Toeka se skatte
Die Swartlandse plaas Goedgedacht was erg verwaarloos toe die nuwe eienaars met opruimingswerk begin het. Dit het egter nie opgehou by die geboue en boerdery nie, maar hulle maak ook ’n verskil in mense se lewens.
Goedgedacht buite Riebeek-Kasteel is in 1704 aan Pieter Robbertse toegeken – in dieselfde tyd as die naburige Kloovenburg en Zonkwasdrif – en sedert 1992 besit Peter en Anne Templeton, albei maatskaplike werkers van Kaapstad, die plaas.
“Ons wou ’n plaas koop waar vermoeide stedelinge se siele kon herstel. Toe ons op ’n wintersdag met die slegte paadjie opry na die Goedgedacht-huis, teenaan die Kasteelberg in die Riebeeksriviervallei, was ons verlief op die omgewing. Al drie damme was tot oorlopens toe vol, die wingerdblare was goud en rooi en van die voorstoep af kon ons Tafelberg sien,” sê Anne.
“Ons het niks van boerdery af geweet nie en vir baie jare daarna ook nie weer die damme so vol gesien soos daardie eerste jaar nie. Maar gou was dié verwaarloosde plaas van 117 ha ons eiendom. Ons het dadelik olyfbome begin plant.”
Hulle het probeer om die wingerd reg te ruk, maar baie was oortrek met bankrotkweek en ná twee jaar het die Templetons besluit om dit eerder met olyfboorde te vervang.
“Dit sou té veel kos om die wingerde te rehabiliteer. Toe die olyfbedryf kort daarna vlamvat, was Goedgedacht een van die eerstes om olywe te lewer.”
Nou wen die plaas gereeld toekennings vir sy ekstra suiwer olyfolie en olyfprodukte.
SKUUR VAN MODDER EN STROOI
Die gerestoureerde plaashuis is in kantore en ruimte vir vergaderings, konferensies en onthale omskep. Die kapel en slaapplek vir 85 mense laat hulle toe om dié funksies oor naweke aan te bied.
“Die huis het aan die kombuiskant begin ontwikkel, met die voorkant en gewel (uit 1825) wat later aangebou is. Ons bewaar die bakoond en vuurherd-ruimte, al word dit nie meer gebruik nie. Toe die solder onlangs omskep is in ekstra kantoorruimte, het die argitek tekens van ’n eertydse brandsolder gevind.”
Daar is ook ’n skuur, gebou van modder en strooi, met handgemaakte balke, baie hout en breë vensterbanke. “Ongelukkig het ons geen idee van hou oud die skuur is nie. Die historiese argitek wyle Pat Riley meen dis een van die mooistes in die Wes-Kaap. Dit is tans ons konferensie-en-vakansiesorg-sentrum.
WELSYNSWERK
Destyds het die drankmisbruik en gesinsgeweld onder plaaswerkers hulle ook geskok.
In Augustus 1993 het Peter en Anne die Goedgedacht-trust vir welsyns- en opvoedkundige werk gestig. Hul doel was om die plaas winsgewend te bestuur en hul wins terug te ploeg in welsynswerk. “Ons wou ’n veilige ruimte vir die verwaarloosde kinders skep sodat hulle menswaardig kon ontwikkel en ’n volwaardige beroep nastreef.”
Hulle het die plaaskinders geleidelik begin bemagtig deur dagsorg, asook naskoolse en vakansie-sorgprojekte te vestig. Later is jeugaande en vrouegroepe ook ingestel. “Twintig jaar later is ons kinders se oë blink, hulle is gesond en gemotiveerd. Tienerswangerskappe het drasties verminder. Aanvanklik het 98% van die kinders nie eens by die hoërskool uitgekom nie; tans is 91% van Goedgedacht-trust se 120 personeellede ons eie jongmense – almal mét matriek.
“Ons konsep staan bekend as Path out of Poverty (POP) – dis ook al die “olyfpad uit armoede” genoem. Ons het 27 welsynsprogramme wat oor die Swartland heen en selfs na die Karoo versprei het. Ons het baie hard gewerk hier, maar ons leef in die paradys.”
Sarie Marais-Nell besoek Suid-Afrikaanse plase op soek na skatte van weleer wat soms vergeet word, maar steeds ’n groot rol speel in die plaas se funksionering.