VOER JOU SELOENTJIE MET DIÉ KOS
Daar is deesdae ’n wye verskeidenheid van ammunisie waarmee jy jou .22LR se dieet kan aanvul.
ARMAND STEENKAMP
Toe ek vir SA JAGTER/ HUNTER se redakteur vertel dat ek van plan is om alle .22LR-ammunisie wat tans plaaslik beskikbaar is, te toets, het ek nie die vaagste benul gehad watter wille hingsperd ek opsaal nie. Ek het darem gehoop hy sou my waarsku.
Ek wou probeer vasstel watter fabrikate is alles beskikbaar en hoe dit in my geweer sal presteer. Na my toetse glo ek lesers sal ’n goeie idee hê van die kwaliteit van .22LR-ammunisie en dat hulle wel my bevindinge interessant sal vind. Onthou net, die ammunisie sal nie noodwendig dieselfde in julle gewere presteer nie.
Soos ek deur die land ry om sangvertonings te lewer, het ek by elke winkel, klein en groot, .22LR-ammunisie gekoop. Later het ek gedink dis onmoontlik dat daar ’n fabrikaat is wat ek nie reeds het nie, en ek het begin wens daar is nie nog oor nie. Maar elke keer het ek met nog ’n pakkie of twee by die winkel uitgestap. Vrind Fanus Venter het selfs vir my ’n paar pakkies gegee wat hy as oorskot by hom gehad het. Baie dankie daarvoor!
KRY GEWEER EERS GEREED
Ek het begin deur my Norinco JW 15-geweertjie mooi skoon te maak. Dit vat gewoonlik so ’n paar skote voor ’n .22 weer skiet soos hy moet nadat jy hom skoongemaak het. Ek het toe eers so 20 skote geskiet voordat ek met die ernstige akkuraatheidstoetse begin het. Alle toetse is op 50m gedoen en ek het vyfskoot- en tienskoot-groeperings geskiet. Soos dit maar altyd is met toetse, was daar interessante resultate en ook ’n paar onverklaarbares. Hier en daar was die tienskoot-groepe beter as die vyfskoot-groepe.
Die eerste twee groeperings met ’n nuwe fabrikaat ammunisie was gewoonlik nie wonderlik nie. Die laaste twee groeperings was gewoonlik die kleinste van die vier vyfskootgroeperings wat met elk geskiet is. Die rede daarvoor is dat die waslagie op die verskillende koeëltjies verskil van fabrikaat tot fabrikaat. Na die eerste twee groeperings is die meeste van die vorige koeëltjies se was uit die loop gewerk en maak die
groeperings weer toe. Ek het altesaam 35 verskillende tipes ammunisie getoets – 1 750 skote in totaal. Ek weet vir ’n feit daar is nog een of twee tipes ammunisie beskikbaar wat ek nie getoets het nie, maar die toets het net té lank geraak. Dis nie dat ’n man moeg raak vir skiet nie, maar soos die manne van Namakwaland sê, ek het so effe “sou” vir die affêre begin raak.
VERSKILLENDE SNELHEDE
Die geweertjie is nie een keer skoongemaak tydens die toetse nie en ek was baie beïndruk met die Norinco se prestasie. Interessant vir my, was dat sommige van die fabrikate hoër snelhede uit my geweer gelewer het as wat die vervaardiger adverteer. Dit skryf ek maar toe aan die effens langer as normale loop. Daar was geen noemenswaardige haakplekke gedurende die toetse nie, alles het glad verloop. Deur die hele toets het ek een patroon gehad wat geweier het om af te gaan en dit was ’n Federal.
Ek sou graag van die patroontjies wat die beste op 50m presteer het, ook op 100m wou toets. Dit was egter ’n onmoontlike taak omrede dit windstil moet wees. As ek nog moes wag vir windstil dae, sou die artikel seker twee jaar geneem het om af te handel.
Met .22LR-ammunisie is dit maar ’n geval van, “you get what you pay for”. Oor die algemeen het die duurder ammunisie akkurater geskiet en laer ekstreme spoedvariasies gelewer. Daarmee bedoel ek nie dat die goedkoper ammunisie sleg was nie. ’n Voorbeeld hiervan is SK se geel-en-rooi boksies ammu- »
» nisie wat baie goed presteer het. Hulle verhandel vir onder R100 ’n pakkie.
VINNIGER NIE ALTYD BETER
’n Ander interessante ding was dat die subsoniese en standaardsnelheid patrone die beste gegroepeer het en die hipersnelheid die swakste. Daarom het ek nie baie van die CCI Stinger, Velocitor, Remington Yellow Jacket en Winchester Hyper Velocity verwag nie, maar al die groeperings met hierdie ammunisie was onder 25mm, behalwe die Remington Yellow Jackets wat ’n groep van 35mm vir vyf skote behaal het (wat self nie te sleg is nie).
Die hoogste snelheid is deur die CCI Stingers gelewer, ’n haastige 1 542vps, en die laagste was ook uit die CCI-stal naamlik die CCI Quiet. Hulle het teen ’n rustige 777vps deur die Chrony gedraf. As ’n man die skoot aftrek, dan sien jy letterlik hoe trek daardie koeëltjie met so ’n boog na die teiken toe. Ek het ’n paar van die “flyers” in eg Namakwalandse taal probeer terugkry na waar die res van sy maatjies op die teiken bondel, maar dit was tevergeefs.
Ek het ammunisie getoets waarvan ek nog nooit gehoor het nie, naamlik die Maxx Tech van Bosnië. Ongelukkig het die groeperings gelyk asof ek die teiken met ’n haelgeweer bygekom het. Ek was baie beïndruk met die prestasie van CCI se patrone. Hulle het goed gegroepeer en die kleinste groepering het gekom van die CCI Standard-ammunisie met ’n groepering van 12.61mm. Ek het ook in die verlede baie goeie resultate met Sellier & Bellot se ammunisie gekry. Dié keer was dinge effe anders. Groeperings was nie naastenby so goed soos in die verlede nie. Die kort van die lang storie is dat elke lot ammunisie verskil. As jy ’n lot kry waarvan jou geweer hou, moet jy sommer heelwat van daardie lot gaan koop.
Ek het ook met ’n paar van die patroontjies ’n klompie probleemduiwe rondom die huis geskiet. Dit het maar net weer my mening bevestig dat jy liefs holpuntkoeëls op kleinwild moet gebruik. Selfs die subsoniese holpuntkoeëls se doodmaakvermoë was beter as dié van die soliede hoëspoed-koeëltjies.
Ek hoop die toetse sal vir die lesers insiggewend wees. My seloentjie sal ek in die toekoms met CCI Standard en Subsonics stook, asook SK se rooiboksiepatrone. Ons is baie beter daaraan toe as ’n paar jaar gelede. Die verskeidenheid ammunisie wat vandag beskikbaar is, is ongelooflik. Daar is wel een leemte in die .22LR-stal en dis ’n plaaslike vervaardiger. En, ja dit is ’n skimp.