‘NIE ’N BOELIE’
DISTELL, die grootste maatskappy in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, is druk besig met planne om wynboere meer volhoubaar te maak en só sy bullebak-beeld af te skud. Dit gaan egter nie ten koste van die maatskappy se mededingendheid in die mark gebeur nie.
“Die dae is verby waar ons eers in Desember vir boere kontrakte gee en ons riglyne oor pryse later bevestig,” het mnr. Richard Ruston, besturende direkteur van Distell, op ’n gesprek met wynmedia by die Huis van J.C. le Roux op Stellenbosch gesê.
Distell se meganismes om druiwepryse te bepaal en kontrakte net weke voor parstyd te sluit, het gelei tot ’n “persepsie dat ons die boelies in die bedryf is”.
Ruston sê boere moet egter nie uit die oog verloor dat Distell voorheen ook ’n konstruktiewe rol in die bedryf gespeel het nie, soos om altyd ’n druifkoper in die laaste instansie te wees. Die maatskappy ondersteun ook boere met kontantvloei tydens die produksieseisoen.
“Die boere se kwellinge is egter nie ongegrond nie. Ons besef hoe belangrik dit is om plase volhoubaar te bestuur, daarom weet ons ’n prysverhoging van 2% sal boere uiteindelik na bankrotskap stuur. Ons aanvaar die tyd is ryp vir ’n prysingryping.”
KOMPROMIS
Volgens Ruston probeer hulle die afgelope agt maande ontsyfer hoe hulle druiwe op ’n meer volhoubare manier gaan verkry, sonder om mededingendheid in die mark in te boet. “Ons het na die hele bedryf gaan kyk en met ’n waardestrategie vir verkryging vorendag gekom.”
Vir die “4th Street-fenomeen” (die maatskappy se intreevlak-wynhandelsmerk wat die vinnigste groei ter wêreld toon) wil hulle ’n “sekere boerderymodel” ondersteun en uitbou. Dit sal waarskynlik berus op groter opbrengste en meer weerstandbiedende wingerde. Wat premiewyne betref, lyk die prentjie anders, want in daardie spektrum van die mark kan Distell bekostig om duurder druiwe te koop.
“Die boere dring aan op wat die syfer moet wees en hoe vinnig ons dit moet regstel, maar ons moet ook mededingend bly. Almal baklei oor dieselfde verbruikers grondslag. Ons moet dus mooi gaan nadink oor wat ons kan bekostig.
“Ons moet ’n plek tussenin vind waar almal tevrede is – boere is volhoubaar en ons is mededingend in die mark. Dis meer soos o mop skeermeslemmetjies te loop as wat dit is om op ’n styfgespande tou te stap.”
Die maatskappy wil verantwoordelik wees wanneer dit kom by kontraktering en regstellende maatreëls, maar verskillende sektore van die bedryf sal met verskillende prysverhogings tevrede moet wees.
ONSEKERHEID
Ruston sê daar is veral uit die geledere van Stellenbosse wynboere onsekerheid en ontevredenheid oor Distell.
“Deur ons klem te lê op sekere handelsmerke, groter duidelikheid oor markte en sekerder vooruitskouings, kan ons nou met die boere gesels oor die pad vorentoe. Ons gaan beslis die reis aanpak, hoewel dit nie maklik gaan wees nie.”
Hy wou nie uitwei oor die besonderhede nie, maar het gesê daar is wel ’n plan op die tafel.
“Stellenbosch het ’n oorvloed goeie wyn en ons het nie noodwendig ’n vraag daarna nie. Dis die werklikheid waarmee ons te make het.”
Distell was onlangs in die nuus oor verskeie van die sogenoemde Lusan-wynplase (’n gesamentlike onderneming met ’n Duitse maatskappy wat plase soos Alto, Stellenzicht, Le Bonheur, Neethlingshof en Uitkyk bedryf) wat die maatskappy van die hand gesit het. Dit het baie onsekerheid en gerugte oor die maatskappy laat ontstaan.
Ruston sê hulle het die plase verkoop omdat hulle hul handelsmerke, wins- en groeigeleenthede en bemarkingskanale indringend ondersoek het.
“Ons het besluit watter handelsmerke ons werklik kan uitbou tot skaalekonomie en sterk posisies, en hoeveel ons kan belê om hierdie handelsmerke werklik goed te laat vaar. Nou het ons sekerheid oor ons plase, die handelsmerke wat ons ondersteun en beter vooruitsigte oor die premieen hoofstroomdele van ons bedryf.”
‘Daarom weet ons ’n prysverhoging van 2% sal boere uiteindelik na bankrotskap stuur.’