OPTIMISME KAN VERWOESTING VAN PANDEMIE TEENWERK
HOEWEL die landbou tot ’n noodsaaklike bedryf verklaar is en as sodanig kwytgeskeld was van die strengste inperkingsregulasies, ervaar die bedryf in die geheel, maar veral sekondêre landboubedrywe die gevolge, sê dr. Peter Oberem, besturende direkteur van Afrivet.
Hy meen egter mense se vreugde dat hulle die krisis oorleef het, sal almal uiteindelik aanspoor om te werk, te belê en te bestee.
Tans is die voedselproduksie-waardekettings werksaam, maar nie op optimale vlakke nie, wat ’n rimpeleffek ten opsigte van produksie veroorsaak het. Dit sal tot produkverliese lei.
Weens die sluiting van restaurante het die vraag na hoëgehalte-vleissnitte gedaal, in so ’n mate dat sommige voerkrale nie vee aankoop nie, wat hul ondernemings en werkgeleenthede in gevaar stel.
“Net so het die lewering by abattoirs gedaal. Aangesien boere gedwing word om meer diere wat markgereed is, terug te hou, moet hulle meer bestee aan voer en roetineveemiddels, soos entstowwe en aanvullings, terwyl hulle nie ’n inkomste uit hierdie diere verdien nie,” sê Oberem.
UITGAWES BESNOEI
“Ons ervaar reeds dat boere minder noodsaaklike en voorkomende medisyne koop. Die rimpeleffek op koöperasies is beduidend. Namate hul omset daal, laat koöperasies hul voorraadvlakke daal. Dit raak weer hul verskaffers.”
Soortgelyke situasies heers in ander segmente, veral die pluimveesektor, waar die grootste kopers van braaihoenders – die kitskoskettinggroepe, soos KFC en Nando’s – weke lank moes sluit.
In die troeteldiersektor lyk die prentjie nog erger. Baie veeartse het tydens die strengste vlakke van inperking slegs noodgevalle behandel. Inloopkonsultasies, roetine-inentings en prosedures wat nie noodgevalle was nie, het in baie gevalle eenvoudig nie gebeur nie.
HERSTEL WAARSKYNLIK
Navorsing oor die ekonomiese gevolge van epidemies en pandemies in 1918, 1957-’58, 1968 en 2003 toon ’n diep, maar steil V-vormige daling en herstel, gevolg deur groei, sê Oberem.
“Ek glo ons sal dié keer dieselfde ervaar. Ek glo veral dat die optimistiese sy van die menslike natuur sal oorneem. Mense se vreugde dat hulle die krisis oorleef het, sal almal aanspoor om te werk, te belê en te bestee.”
Ná inperking sal handelaars min voorraad hê, en vervaardie kan goeie verkope verwag wanneer hulle hul rakke weer vul. Namate die markte stabiliseer, sal boere ook weer noodsaaklike veemiddels en veeartsenykundige medisyne begin gebruik, meen hy. Wanneer sal dit wees? “My raaiskoot is dat ’n verslapping van die inperking die herstel sal begin. Sodra mense weet die besmettingshoogtepunt is agter die rug (waarskynlik teen September 2020), sal Suid-Afrika die verligting en optimisme ervaar wat ekonomiese verbetering sal ondersteun, gesteun deur wat ek meen ’n tipe regeringsgedrewe Marshall-plan sal wees,” sê Oberem.