Oudtshoorn Courant

Bakkie ry jong man van motorfiets af

- LIEZL VAN NIEKERK

‘n 18-jarige man van Oudtshoorn is gelukkig om te lewe na ‘n Opel Corsa bakkie Dinsdagaan­d op die kruising van Plume- en Kerkstraat agter in sy motorfiets vasgery het.

Volgens JC Berry was hy op pad van ‘n vriendin af toe hy die bakkie agter hom gewaar.

“Die bakkie was al in Oostelikew­eg agter my gewees. Dit was vreemd want hy het die heeltyd baie na aan my gery. Ek het by die stopstraat gestop toe voel ek die bakkie stamp my van agter af.”

Volgens hom het hy met die stamp op die enjinkap van die bakkie te lande gekom.

“Vrouens wat agter in die bakkie was het vir die bestuurder gesê hy moet stop, hy moet nie wegry nie. Die stemme het bekend geklink, maar ek kon hulle nie plaas nie. Die bestuurder van die bakkie het uitgeklim en my van die enjinkap af gegooi,” vertel hy.

Berry sê die bestuurder van die bakkie het weer in die voertuig terug geklim, bietjie agteruit gery en in die rigting van die brandweers­tasie gery.

“Die polisie en die ambulans was op die toneel en ek is na die hospitaal geneem. Die dokter sê ek het ‘n nekwerwel seergemaak en ook ligamente in my bo-been.”

Berry sê hy ken nie die man wat die voertuig bestuur het nie.

“Ek onthou sy gesig, maar hy is nie aan my bekend nie. Die bakkie het verseker skade na ek op dit geval het.”

Sers. Gretchen Micheals, woordvoerd­er van die Oudtshoorn-polisie, sê ‘n klag van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa