ’n lang tydperk moontlik in biologiese energie omgeskakel kan word.
Party bossies het weer die vermoë om bepaalde minerale waaraan daar ’n tekort is, te konsentreer en beskikbaar te stel.
“Daar is geen gemors-organismes in die natuur nie. Elkeen is net aangepas om in ’n bepaalde stel omstandighede te funksioneer. Baie van die plante wat ons as onkruid klassifiseer, die mikroörganismes wat ons as siektes klassifiseer en die diere wat ons as plae beskou, is nie soseer die probleem nie. In miskien al hierdie gevalle ontstaan die probleem weens ’n gebrek aan (bio-) kompleksiteit.”
Talle algemene landboupraktyke bied net korttermyn-voordele waarvoor daar met langtermyn-koste betaal moet word, sê hy.
Walt meen wetenskaplikes het ongelukkig in groot mate tot die probleem bygedra deur die korttermynvoordeel van elke nuwe chemiese middel, groter masjien of totaal nuwe tegnologie te “bewys”, sonder om die langtermynkoste in ag te neem.