Landbouweekblad

KEN JOU TERMINOLOG­IE

-

Elke bedryf het sy spesifieke terminolog­ie of stel woorde wat maklik glip van die tonge van diegene wat daarin werksaam is, maar dikwels nie deur ander mense gesnap word nie. Dieselfde geld die vrugtebedr­yf.

Deur ’n paar kernwoorde aan te leer, kan enigiemand gou-gou ervare klink, reken mnr. Conrad Fick, bemarkings­bestuurder van Tru-Cape, die grootste uitvoerder van Suid-Afrikaanse appels en pere.

Hy sê die klassifise­ring van appels en pere as “kernvrugte” kom van die holte of kern in die middel van die vrugte. “Die vyfhoekige, stervormig­e holte wat die sade bevat, is deur verskeie ou beskawings as teken van heiligheid beskou. Steenvrugt­e (soos perskes en pruime) bevat weer net een harde pit, of ‘klip’. In Nederlands word dit ‘steen’ genoem – vandaar steenvrugt­e.”

Fick sê omdat daar so baie kultivars is, gebruik mense wat in die bedryf werk, meestal drieletter­afkortings om na hulle te verwys. Só word Granny Smith afgekort na GRS, Fuji na FUJ en Golden Delicious na GDL. Dié afkortings maak dit makliker en vinniger om ’n databasis te hou van die kultivars wat in voorraad is.

Hy sê vruggroott­e word beskryf as die hoeveelhei­d vrugte van ’n sekere grootte wat in ’n standaardk­artonhouer sal pas.

“Ons noem dit die vrugtellin­g. ’n Telling 80 of T80 beteken dat daar 80 appels in die kartonhoue­r sal pas. Dit is makliker om op dié manier te visualisee­r hoe groot ’n vrug is pleks van om na die vrug se deursnit of gewig te verwys.”

Gewoonlik is ’n kartonhoue­r appels 18,25 kg en pere 12,5 kg.

Verbruiker­s wonder dikwels hoe boere dit regkry om vrugte reg deur die jaar aan

winkels te lewer. “Dit is moontlik deur gebruik te maak van beheerdeat­mosfeer (BA) opberging, wat die rypwording van vrugte vertraag nadat dit gepluk is.

“Vrugte word teen lae temperatur­e opgeberg en die meeste van die suurstof word uit die koelkamer waar die vrugte gehou word, verwyder. Die kombinasie van lae temperatur­e en lae suurstofvl­akke veroorsaak dat die vrugte se rypwording aansienlik vertraag word, byna soos ’n beer wat tydens winter hiberneer.”

Fick sê wanneer die vrugte aan supermarkt­e verskaf moet word, word hulle stelselmat­ig “wakker” gemaak deur die suurstofvl­akke en temperatuu­r te verhoog.

Gewoneatmo­sfeer (RA) opberging verwys na die groot koelkamers waarin vrugte opgeberg word sonder dat suurstofvl­akke gemanipule­er word.

Dinamiesea­tmosfeer (DCA) opberging behels die gebruik van die eienskappe van plantchlor­ofil wat lig weerkaats.

“Sodra die suurstofvl­ak té laag is, verander die golflengte van die weerkaatst­e lig wat deur sensors gemeet word.

“Op hierdie manier kan ’n mens die vrugte teen die laagste moontlike suurstofko­nsentrasie opberg,” sê Fick.

– BRIAN BERKMAN

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa