Huiskok Errieda du Toit weet hoe naby braaibroodjies aan ons harte lê.
Sy weet ook oningewydes verstaan nie hoe ’n geroosterde kaastoebroodjie van winkelwitbrood ’n nasie kan saambind nie, of as erfskat vir die nageslag gereken kan word nie – tot hulle dit proe. Een hap is genoeg om hulle deel van die braaibroodjie-binnekring te maak.
Braaibroodjies is maklik én moeilik, reken Errieda. Die maker het ’n groot verantwoordelikheid, want opgesluit in die ritueel is die vermoë om te onthou hoe elke eter die braaibroodjie verkies. Net met kaas, tamatie en uie, of die hele toetie met blatjang by. Of net kaas en konfyt of met mayonnaise; sonder om te kibbel of dit steeds braaibroodjie genoem kan word. Maak sommer ook ekstra vir dié wat dit die volgende dag koud saam met oorskietwors wil eet.
Die braaibroodjiemaker verstaan individuele fiemies (sonder uie, asseblief) en ontwikkel ’ n fyn geheime kodestelsel om later die braaibroodjie-volgensbestelling te kan uitwys.
Die tradisionele braaibroodjiemaker gun afwykers ’n plekkie in die son: gruyère pleks van cheddar, vars kruie by die tamatie, selfs roosterkoek pleks van die goewerment-wit. Sy maak selfs kamma-braaibroodjie vir banters, wat sy geur met ’ n stewige knypie simpatie.
DIE BRAAIBROODJIEMAKER AANVAAR OOK
dat sy haar maaksel moet afgee aan die braaier – die einste braaier wat al die komplimente gaan kry vir die meesterstuk; en
dat alle eer eintlik die kole toekom, wat met hul laaste asem ’n toebroodjie omtower tot een van ons mees geliefde eetsimbole.