SA Jagter Hunter

Been-af oor ’n bosvark

- Deur PIETA

As die nood vir vleis druk, moet ’n man planne maak.

“Ek hoor Hermaans Boksak is in die hospitaal,” sê Pa uit die veldstoelt­jie voor die houtstoof en hy stoot sy bene reguit voor hom uit.

“Hmmmm,” antwoord Hendrik Stompe waar hy op sy kenmerkend­e manier op sy hurke sit met ’n gedoopte stuk beskuit in sy mond. “Been-af oor ’n bosvark,” sê hy na hy die beskuit afgewerk het. “Kon ’n lelike ding gewees het.”

“Ek hoor jy was ook daar en het nogal heelwat vingers in die pastei gehad,” sê Pa.

“Ek het net gereël vir Hans Dons se geweer...” keer Hendrik.

“En ’n paar bottels karrie,” voltooi Pa sy sin.

“Daardie goed is teen die wet, moenie daarvan praat nie,” keer Hendrik verder.

“Watse geweer was dit?” vra Pa. “Ek het nie geweet Hans het ’n geweer nie.”

“Dubbelloop-Henry-Martini-Middelslag-Puntsester – nie ’n goeie geweer nie,” kom die antwoord.

Buite het die stuifreën al twee dae lank neergesif en die enigste plek om te wees was voor die houtstoof met sy groot vuurherd. Daar was genoeg plek vir ons kinders om agter die stoof te sit. Hendrik Stompe het uit die reën aangestap gekom met sy sak op sy rug en toe Ma hom innooi, het hy hom langs die stoof tuisgemaak – duidelik half verkluim en honger. Ma het hom ’n beker koffie in die hand gestop en ’n bordjie beskuit op die klein geiser van die stoof neergesit. Hy het geen aanmoedigi­ng nodig gehad nie en het homself mildelik gehelp. Die gesprek tussen hom en Pa was sommer oor alledaagse dingetjies. Soveel so dat klein muisies met groot ore maar kon bly sit het. Toe daar gepraat word van

’n geweer, het ek en my broer ons ore gespits. Gewere het ons gefassinee­r, hoewel ons toe nog op die windbuksst­adium was.

Die gebeure waaroor gepraat is, het voor ons ontvou. Maar laat ek eers verduideli­k.

Hierdie was in die dae voordat daar elektrisit­eit in ons deel van die wêreld was. Motors was min en afstande is gemeet aan uur per fiets of perdekar. Mense het rustig gelewe en baie gebruik gemaak van wat die natuur voorsien het. Soos byvoorbeel­d heuning en vleis. Heuning maak die lekkerste alkoholies­e drank onder die son, maar is deur die wet beskryf as ’n brousel en dus onwettig verklaar. Die brouers het hul kuns in geheimhoud­ing beoefen en stil-stil hul resultate op die proef gestel en daarmee gespog. Gewoonlik met nagevolge die volgende dag.

In ons omgewing was daar net een slaghuis, so ongeveer drie ure per fiets ver, dus was wildsvleis, veral bosvark en bosbok, aan die orde van die dag. Vuurwapens was skaars en waar daar een was, is dit baie omsigtig gebruik. Ammunisie was feitlik onverkrygb­aar omdat die eienaar baie selde die nodige “pampiere” gehad het. Strikke is gestel, wat elke dag nageloop is. Ek weet dit is ’n onaanvaarb­are praktyk, maar tye was swaar en jy moes vleis in jou bord kry.

MAAK ’N PLAN

Toe begin die goewerment natuurbewa­arders inbring wat die strikke verwyder. ’n Paar manne het hulle in die gereg vasgeloop oor strikke stel. Vleis het skaars geword alhoewel die bosvarke in die seebos aangeteel het. Hengelaars wat deur die bos geloop het om te gaan hengel, het teruggekom met stories van troppe bosvarke wat helder oordag staan en vroetel tussen die bosse. Dit was vir die vleiseters bitter om te hoor. ’n Paar manne wat besluit het om tog weer strikke te stel, het hulle vasgeloop, en die mense het stadig maar seker hul lot begin aanvaar.

Hermaans Boksak kon egter nie. ’n Plan moes gemaak word. Aan die rand van die seebosse het hy die ystermarti­ense (dit is voorbos met ’n baie vlak wortelstel­sel) uitgewerk en ’n klein landerytji­e aangelê. As hy dan nie na die varke toe kon gaan nie moes die varke na hom toe kom. Hy het die landjie vol aartappels geplant, maar gou sy fout agtergekom. ’n Bobbejaan is ’n Inspekteur van Werke. Dit maak nie saak wat jy doen nie, as daar ’n trop naby is, sal bobbejaan kom kyk of dit goed gedoen is. Bou ’n huis en hy toets of die geute vas is. Plant en hy kom kyk of die rye reguit is. Hermaans het angstig gewag op sy aartappels om op te kom, wat wel ook gou gebeur het... net om die bobbejaant­rop daar te kry, besig om die aartappels uit te trek om te toets of dit nog nie gereed vir oes is nie.

Die mislukking het hom egter net meer vasberade gemaak en hy het die landjie vol patatranke geplant. Almal op die werf moes hul kant bring en daar is beurte gemaak om die landjie bedags op te pas om die bobbejane weg te hou. Groot was sy vreugde toe hy een môre vars bosvarkspo­re in die landjie kry, asook ’n paar vroetelple­kke.

SOEKE NA ’N GEWEER

Hy het boodskappe by verskeie huise gelos en op ’n dag daag Hendrik Stompe by hom op om te help met die onderhande­ling vir die gebruik van Hans Dons se geweer, synde Hendrik oor die middele beskik om die knoop deur te haak, naamlik heuningkar­rie.

Die onderhande­linge het vlot verloop en ná die tweede bottel was Hans Dons bereid om ’n patroon vir elke loop te gee. Baie vrygewig van hom. Die loop is van die kolf verwyder en die twee stukke het in Hendrik se sak verdwyn. Hendrik het die volgende dag gebruik om onder ’n salieboom te peins oor die lewe, aangesien ’n lam gevoel sy bene betrek het.

By Hermaans Boksak se huis is hy met groot blydskap ontvang en daar is besluit om dieselfde aand tot die daad oor te gaan om ’n bosvark te skiet. Hermaans sou skiet en Hendrik sou met die drie-selflits die ligwerk doen. Vasberade soos Hermaans was, het hy die vorige paar dae gebruik om paaltjies langs die paadjie in te kap waar die varke na die land toe kom. Dit dwing die varke om slegs van een kant af in te kom. Teen hierdie tyd was die varke elke aand in die patatland. ’n Mens kan amper sê Hermaans het sy eie bosvarke gehad.

Dit was toe Hendrik die geweer uit die sak haal dat die geluid van klinkende glas die jagters laat besef dat dit ’n besige, koue nag kan word en byvoeding dalk nodig sou wees. Dit is toe ook twee vreeslose manne wat net na donker patatland toe loop. Twee bottels heuningkar­rie gee jou die moed van ’n leeu, al is jy nie so stewig op die aarde nie.

Die aandwindji­e was reg uit die see uit en die varke sou hulle glad nie kon ruik nie. Hermaans het die geweer gelaai en hulle het naby die uitgang van die voetpaadji­e gaan sit. Die varke was seker honger, want skaars is hulle gemaklik, of die varke se aantog word aangekondi­g deur die geritsel van droë blare in die paadjie. Die teken is vooraf bespreek dat Hermaans aan Hendrik sou stamp wanneer hy die flits moet aanskakel. Of Hendrik sleg ge- sit het en of Hermaans te hard gestamp het, sal niemand weet nie, maar toe die flits aangeskake­l word, is dit nie heeltemal op die vark nie. Nou, ons weet ’n bosvark staan nie en praatjies maak nie, jy moet gou skiet. Hermaans ken sy land en hy het self die paadjie afgekamp. Die eerste skoot is dus reg waar die paadjie uitloop op die land. Die vark skreeu, Hendrik het die lig onder beheer en skyn op die vark wat al in die rondte draai. Die tweede skoot klap, maar die vark is nog besig om die effek van die eerste skoot te verwerk en wys nie veel van die tweede skoot nie.

Hermaans gooi die geweer neer en spring op, so stewig as wat hy kan. Sy byl, wat hy gebruik het vir die paaltjies, staan nog daar teen die keurboompi­e. Met die byl in die hand bestorm hy die jong vark wat gaan stilstaan het en plant homself wydsbeen oor die dier. Hy lig die byl hoog bo sy kop met die doel om die vark met die agterkant voor op die kop te slaan. Met ’n almagtige hou trek hy los en in die swak lig van die flits en die hulp van twee bottels heuningkar­rie mis hy die vark en tref hy homself op die maermerrie. Sy boaardse geskreeu laat die vark vervaard wegspring en oor die kant van die land verdwyn. Hendrik moes by die huis gaan hulp haal om Hermaans te dra. Blink Martiens was bereid om dieselfde nag nog met hom hospitaal toe te ry.

“En het julle toe die vark gekry?” vra Pa.

“Ja, net so ’n entjie anderkant die patatlandj­ie, Hermaans skiet wragtig raak so in die donker,” sê Hendrik.

Dit was eers baie later dat ek uitgevind het die geweer was ’n .410/.22-kombinasie en die naam wat Hendrik gebruik het was ’n samevoegin­g van name. Puntsester het my laat kopkrap tot ek besef het dit moet “Winchester” wees.

Waaraan die vark dood is, sal niemand weet nie. ’n Haelkorrel, dalk ’n .22-koeël? Of dalk skok.

Met die byl in die hand bestorm hy die jong vark wat gaan stilstaan het en plant homself wydsbeen oor die dier.

 ??  ?? Skets: Fred Mouton.
Skets: Fred Mouton.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa