Opbrengskompetisie: Só wen boer 2 jaar in ’n ry met mielies (en nou soja)
Om twee jaar in ’n ry as ’n wenner in die DuPont Pioneer Weeg-en-Wen-kompetisie aangewys te word is reeds ’n prestasie. Om dit boonop in twee afdelings reg te kry is merkwaardig. Mnr. Bernard Rabé van Fochville kraai vanjaar koning in die westelike produk
Hy het glad nie verwag om as een van die wenners in die kompetisie aangewys te word nie, vertel mnr. Bernard Rabé in sy kantoor op die plaas Tweefontein net buite Fochville. “Die afgelope seisoen was een van die lekkerste seisoene met die minste spanning oor plantegroei en reën wat ons nóg beleef het. Ons kon asem skep, maar nou is ons weer terug by die fyn somme maak en fyn beplan,” sê hy.
BOBAAS-MIELIES
Hy sê dat hy nie spesiaal veranderinge aan sy beplanning aangebring het met die doel om vanjaar se kompetisie in die mielie-afdeling te wen nie. “Ons stel elke jaar vir onsself ’n opbrengsmikpunt na gelang van wat ons verwag die jaar se klimaat en reënval gaan bied. Dit beïnvloed onder meer ons bemestingspeile en plantestand.”
Hy verduidelik dat die boerdery se bemesting afwisselend toegedien word met beter kolle wat meer bemesting kry. “Ons werk op ’n gemiddelde, wat beteken dat waar die beste opbrengste op ’n spesifieke kol opgetrek word, die res sal volg. Ons mikpunt in die 2015-’16-seisoen was sowat 4 ton/ha, terwyl die afgelope seisoen se mikpunt 5,5 ton/ha was.”
Die rede daarvoor, sê Bernard, was weens hoër reënvalvoorspellings vir die 2016-’17-seisoen. Die vorige seisoen het hy ook ’n ander tipe grond vir die kompetisie gekies. “Die reën het ’n groot invloed gehad. In 2016 het ons na grond gaan soek met ’n keerlaag, aangesien dit dié soort grond is wat in droë jare ’n beter opbrengs gee. Vanjaar weer het ons die diep Huttongrond gaan opsoek wat meer geskik is vir natter jare.”
Die grondprofiel is ’n uiters belangrike faset om ’n hoë opbrengs te behaal. Bernard sê hy gebruik rooster-monsterneming en karterings van sy lande om die opbrengspotensiaal van die grond te bepaal. “Ons lande bestaan hoofsaaklik uit Hutton-tipe grond met ’n klei-inhoud van sowat 18%.
“Daarmee saam dien ons kalk toe soos nodig, wat alles volgens ’n afwisselende toedieningskedule geskied. Elke toediening vind plaas volgens ons geskiedkundige stroperdata, opbrengspotensiaal en kartering. Dit is ’n stelsel wat die inligting sinvol saamstel en ons in staat stel om presies die nodige toedienings te maak.”
Bernard sê die kalktoedieningsprogram
vereis dat kalk op elke land ten minste elke vyf jaar toegedien moet word. Hy strooi ook sy dolomitiese en kalsitiese kalk afsonderlik uit. “Vir my is dit ’n baie belangrike faktor: Alles moet so presies en akkuraat as moontlik plaasvind. Dit is ook waarom ek so belang maak met presisieboerdery, want wat jy bestel en insit is wat jy neersit. En jy kan die regte hoeveelhede op die regte plekke sit.”
Wat grondbewerking voor planttyd betref, sê Bernard hy is nie rigied in sy benadering nie. “Ek werk soos die grond my toelaat. Onthou, grond en bossies (onkruid) is amper dieselfde faktor deurdat almal baie goed bestuur moet word. ’n Groot gedeelte van ons opbrengs word amper meer bepaal deur die teenwoordigheid van onkruid as die grond.
“In ’n ideale wêreld sou ek net geenbewerking wou toepas, want jy doen net jou bespuitings en jy karring nie aan die grond nie, maar onkruide veroorsaak egter dat dit nie altyd moontlik is nie. Die enigste bewerkings wat ek standaard inbring, is om die kalk in die grond in te werk met ’n skotteleg of ploeg, na gelang van of daar keerlae is of nie.
“Uiteindelik gaan die bewerking egter oor die bestryding van onkruid. As daar bossies is, gebruik ons ’n skottelploeg. As daar meer bossies is, ploeg ons hulle. En as daar nie bossies is nie, pas ons geenbewerking toe.”
Voor planttyd word die lande afwisselend met vloeibare ammoniumnitraat 21 bemes. “Die peile van die bemesting hang af van die variasies op die spesifieke land se kaart, maar ons dien gemiddeld sowat 120 kg stikstof per hektaar toe. Op party gedeeltes
Vir my is dit ’n baie belangrike faktor: Alles moet so presies en akkuraat as moontlik plaasvind.
kan dit egter wissel van net 60 kg/ha tot 200 kg/ha – ons bemes baie ten opsigte van opbrengspotensiaal.”
’n Kunsmismengsel van 3:2:1 (22) word tydens planttyd toegedien met peile rondom 120 kg/ha stikstof (N), 25 kg/ha fosfor (P) en sowat 15 kg/ha kalium (K).
Bernard konsentreer nie op ’n spesifieke mieliekultivar nie, maar gebruik pakkette van verskillende saadmaatskappye. “Ons probeer om sowat drie van ’n saadmaatskappy se beste mieliebasters aan te plant. Dit is moeilik om die regte baster vir ’n jaar te bepaal omdat geen twee jare presies eenders is nie. Die wenner-baster 2880 PHI uit die Pioneer-stal het vanjaar baie goed gepresteer op ons Hutton-tipe lande. Dit is ’n wit mieliebaster met die Bt-geen. Dit is ’n medium-lang groeier wat na my mening een van die beste basters is wat ons die afgelope jare aangeplant het. Ons gemiddelde opbrengs oor die afgelope paar jaar wys ’n verskil van 900 kg/ha tussen geel en wit mielies.”
Omdat Bernard ook sojabone aanplant, word die mielies in rywydtes van 76 cm geplant, met die plantdigtheid wat wissel na gelang van die opbrengspotensiaal. “Ons gemiddelde plantdigtheid op droëlande is sowat 27 000 plante per hektaar.”
SKADE WEENS BAIE REËN
Die afgelope seisoen se hoë reënval het wel ook skade veroorsaak. “Ons normale reënval vir die gebied is sowat 600 mm per jaar, maar ons het vanjaar altesame 960 mm gehad, wat buitengewoon hoog is. Ons het beslis versuipskade gehad, wat ook die opbrengs beïnvloed het,” sê Bernard.
“Dit het ook die kompetisieopbrengs afgebring. Die rede daarvoor is dat die kolle wat in droë jare hoë opbrengste lewer, vanjaar versuip het en tweedens was ons hitte-eenhede ook nie vanjaar soveel soos tydens verlede jaar nie. Verder het ek nie veel veranderinge aan my aanplantings vanjaar gemaak nie.”
Ten spyte van ’n laer opbrengs vergeleke met verlede jaar se opbrengs van net meer as 11 ton/ha, het Bernard steeds in vanjaar se kompetisie geseëvier met ’n opbrengs van net meer as 9,5 ton/ha. Sy totale gemiddelde opbrengs vir mielies was amper 8 ton/ha.
SOJABONE BRING OOK SY DEEL
Bernard vertel dat die boerdery oor die afgelope paar jaar ook welslae met sy sojaboonaanplantings gehad het. “Ongelukkig was ons opbrengs verlede jaar nie heeltemal hoog genoeg nie, maar ons kon wel vanjaar ’n baie goeie opbrengs behaal.”
Hy verduidelik dat daar vanjaar bemes is vir ’n opbrengs van sowat 2 ton/ha. “Ons plant ook nie ons sojabone afwisselend nie, maar direk – van hoekpaal tot hoekpaal.”
As bemesting is gewone KNP, ’n korrelkunsmis, uitgestrooi. “Dit is ’n 1:2:3-kunsmis wat ook boor en swael bevat. Ons ent ook ons sojabone om te verseker dat hulle doeltreffend stikstof in die grond bind. Die kunsmis het op sowat 10 kg/ha N, 20 kg/ha P en 40 kg/ha K uitgewerk met ’n plantdigtheid van 380 000 plante per hektaar.”
Bernard sê dieselfde beginsels word toegepas met sy lande vir sojabone as vir mielies. “Ons ontleed die grond deeglik en enige tekorte word chemies reggestel. Met ons sojabone wil ons graag die grond se pH hoër as 5 hê. In hierdie geval kan jy eerder meer kalk gee en minder kunsmis, aangesien ons suur gronde het.”
Die kultivar wat Bernard aangeplant het, was Agricol se Don Mario 6.8i RR . “Ek is baie beïndruk met die kultivar. Dit het al die eienskappe waarna ’n boer soek: Hy groei hoog en dra sy peule hoog, wat beteken dat dit nie te moeilik is om hom te stroop nie.
“Die stroopgemak van ’n kultivar is vir ons uiters belangrik omdat die stroopproses met hierdie gewas moeilik kan wees. Jou toerusting moet 100% reg wees, anders gaan jy sukkel om sojabone te stroop,” sê Bernard.
Die sojabone is op ’n land met Avalon-tipe grond aangeplant. Bernard sê dit is egter ’n diep Avalon met ’n keerlaag wat op sowat 1,5 m voorkom. “Dit is definitief een van ons mooier lande vir sojabone, sonder veel gradiënte.”
Die sojabone het vanjaar uitstekend presteer en die wenopbrengs was 4,4374 ton/ha. Sy gemiddelde sojaboonopbrengs was bykans 3 ton/ha.
STEEDS ’N TOEKOMS VIR GRAAN
Die boerdery het vanjaar al sy graan aan Senwes gelewer, maar Bernard lewer ook gedurende ander seisoene aan verskillende graankopers, waaronder Unigrain.
Ondanks ’n lae mielieprys, sê Bernard hy bly optimisties. “Ek is oortuig daarvan daar is steeds ’n goeie toekoms vir Suid-Afrikaanse graanboere, al het ons ’n swaar seisoen ten opsigte van prys gehad. Ons was al op hierdie soort plek gewees waar boere voel hulle kan nie daar uitkom nie, maar die geskiedenis wys ons het voorheen oorleef, en ons sal weer.
“Ek glo ons moet bly probeer om hoër opbrengs te behaal, terwyl ons na moontlike geleenthede soek om te bly bemark. Ek glo almal in die bedryf voel dieselfde daaroor.”
‘As daar bossies is, gebruik ons ’n skottelploeg. As daar meer bossies is, ploeg ons hulle. En as daar nie bossies is nie, pas ons geenbewerking toe.’