Vernuwing: Brits-kwekery se plan vir siektebestande plantjies
In ’n hoogs mededingende bedryf gee vernuwende entmetodes en ’n stelsel wat twee kritieke weke uit die produksietyd sny, die MultiPlant-kwekery in Brits ’n belangrike voorsprong.
Die MultiPlant-kwekery in Brits is ’n mengsel van gesofistikeerde kweekhuise, ’n onberispelike plante-hospitaal en ’n modderbad waar komkommeren waatlemoenplantjies op pampoen-wortelstokke en kommersiële tamatiekultivars op wilde-tamaties geënt word.
Die baasbreine agter hierdie vernuwing wat tot siektebestande plante lei, is mnr. Len du Toit en sy broer, Francois, wat die afgelope 21 jaar aan die stuur van MultiPlant staan.
Vir Len is vernuwing en die bereidwilligheid om risiko te loop die twee balanseergewigte wat sy besigheid se ontwikkeling aan die voorpunt van die groentekwekerybedryf hou.
MultiPlant se ontwikkeling was ’n verkenningsreis waarvan die geslaagde rigtings slegs terugskouend duidelik geword het. Vir Len het ’n enkele beginsel van die begin af gegeld. “Ons moet onsself deurentyd van enige ander kwekery kon onderskei deur ongeëwenaarde waarde aan ons kliënte te lewer.”
Op 21-jarige ouderdom, meer as 21 jaar gelede, moes Len sy ma en pa se besigheid noodgedwonge oorneem nadat hulle in ’n motorongeluk oorlede is. In daardie stadium was Francois reeds op die plaas. Vir harde werk was die broers nie bang nie, maar dit was gou duidelik dat harde werk alleen nie ’n volhoubare onderneming sou verseker nie.
GEDWONGE VERNUWING
“Vir kommersiële produsente om hul eie plantjies te kweek en dus nie van ’n verskaffer afhanklik te wees nie, is nie moeilik nie en dit bespaar hulle geld. Ons is gedwing om met vernuwing ’n beter produk op die mark te bring as wat hulle self kon produseer.”
Hierdie noodsaaklikheid het Len in twee rigtings gestuur. Die een was om vernuwing van polistireen-saailaaie te ondersoek en die tweede was om ’n topgehalte-plantjie wat nêrens anders beskikbaar is nie, aan die boer te verskaf.
“Ons het begin soek na ’n manier om plantjies te kweek wat teen grondgedraagde siektes bestand is om betroubaarder produksie te verseker. Ons het navorsing gedoen en met behulp van kontakte in Nederland uitgevind daar is sekere stamme van pampoen, wilde-tamatie en ander gewasse wat teen grondgedraagde siektes bestand is en in droogte en hitte beter as kommersiële tamatie-,
komkommer- en waatlemoenkultivars presteer. Om dit te gebruik moes ons kommersiële kultivars op hierdie andersins onbruikbare plante ent.
“Die enting-tegnologie is al baie oud en word reeds jare lank in kommersiële vrugtebedrywe aangewend. Om kwesbare groenteplantjies, wat skaars vyf sentimeter hoog staan en net twee tot vier weke oud is, met ’n mes middeldeur te sny en op mekaar te ent, is ’n delikater werk as om ’n vrugte-ogie in die middel van winter op ’n onderstok te ent,” sê Len.
BEHEER OMSTANDIGHEDE
Om hierdie tegnologie in hul besigheid toe te pas, moes die Du Toits ’n plante-hospitaal bou waar presisietegnologie toegepas word en waar fitosanitêre omstandighede verseker kon word om besmetting te voorkom. Die aanleg, wat in Januarie 2013 gebou is en soos ’n versameling operasiesale lyk, verseker dat die temperatuur en humiditeit volgehou presies beheer kan word.
Ander kwekerye in Suid-Afrika is nie skaam vir vernuwing en die gebruik van die voorste tegnologie, soos klimaat-beheerde kweekhuise, nie. Buiten Hishtil, die Israeliese maatskappy wat sedert 2007 met die samewerking van ZZ2 ook tamatieplantjies op wortelstokke ent, is daar nie ’n ander kwekery buiten MultiPlant wat die hoogs uitdagende groente-entingtegnologie kommersialiseer nie.
“Met die entproses kan ons komkommerplantjies produseer wat teen Fusarium bestand is. Die wortelstok wat ons vir die komkommerplantjies gebruik, is ’n baster tussen
Cucurbita mushata en C. maxima, twee ou pampoensoorte uit die Ooste, en is veral vir die boere van Vredendal, wat baie sukkel met
Fusarium-besmetting, baie werd, omdat hulle van ’n oes verseker is.
“Met die tamatieplantjies ent ons kommersiële kultivars op ou, wilde-tamatierasse en dit bied kommersiële boere plantjies wat ‘langer bene’ het en ’n meer eenvormige vrug van hoër gehalte vir langer kan produseer,” sê Len.
Hierdie geënte plantjies, na gelang van die gewas en die koste van die saad, kos tussen R2 en R6 per plantjie meer as saailaai-plantjies. Indien ’n tamatieprodusent R4/kg vir tamaties verdien, moet hy dus hoogstens 1,5 kg, oftewel 8 tot 12 tamaties per plantjie, meer met MultiPlant se geënte plantjie kan oes en bemark as met ’n konvensionele plantjie om die hoër koste te regverdig.
VERGEMAKLIK PRODUSENT SE LEWE
Met Len se reise het hy in 2011 op die kwekeryblokkiebeginsel afgekom. Die moderne kwekeryblokkie bestaan uit ’n plantmedium wat deur gom aanmekaar gehou word. Geen saailaai word dus benodig nie. Daar is kunsmatige
gom wat vir hierdie doel aangewend kan word, maar MultiPlant het besluit om erdwurmmis te gebruik (sien KASSIE bo). Die plante word binne-in die kwekery vir 10 tot 21 dae uitgegroei. “Die blokkiestelsel halveer met gemak die tyd wat dit duur om van ’n saadjie ’n plantjie te maak.
“Hierdie blokkiestelsel, wat uiteraard ’n baie goeie voedingstofinhoud het danksy die gekomposteerde materiaal en erdwurmmis, tesame met die presisiebeheer wat ons oor ons kweekhuise kan uitvoer, verseker ook dat die plantjies beter presteer op die kommersiële boer se plaas. Anders as met die polistireen-saailaaie ervaar die jong plantjies geen stres met die uitplantproses nie en is
daar geen onderbreking in die groeiproses nie. Na gelang van die omstandighede kom hierdie plantjies 10 tot 14 dae vinniger in produksie op die kommersiële boerdery as konvensionele saailaaiplantjies.”