Ode aan sjokolade
My naam is Pedro Kruger en ek is ’n chocoholic. Ek dink ek was so vier jaar oud toe ek dit besef het. Toe my ma my vra wat ek vir Kersfees wil hê, was my grootste wens om onder een van die sjokoladefabriek se krane te gaan lê terwyl strome sjokolade in my mond invloei à la Willy Wonka.
Daai wens het nie waar geword nie, maar die hoeveelheid sjokolade wat ek van toe af verorber het, is meer as wat ek ooit uit die sjokoladetenk sou gekry het.
Ek moet vertel: My ma het altyd in groot maat by Makro gekoop. Só het sy dit goedgedink om ’n reuse-houer van 100 chocolate éclair- toffiestokkielekkers te koop. Nou, as jy sjokolade wil ruïneer, moet jy dit met ’n homp harde toffie bedek. Só het ek en die Griek van die kafee op die hoek toe ’n ooreenkoms aangegaan: Ek bring vir hom ’n éclairtoffiestokkielekker en hy ruil dit vir ’n klein sjokoladetjie.
In ons huis het dit later so erg gegaan dat my ma die sjokolade begin wegsteek het: Elke week op ’n ander plek, want dit het my gewoonlik so ’n week gevat om die wegsteekplek uit te snuffel. Ek was soos ’n polisiehond op sjokoladesteroïede: Sodra my ma-hulle uitgegaan het, het ek begin soek. Van vertrek tot vertrek, van hoek tot kant. En tot vandag toe is die plek wat my die meeste uitgedaag het, ’n ou drukkoker-pot wat my ouma s’n was en wat agter in die pottekas gestaan het. Maar met trots kan ek sê dit was dalk nie binne ’n week nie, maar gevind het ek hom gevind.
My army- jaar het ek met vlieënde vaandels geslaag en weer was sjokolade een van my geheime wapens. Sien, elke aand net voor die snoepie op die basis gesluit het, het ek vir my ’n sjokolade gaan koop. Kom die oggend 5:00 en die korporaal gil, “troepe, tree aan!”, het ek eers my sjokolade geëet en dan gehol. Só het elke dag van my army- jaar met die soete wonderlikheid van sjokolade begin. En as jou dag begin met ’n Sweetie Pie-son wat oor ’n Chocolate Log-horison reis, kan niks dit omkrap nie – nie eens die sammajoor wat bulder, “Sien jy daai boom? Gaan haal hom!”, nie.
Ek is ’n chocoholic en nie ’n chocolate snob nie. Daar is ’n verskil. Ek kan die nuanses van fynproewersjokolade waardeer, en dóén ek dit nie! MAAR gee vir my ’n KitKat/ Peppermint Crisp/Aero en ek is ewe gelukkig.
Sjokolade maak alles beter. Partykeer kos dit net een blokkie om jou kop te laat skuif van woede toe vergifinis, van huil tot ’n glimlag, van opgewondenheid tot ekstase. Soos die Stresmeter (ja, daai een wat sê om te verhuis is meer stresvol as om te skei), het ek ’n sewe-fase-SkokSjokMeter:
Soos ek ouer word, begin die idee van ’n sjokoladesousie oor vleis my geval, en ek reken my smaakkliere kan dit waardeer. Soos in die geval van die toffiestokkielekkers, moet jy nie te veel karring aan die perfeksie van sjokolade nie. Tog, as sjokoholis ag ek dit my plig om te eksperimenteer met sjokolade in al sy vorms, of dit net ’n blokkie op die tong is, ’n veerligte mousse, ’n sjokfondue, of selfs ’n sjokoladesousie oor ’n filet.
My nuwe wens – en dié een gaan ek self laat waar word – is ’n poeding met ’n sjokolade-torte as onderlaag, dan ’n ryk sjokoladeroomys met sjokoladeblokkies in, dan sjokolade-mousse bo-op, besprinkel met fyngekapte sjokolade-brownies, dan weer ’n lepel roomys, en laastens twee Flakes. Want hoekom so ’n poeding met net een Flake bederf?
Ek kwyl reeds. >