Ag­ter­blad

Sarie Kos - - Inhoud - Deur JO­HAN BAK­KES

En toe kom die 1970’s se ra­di­o­klin­gel “braai­vleis, rug­by, sonskyn en C­hev­ro­let” by my op … Nou van kar­re weet ek nie veel nie – ek weet nie eens of bo­ge­noem­de soort mo­tor nog op die mark be­skik­baar is nie. Maar ek weet van braai­vleis, rug­by en sonskyn. Met dié drie woor­de het die be­mar­kers van wel­eer in ’n ma­te die psi­ge van die ge­wo­ne wit­man van daar­die tyd op­ge­som. En ek won­der of dit ver­an­der het.

Dis nou veer­tig jaar la­ter en die son skyn steeds oor Suid-A­fri­ka, on­ge­ag Eskom se po­gings om din­ge te ver­don­ker. Selfs in die woe­li­ge win­ter met s­neeu op die Paarl se Wit­te­berg is daar niks so mooi soos ’n kners­hel­der dag nie.

Ons het selfs nou TV. Maar dees­dae se te­le­vi­sie is so don­ker van sleg­te nuus dat ek Ger­hard Vi­viers se rug­by­kom­men­taar oor die draad­loos be­gin mis. Dis juis hy en daar­die ra­dio’tjie op my groot­word­dorp, Sal­dan­ha, wat ge­sorg het dat ek ’n ge­swo­re Blou Bul-on­der­steu­ner is.

Jy sien, daar trap ek in die slag­gat. Ek het pas die he­le Suid-A­fri­ka, uit­ge­sluit P­re­to­ria, vir my die hel in ge­maak. En só be­tree ek die do­mein van el­ke rug­by­ken­ner in die land – dis nou min of meer elk­een op straat.

Ver­gun my eg­ter hier­die mo­ment van glo­rie. Ek is nie ’n sport­ver­slag­ge­wer soos Bok­kie Ger­ber of Lou­is de Vil­liers nie, maar ek het ook my “ul­ti­ma­te” rug­by­span van al­le tye. Vir my was JPR Wil­li­ams van die 1974B­rit­se Leeus die bes­te heel­ag­ter en die Frans­man Guy Cam­be­ra­be­ro die bes­te skep­skop­per. En dan is daar Joost en F­rik, en Jog­gie Jan­sen se laag­vat op Wayne Cot­trell … En die 1970-G­rie­kwas, of was dit die Am­ma­sol-klub­span van Kim­ber­ley … Dirk de Vos was my held, en ook my rug­by­af­rig­ter op skool.

Maar dis nie hoe­kom my bloed blou is nie. Sal­dan­ha val on­der die Bo­land­rug­by­u­nie (nie die We­s­te­li­ke Pro­vin­sie nie). Dis 1969 en Bo­land speel in die se­mi-fi­naal van die Cur­rie­be­ker teen die WP. My span, met Da­wie de Vil­liers as aan­voer­der, ver­loor 3 – 6. Of só sê S­pie­ke­ries Vi­viers oor die tran­sis­tor. Ek vang ’n re­nons in die WP tot in die vier­de ge­slag. Ge­luk­kig ver­loor hul­le in die fi­naal teen die Bar­ber­ton Dai­sies. Dis toe F­rik du P­reez “ge­drop”, “ge­pla­ce” en “gesco­re” het. My bloed is blou en my ge­luk­kig­ste jaar was 1995, toe ons die Wê­reld­be­ker ge­wen het. Ou­kei, ge­noeg van rug­by – dis ’n kos­sto­rie dié.

Dis veer­tig jaar la­ter. Ons braai nog steeds vleis. Om die waar­heid te sê, daar’s al ’n va­kan­sie­dag uit­ge­roep. Na­si­o­na­le Braai­dag. Maar braai is nie meer mie­lie­pap en vleis nie. El­ke­re twee­de Jan Rap en sy maat glo hy moet sy ku­li­nê­re toer­tjies om die braai­vuur ten toon stel. En net hý is reg: • Die ti­pe hout wat ge­bruik moet word • Die hit­te van die ko­le • Die spe­si­fie­ke vleis­snit • Wat­ter ma­ri­na­de of spe­se­ry • Sout of nie sout nie • Hoe lank aan el­ke­re kant

En dan skreeu hy op sy vrou as die by­kos­se nie be­tyds reg is nie en dít glo die re­de is hoe­kom sy vleis ver­kool het.

Braai­vleis, rug­by en sonskyn. ’n Do­de­li­ke kom­bi­na­sie. Ek ont­hou die tag­ti­ger­ja­re. ’n Skot­tel­braai in die win­ter­son­ne­tjie op die par­keer­ter­rein langs Lof­tus Vers­feld, met ’n bier in die hand saam met vrien­de. Wat ’n heer­li­ke at­mos­feer. Toe­skou­ers stroom na die hek­ke. So af en toe die ge­brul van die ska­re wat die voor­wed­stry­de dop­hou. ’n Wor­sie sis­send op die pan. In die een hoek ’n hoop ge­kerf­de uie wat ka­ra­mel­li­seer. ’n Bot­tel­tjie mos­terd en blat­jang. Brood­bol­le ge­bot­ter en ’n erns­ti­ge be­spre­king oor die ge­ko­se S­pring­bok­span wat nou-nou die All Blacks gaan pak …

Dis veer­tig jaar la­ter. Baie het ver­an­der. Ek het nie meer sei­soen­kaart­jies vir Lof­tus Vers­veld nie. Ek woon nou in die Paarl. My tran­sis­tor is ver­ruil vir ’n groot­skerm­te­le­vi­sie. Die he­den­daag­se rug­by­spe­lers is vol­gens my nie daar­die groot ys­ters van wel­eer nie. My per­soon­li­ke braai-ak­sie het ont­aard in ’n gour­met-ge­ploe­ter. Maar se­ke­re din­ge het nie ver­an­der nie. My bloed is nog steeds blou. Om die dood toe mis ek nie ’n S­pring­bok-rug­by­wed­stryd nie, al is dit dan nou net op te­le­vi­sie, en die son skyn nog steeds – par­ty­keer.

Die af­skop­fluit­jie blaas. Ek en my men­se sit in ’n ry voor die te­le­vi­sie­skerm. Die klank is af. Jo­han Ra­de­man le­wer kom­men­taar oor die ra­dio in die hoek. Die lang kof­fie­ta­fel hier voor ons is om­skep in ’n bin­nens­hui­se “self­help”-kook­a­rea.

Die e­lek­trie­se braai­er­tjie met sy wa­ter­bak is ge­sel­lig rooi. Die o­lie in die fon­due­pot is die reg­te tem­pe­ra­tuur. In die an­der fon­due­pot­jie prut die kaas­kon­kok­sie. Ver­skeie bak­ke rou kos staan stra­te­gies rond. Dis hoen­der­vler­kies, bees­haas­re­pe, ske­mer­kelk­wor­sies, ge­roos­ter­de brood­stuk­ke, kno­pie­sam­pi­oe­ne, zuc­chi­ni-me­dal­jons en ba­ba­mie­lies. Rooi­en wit­wy­ne is bin­ne reik­af­stand.

En ek en my men­se “braai” en kyk rug­by. Die son skyn nie. Bui­te re­ën dit … en ek be­sef gis­ter is nie van­dag nie en ’n mens kan nie al­tyd al­les hê nie. Tog ver­beel ek my dat daar voor in die pad ’n C­hev­ro­let ver­by­brul …

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.