Landbouweekblad

Hart tot hart

- DS. KOBUS VAN DER WESTHUYZEN

Enige bedryf sonder ‘I believe’ is maar ’n droewige affêre.

In die woonbuurt waar ek soggens stap om my koerant te gaan koop, sien ek gereeld ’n vissersboo­t wat langs die pad geparkeer staan. Die boot se naam is in groot, rooi letters teen sy linkerkant geverf: “I believe.” Dit het my nuuskierig­heid erg geprikkel. Dis glad nie ’n onvanpaste naam vir ’n kleinerige boot wat die Weskussee sy jagveld gemaak het nie, dink ek by myself, maar ek bly wonder wat die eienaar se motivering was vir dié gepaste naam. Dalk is hy ’n eenvoudige, gelowige man wat weet dat boothengel in die onbarmhart­ige see beslis nie vir sissies is nie.

Daar is so baie dinge wat verkeerd kan loop. Mislukking, teleurstel­ling en gevaar is altyd daar om jou pad te kruis. Wanneer die stuurman soggens “I believe” se neus in die koue water stoot, weet hy nie of die vis gaan byt nie.

Onlangs loop ek toe die eienaars van die boot raak. Jokkie en Marinda is in beheer van hul eie viswinkel hier naby en hulle is werksaam in die bedryf.

By Marinda wil ek toe weet: “Waar kom hierdie naam van jul boot vandaan?” Met ’n breë glimlag verduideli­k sy: “Op Jacobsbaai is ’n sekere oom Baard wat ook daar doenig is. Wanneer mense soms vir hom vra of die vis gaan byt, lig hy sy skouers en antwoord graag: ‘I believe.’” Toe Marinda-hulle later die boot kies, was die naam klaar gekies en van doop bedien: “I believe”! Voor ek loop, laat Marinda my verstaan dat daar vir hulle ook iets meer in die naam steek. Vir hulle is daar ’n stukkie getuienis, want enige bedryf sonder “I believe” is maar ’n droewige affêre.

En hoe waar is dit nie! Voordat jy volgende keer uitgaan om jou dagtaak te gaan verrig, gaan eers op jou knieë en sê vir Een wat oor jou lewe en lotgevalle beskik: “I believe.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa