Laas­te sê

Sarie - - Inhoud -

Ek ont­hou die vier en ’n half maan­de waar­in ek dag en nag in my pienk-en-wit Wool­ies-pa­ja­mas rond­ge­slof het as­of in ’n wa­si­ge droom.

Dit be­gin skuins voor mid­der­nag op 21 A­pril 2015 toe ’n mi­ni­a­tuur­men­sie heel­te­mal te vroeg ná ’n nood­kei­ser­snee aan my bors be­land.

Dit was ná ’n swan­ger­skap soos ’n B-graad-ril­ler. Vier maan­de waar­in ek boe­sem­vrien­de ge­word het met die toi­let­bak, ’n spoed­ei­sen­de troue en toe ’n der­de tri­mes­ter waar­ty­dens ek meer in die hos­pi­taal was as daar­bui­te.

Die klein Gol­lum­pie wat nou in my arms was, was soos ’n sur­re­a­lis­tie­se ver­len­ging van my lyf. Maar dit was ’n le­de­maat wat ek nie ver­staan het nie. Die een oom­blik waak dok­ters nog oor my – en toe is daar ’n stuk­kie mens van 2,2 kg wat skreeu van die hon­ger, wie se doe­ke om­ge­ruil moet word en wat ek moet be­skerm teen ’n vreem­de wê­reld.

Dis as­of ek deur dow­we glas na daar­die eer­ste maan­de kyk: Ek en my man wat snags op en af in die gang loop of op ’n mid­der­nag­pers Pi­la­tes-bal wip met ’n ba­ba wat nie wil slaap nie. ’n D­rie­uur­lik­se soog­ske­du­le met Ba­ba wat nie wil drink nie en hoe don­ker my en Mat­thi­as se ka­mer met sy spier­wit gor­dy­ne selfs hel­der oor­dag vir my ge­lyk het. Ek ont­hou ver­al hoe ek ge­veg het daar­teen om in ’n draai­kolk van re­de­lo­se angs in­ge­suig te word.

Toe Mat­thi­as so drie maan­de oud was, het ek een aand net nooit aan die slaap ge­raak nie. Ek het heel­nag ge­wag vir die ba­ba­wie­gie om te roer met daar­die trae ge­kla soos ’n kar wat aan die gang ge­stoot word. Selfs sy ge­huil was be­ter as die een­saam­heid wat jou laat voel as­of jy die e­nig­ste ma is wat drie­uur die og­gend tee maak.

Slaap het my vir maan­de bly ont­glip. Dit was dae wat nooit werk­lik nag ge­word het nie – soos John Mil­ton wat ge­vra het: “W­hat hath nig­ht to do with sleep?” En toe sit ek een Maan­dag laat­mid­dag in my psi­gi­a­ter se spreek­ka­mer met die stad wat on­der my dreun. Die di­ag­no­se was te wag­te: post­na­ta­le de­pres­sie, ge­paard met post­na­ta­le angs en “mam­ma­som­nie” – daar­die kwaal waar­oor al­mal stil­bly maar waar­aan tot 40% van nu­we ma’s ly.

En toe ek uit­ein­de­lik ’n naam daar­voor vind, was dit soos ’n ta­lis­man wat jy bo die ba­ba­bed op­hang om die Bo­se te be­sweer. Ge­lei­de­lik het die win­ter ge­stroop be­gin raak van vrees. Ek was nie meer bang om al­leen te wees saam met my kind op wie ek my he­le le­we lank ge­wag het nie. (Ná drie mis­luk­te in vi­tro’s was en is Mat­thi­as iets van ’n mi­ra­kel – een wat ek vir die eer­ste keer werk­lik kon ei­en.) My kind het nie meer uit vae bui­te­ly­ne be­staan nie. Ek het hom be­gin sien in vol­kleur: Mat­thi­as wat sy pa by die ge­typoe­le­tjie op Keur­boom­strand aan die hand vat; Mat­thi­as wat vir ’n a­pie lag in die wild­tuin; Mat­thi­as wat in die wê­reld van die ver­beel­ding in­ge­lei word:

Saans wan­neer ek vir hom ’n sto­rie lees, “eet” ons dees­dae die bes­sies in sy kin­der­boe­ke en sog­gens vroeg maak hy vir my “tee” met sy rooi fluit­ke­tel met “melk” by wat hy uit ’n denk­beel­di­ge be­ker­tjie skink.

Par­ty­keer slaan hy sy twee­ja­ri­ge arm­pies om my en sê vir my “lief vir Mam­ma” of in die bed vat hy aan my oë en sê: “Mam­ma het Br­üm­mer-o­gies.” Nou die dag toe ek huis toe ry, was dit soos ’n e­lek­trie­se stroom wat deur my tril. Ek wou dit van die dak­ke af skreeu en my sta­tus op Fa­ce­book ver­an­der, al kon ek nie die woor­de vind om in die bood­skap­veld te skryf nie. Al wat ek ge­weet het, is dis soos daar­die e­mo­ti­kon van ’n hel­der, glim­lag­gen­de son of die een van die kitsch re­ën­boog met sy be­lof­te dat die on­weer nou ver­by is.

Ek het met­eens be­sef dat ek ge­luk­kig is. Dis len­te.

Wil­le­mien Br­üm­mer is ’n ar­ti­kel­skry­wer vir Net­werk24

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.