Landbouweekblad

T-beensteak met roosmaryne­n-knoffelbot­ter

-

Ek hou daarvan om gegeurde botter as alternatie­f vir vleissous te gebruik. Dit is minder moeite om voor te berei en omdat jy die botter vooraf maak, kan jy al jou aandag op die steak toespits. Die kombinasie van geure in hierdie resep is eenvoudig, dog perfek.

4 T-beensteaks, teen kamertempe­ratuur Olyfolie Seesout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Roosmaryn-en-knoffelbot­ter

120 g gesoute botter, teen kamertempe­ratuur 1 knoffelhui­sie, fyn gedruk 5 ml roosmarynb­laartjies, baie goed fyn gekap Vars gemaalde swartpeper

Berei die roosmaryn-en-knoffelbot­ter minstens 3 uur voor die steak gaargemaak word. Klop die botter met ’n houtlepel tot lig. Smelt ’n halwe teelepel van die botter in ’n klein kastrollet­jie en braai die knoffel daarin oor baie lae hitte tot die botter geurig is, maar die knoffel moenie verkleur nie. Verwyder van die hitte en voeg die roosmaryn by. (Die effense hitte sal die vlugtige olies in die kruie vrystel wat vir selfs beter geur sal sorg.) Voeg ’n bietjie swartpeper by. Voeg die knoffel-, kruie- en pepermengs­el by die botter en klop goed tot deurgemeng en lig. Skep die gegeurde botter in ’n bakkie, bedek en verkoel tot benodig, maar haal die botter ongeveer 15 minute voor etenstyd uit die yskas.

Bedruip die steaks liggies met olyfolie en smeer dit goed in elke steak in. Geur elke steak liggies met sout en peper net voor dit gaargemaak gaan word. Maak ’n swaarboom-riffelpan baie warm sonder enige olie of botter daarin. Sit elke steak op sy (vet) kant in die vuurwarm pan neer en braai vir minstens 1 minuut. Sit nou die steaks plat neer en braai vir 2-3 minute aan elke kant, tot goudbruin en gaar na smaak. Verwyder van die hitte, laat rus die vleis vir ’n minuut of twee en sit voor met ’n skeppie van die roosmaryn-en-knoffelbot­ter, skyfies en groente of slaai. Lewer 4 porsies.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa