Wiele

Ons be­stuur Nissan se die­sel-Qashqai, wat ver­stom met sy lae brand­stof­ver­bruik. Die Vol­vo XC40 en die Opel Grandland X tree ook aan vir toets­rit­te, en ver­al die Vol­vo ge­dra hom flink op gruis.

Landbouweekblad - - Inhoud -

OPEL GRANDLAND X 1.6T A/T COSMO

Nie lank ná Opel van Ge­ne­ral Mo­tors weg­ge­kom het nie, het Frank­ryk se PSA-groep (Peu­ge­ot/Citro­ën) hom ge­koop. Die eer­ste­ling uit dié hu­we­lik is die Opel Grandland X, wat sy on­der­stel en heel­wat me­ga­ni­ka met die in­druk­wek­ken­de Peu­ge­ot 3008 ge­meen het.

Die Grandland X is een van die ver­fynd­ste voer­tuie in sy klas. Teen kruis­spoed is wind- en pad­ge­raas so te sê af­we­sig, en die sit­plek­ke on­der­steun die ly­we deeg­lik. Dit maak die Grandland ’n goeie lang­af­stan­der. Die tur­bo-aan­ge­jaag­de pe­trol­en­jin van 1,6 li­ter het nie die ver­traag­de re­ak­sie wat som­mi­ge tur­bo-en­jins lam lê nie. Selfs met twee vol­was­se­nes, twee tie­ners en ’n klomp ba­ga­sie aan boord was daar geen te­kort aan krag nie.

Die ou­to­rat­kas is van die slim soort wat nie op die ver­keer­de oom­blik ’n rat haak nie. Ry ’n berg­pas van bo na on­der, en hy ver­staan die be­stuur­der wil in ’n la­er rat bly om die snel­heid te be­perk en die pad­hou­ver­moë te ver­be­ter.

Die Grandland het dus baie wat in sy guns tel, maar hy laat ook soms die bal uit sy han­de gly. Die knop­pies op die pa­neel­bord is klein en dit is soms moei­lik om te sien of hul­le aan of af is, soos die lug­ver­sor­ging se her­sir­ku­la­sie­funk­sie of die ver­hit­te ag­ter­ruit. Daar’s ’n funk­sie wat die be­stuur­der met ’n ir­ri­te­ren­de ge­luid waar­sku as sy haar baan ver­laat. ’n Mens kan dit af­ska­kel deur ’n klein knop­pie te druk, maar jy moet dit vyf se­kon­des lank in­hou.

Op ru­we grond­paaie was dit gou dui­de­lik dat die Grandland meer kar as veld­wa is. Selfs met ’n la­er band­druk was die rit stam­pe­rig. As jy daag­liks sleg­te paaie ry, is die Grandland X nie vir jou be­doel nie en sal die Toyo­ta CH-R of For­tu­ner meer ge­pas wees.

Oor­weeg ook die Grandland X En­joy-weer­ga­we vir ’n vet R100 000 min­der. Prys: R565 000.

NISSAN QASHQAI 1.5 DCI ACENTA PLUS

Die af­grys­li­ke brand­stof­pry­se in Suid-A­fri­ka, waar­van 40% van el­ke tenk in die Suid-A­fri­kaan­se In­kom­ste­diens se bo­dem­lo­se put ver­dwyn, dwing mo­to­ris­te om al­ter­na­tie­we te oor­weeg. E­lek­trie­se aan­dry­wing is ui­ters kos­te­doel­tref­fend, maar dis vir wei­nig men­se prak­ties. Dit laat ’n mens met klein die­sel­en­jins as op­los­sing, en nê­rens werk dit be­ter as in die Nissan Qashqai 1.5 dCi nie. En wat ’n ver­stom­men­de en­jin is dit nie . . . Ná ’n toets­rit van 60 mi­nu­te, teen 160 km/h, was die ge­mid­del­de ver­bruik ’n ska­me­le 6,4 li­ter/100km. In stads­ver­keer was die ge­mid­del­de soms min­der as as 4,5 li­ter/100km. Bo­ge­noem­de is on­ge­veer die helf­te van wat ’n Toyo­ta For­tu­ner (die­sel) in soort­ge­ly­ke toe­stan­de ver­brand en ’n der­de van dié van die Qashqai se V8-stal­maat, die Pa­trol. Moe­nie dink lae brand­stof­ver­bruik is die e­nig­ste kaart in die Qashqai se mou nie. Daar’s ’n spul goed wat in sy guns tel, soos ’n sag­te en ge­rief­li­ke rit en ’n stil ka­juit – selfs teen ’n hoë snel­heid. Die bin­ne­kant is ruim en daar’s ge­noeg plek vir lang­been-tie­ners en ’n spul sport­sak­ke.

Die die­sel­en­jin is y­we­rig, maar nie ui­ter­ma­te krag­tig nie. Dit is ge­kop­pel aan ’n ses­gang-hand­rat­kas met ’n heer­li­ke, láááng ses­de rat. Die rat­skui­we is nie van die glad­ste nie, maar die en­jin sal nie som­mer vrek as jou kop­pe­laar-en-rat­ko­ör­di­na­sie nie per­fek is nie.

Die ge­hal­te van die bin­ne­ruim is goed, maar dis nie op die Opel Grandland X (hier­naas) se pre­mie­vlak nie en voel ook nie so ste­wig ge­bou nie.

Die Qashqai 1.5 dCi se lae ver­bruik kan ’n groot ver­skil aan ’n mo­to­ris se brand­stof­re­ke­ning maak en hy gaan haar dalk net so goed dien as ’n For­tu­ner of E­ve­rest, wat om­trent twee keer so dors is. Prys: R421 900.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.