Lesse uit Wes-Australië: Verfyn só bewaringsboerdery
Wes-Kaapse boere kan produksiepraktyke, soos beheerde spoorverkeer en die bekamping van onkruid ná oestyd, met goeie gevolge toepas om vog te bewaar en hul afhanklikheid van onkruiddoders te verminder.
Die huidige droë winter in Wes-Australië toon hoe waardevol die toepassing van elke aspek van bewaringsboerdery is, sê dr. Ken Flower van die Universiteit van Wes-Australië in Perth. Die konsep is nie sonder probleme nie, maar ’n verandering in die opeenvolging van gewasse om kanola beter te laat opkom, beheerde spoorverkeer om vog te bewaar en verskillende maniere om deur oesreste te werk en onkruid te bekamp kan baie van die probleme oplos.
Die terugvoer wat hy vanjaar van boere kry, is dat “oesreste koning is”. Dit help om vog van die bietjie reën (sien KASSIE “WesAustralië ook droog” op bladsy 4) in die grond te bewaar. Koring-oesreste kan probleme veroorsaak, veral met die opkoms van kanolasade, terwyl sekere planters sukkel om deur al die materiaal te werk. Daarom word kanola ná ’n peulgewas geplant. “Peulgewasse lewer nie so baie oesreste nie, en kanola benodig baie stikstof, wat peulgewasse kan voorsien.”
Ken was een van die sprekers op Bewaringslandbou Wes-Kaap (BLWK) se onlangse Jack Human-bewaringsweek.
BEWERKING EN PLANTERS
Die meeste boere in Wes-Australië gebruik tandplanters omdat dit goed werk in die meeste grondtipes. “Boere verkies tandplanters omdat dit help om onkruiddoders, soos trifluralien, in te werk. Die nadeel van tandplanters is dat hulle sukkel om deur groot hoeveelhede oesreste te werk.”
Party boere gebruik deesdae dubbelrye (twin rows) om mededinging deur onkruide te verminder. Hulle gebruik meestal ’n spasiëring van 25-30 cm tussen enkelrye. “Hoe nader die plantrye aan mekaar is, hoe beter kan gewasse met onkruid meeding. Hoe nouer die spasiëring, hoe moeiliker word dit om oesreste te bestuur omdat daar meer tande in die stelsel is. Met die wyer spasiëring help dubbelrye om die kaal stuk in die middel te verklein en beter mededinging met onkruid te bewerkstellig.”
Hoogstens 4% van boere in Wes-Australië gebruik skyfplanters. Ken beskou skyfplanters as die “volgende stap” omdat hulle die grond minder versteur en deur dik oesreste kan werk.
Om die regte skyfplanter te kry, is dikwels ’n kwessie van probeer en tref. Een stelsel sal nie op alle plase werk nie. “Skyfplanters werk die beste by boere wat ingestel is op bewaringsboerdery en deur oesreste moet werk.”
Skyfplanters is geskik vir gebiede waar vog ’n beperking is, en ’n deklaag van oesreste ingespan word om vog in die grond te bewaar. “Boere vir wie dit belangrik is om vog op dié manier te bewaar, het maniere
gevind om deur die deklaag te werk, veral deur verskillende kouters aan die voorkant van die planters.”
Gegolfde kouters met 7-25 golwe is veral gewild. “Kouters met agt golwe sukkel om harde grond te binne te dring, maar kan oesreste sny en grond oorgooi, terwyl kouters met 25 golwe harde grond beter binnedring.”
Ander boere gebruik borrel-en-riffelkouters (bubble and ripple), wat deur oesreste kan sny en ’n redelike hoeveelheid grond kan oorgooi as ’n bietjie kunsmis ingewerk moet word.
Boere in Wes-Australië het maniere gevind om sekere ondergrondse beperkings, soos verdigting, met diep skeurploegbewerkings, op te hef. “Ná die bewerking gaan hulle terug na beheerde spoorverkeer, want as jy oor die bewerkte rye ry, gaan dit net weer verdig.”
Daar is ook boere wat skaarploeë eenmalig gebruik om onkruidsaad 30 cm onder die grond te begrawe en só die “weerstandwekker te herset”.
“Dis ’n eenmalige strategiese bewerking en daarna word geenbewerking weer toegepas.”
Hulle probeer ook verdigting biologies ophef met ’n dekgewas van voerradys, maar
sukkel om dit in die droë gebiede aan die groei te kry.
Nog iets wat getoets word, is insluitingsplate agter skeurploegtande. Dit help om die skeurploegvoor oop te hou. “Dit verg meer krag, maar dit hou die grond oop sodat die bogrond in die voor kan val. Boere het gevind as hulle ’n skeurploegbewerking doen en nie regstellings maak nie, maak die vore weer toe en die doeltreffendheid van die skeurploegbewerking hou dan nie baie lank nie.
“Hulle probeer om ’n bietjie van die organiese koolstof in die bogrond of die kalk wat toegedien is, in die skeurploegvoor te kry en die plate help daarmee.”
Hy beveel nie die eksperimentele hulpmiddel aan nie, maar hulle hoop dit hou die dieper grond sagter en lewer beter opbrengste.
BEHEERDE SPOORVERKEER
Ken sê 25% tot 30% van die boere in Wes-Australië pas beheerde spoorverkeer toe. Hy meen dis ’n logiese uitvloeisel van geenbewerking. “As jy nie meer bewerk nie, maar aanhou om oor die kamp te ry, kan jy opbrengs benadeel.”
Foto’s wat met behulp van afstandswaarneming geneem is, toon dat waar die spore is, is die biomassa en opbrengste laer as op die res van die land. “As jy nie gedurig oor die hele kamp ry nie, word die grond mettertyd losser en kan wortels makliker indring.”
Hy sê beheerde spoorverkeer is nuttig om vog goed te benut, want vog versamel in die ou stoppelrye. “As jy 2 cm-akkuraatheid
op jou outomatiese stuur het, kan jy elke jaar net langs die ou ry plant sodat graan in baie droë toestande kan opkom.”
As dit nat is waar koring ná koring geplant word en daar is vrees vir siektes as die saad te na aan die vorige jaar se stoppel geplant word, is dit moontlik om met beheerde spoorverkeer tussen die rye te plant.
Hy waarsku dat beheerde spoorverkeer nie in een jaar in werking gestel kan word nie. “Dit kan 12 jaar kos om by ’n punt te kom waar alle wiele ewe wyd loop.”
Hoewel hy meen dit sal goed wees as Wes-Kaapse boere dit toepas, het hy bedenkinge oor die aanvaarbaarheid daarvan in sekere graangebiede van die Wes-Kaap.
WATTER WISSELBOUSTELSEL?
Daar is nie vaste voorskrifte vir die afwisseling van gewasse nie. Dit hang af van die prys van graan, reënval en of daar vir vee voorsiening gemaak moet word.
Die meeste boere in Wes-Australië plant koring of gars, peulgewasse en kanola. Waar dit droër is en kanola meer riskant is, is 60% van die aanplantings gewoonlik koring, 6% gars, kanola 12%, lupiene 6% en 12% herstellende weidings, soos medics of serradella. In die geval van herstellende weidings is dit goed om ’n hardskalige of dormante saad te gebruik wat lank kan hou om as ’n soort dekgewas te dien en stikstof te bind. In die dele waar dit meer reën, is die verskeidenheid gewasse groter en maak kanola ’n groter proporsie uit. “Kanola is meer riskant as koring of gars.”
Daar is ook boere wat oorlêstelsels toets. “Hulle sal dalk drie jaar koring plant, en dan ’n peulgewas plant of die land laat oorlê om water en stikstof vir die volgende kanola-oes te bewaar. As ons ons grond wil verbeter en koolstof opbou, is oorlê nie goed nie.”
Hulle stel ook dekgewasse, soos ’n mengsel van wieke en hawer, op die proef. Hy glo in die beste stelsels is die peulgewaskomponent baie hoog “met ’n bietjie graan” om bedekking te gee omdat peulgewasstoppel vinnig afbreek. Die dekgewasse kan liggies bewei of gelos word om ’n groot hoeveelheid stikstof vir die volgende gewas beskikbaar te stel en meer verskeidenheid in stelsel te kry.
Hoe ook al, boere moet ’n plan beraam om die grond bedek te hou. Ken sê mnr. Rolf Derpsch, bewaringsboerderykenner van Paraguay, het gevind geenbewerking sonder oesreste is slegter as konvensionele bewerking waar oesreste ingeploeg word.
’n Betreklik onlangse ontwikkeling in Wes-Australië is pogings om onkruid tydens of ná oes te verminder. Een van die maniere is om die onkruidsaad wat in die kaffraksie van die oesreste is, saam met die kaf op die wielspore te plaas met ’n spesiale “geut” wat agter die stroper geheg word. “Deur onkruidsaad in ’n beperkte gebied te plaas, versprei jy nie die saad oor die land nie. Jy kan dit dan op verskillende maniere bestuur, byvoorbeeld deur dit te laat komposteer of net die ry met parakwat te bespuit.”
Onkruiddoderweerstand is ’n groot probleem in Wes-Australië en boere het gereeld stoppellande gebrand. “Deur te brand, verminder jy die onkruid wat oorgedra word, maar die proses kan katastrofies wees. As die wind sterk waai, kan organiese materiaal en bogrond verlore gaan. Dis regtig nie volhoubaar nie.”
Die boere het toe begin om net kaf en strooi wat onkruidsaad bevat, in windrye te brand, sê Ken. “Dis doeltreffender as om die hele kamp te brand. Jy kry baie hoër temperature in beperkte gebiede.”
Hy meen dis dalk ’n “onmoontlike scenario” in die Wes-Kaap waar hoër opbrengste behaal word. Dit vereis ook baie arbeid, kundigheid en bykomende bestuur.