Oudtshoorn Courant

Seun sterf na ma hom steek

- LIEZL VAN NIEKERK

Die familie van ‘n vrou wat die afgelope naweek haar 16-jarige seun met ‘n mes gesteek het, is in rou gedompel na dié skokkende gebeurteni­s.

Die voorval het Saterdag in Lappertstr­aat gebeur.

Ellen Mentoor (37) het Maandag op ‘n klag van moord in die Oudtshoorn-landdrosho­f verskyn. Landdros Roelf Konstabel het die borgtogaan­soek tot 19 September uitgestel.

Volgens Bianca Jacobs, Ellen se suster, het hulle Saterdagmi­ddag sit en televisie kyk toe Ellen en haar seun, Clinton, ‘n uitval gehad het.

“Sy het ietsie ingehad, maar sy was nie dronk nie. Hy het met haar geraas oor die toestand van die huis en omdat hulle nog nie iets gehad het om te eet nie. Sy het met hom terug baklei en hom geklap. Hy het haar gestamp en sy het om hom gestap na die kas toe. Hy het met sy rug na haar toe gestaan. Sy het vir hom staan en kyk en agter haar rug iets uit die laai gehaal en toe steek sy hom skielik,” vertel Jacobs.

Volgens haar was sy so geskok oor die voorval dat sy saam met Clinton by die deur uitgehardl­oop het.

“My ma woon agter ons in Dassieweg. Daar is ‘n hekkie waardeur hy tot by haar gehardloop het.”

Flora Mentoor, Clinton se ouma sê, die gebeurteni­s is iets wat sy nooit weer wil aanskou nie.

“Ek het hom voor die huis gekry en hy het in my arms in geval. Ek het hom grond toe laat sak en drukking op die wond gesit. Ek het so hard probeer dat hy net nie moet sterf nie, maar dit was te vergeefs,” het sy vertel.

Volgens Jacobs was Ellen se dade totaal ongewoon.

“Sy het ‘n passie vir haar kinders. Sy het drie seuns. Die middelste ene is twaalf en die baba is 18 maande. Sy sal met haar lewe betaal vir haar kinders,” vertel Jacobs.

Volgens haar het Ellen ook nie bedoel om ‘n mes uit die laai te haal nie.

“Haar laai het nie aparte rakkies vir messe, vurke en lepels nie. Sy wou maar net iets uithaal om hom skrik te maak. Sy wou hom regtig nie doodmaak nie. Ellen is ook nie ‘n dronkaard nie. Sy drink af en toe iets, maar sy misbruik dit nie.”

Mentoor sê hulle het na Maandag se hofverrigt­inge vir Ellen gaan kuier.

“Sy eet nie en sy slaap nie. Die baba is by haar in die tronk. My dogter voel so sleg oor wat sy gedoen het. Sy sê die heeltyd ek is jammer Mamma. Sy het gedink ons wil haar nie sien nie, maar ons het gesê ons ken haar hart en ons weet dit was nie haar bedoeling nie,” het sy vertel.

Sy het verder gesê die gerugte wat tans die rondte doen oor Ellen maak haar siek.

“Mense sê die wreedste goed oor my kind. Hulle ken haar nie eens nie. As hulle het, sou hulle geweet het sy het dit nie bedoel nie.”

Die familie het Clinton as ‘n liefdevoll­e seun beskryf wat altyd sy broers en ma eerste gestel het.

“Hy was vreeslik hulpvaardi­g. As iemand hom vir ‘n werkie sou betaal het hy daardie geld geneem en kos vir die huis gaan koop, sodat sy boeties kan eet. Hy was vriendelik en liefdevol en almal het van hom gehou. Hy sou ook altyd almal se siele uitryg. Hy was ‘n regte grapjas.

Clinton word op 23 September vanuit die PPKkerk begrawe. Dit sal vooraf gegaan word deur ‘n roudiens by die huis.

 ?? Foto: Liezl van Niekerk. ?? Flora Mentoor, Clinton Mentoor se ouma, staan op die plek waar hy Saterdag in haar arms gestref het. INLAS: Clinton Mentoor
Foto: Liezl van Niekerk. Flora Mentoor, Clinton Mentoor se ouma, staan op die plek waar hy Saterdag in haar arms gestref het. INLAS: Clinton Mentoor

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa