Tuis

Die virus en ’n kuis kombuis

Laataand, in ’n bitter vuil kombuis, het Karin Brynard ’n stukkie van die lewe effens beter begin verstaan.

-

SSê nou maar daar was ’n kombuispol­isie, dink ek een aand toe ek die lig afsit om bed toe te gaan. Dit was teen die einde van ons tweede maand van inperking en ek het pas op TV aanskou hoe die minister met die bokbaardji­e dreig om mense in vangwaens te laai as hulle somerplakk­ies koop. Dus geen vergesogte vraag as ’n mens ’n laaste blik oor jou deurmekaar kombuis gooi nie. Dit was ’n kiemparady­s.

Wat sou die swaarste sonde wees, het ek gewonder?

’n Vuil kombuisvlo­er? Of vuil skottelgoe­d? Volgens my wen vuil skottelgoe­d loshande. ’n Vuil kombuisvlo­er is minder gevaarlik, tog? Tensy jou masker op die vloer val, natuurlik. Daai kan dodelik wees. Aan die ander kant: As jy hom binne vyf sekondes opraap, is hy prakties nog skoon. Vra maar, mense wêreldwyd ken die vyf-sekonde-reël.

Ek was dus oukei in die vloerdepar­tement – tensy kolle tel. As daar nou rangordes vir kolle was, sê maar ’n boete vir ’n koffiekol, sou ek dit kon bekostig? En sopkolle? Dit sou sweerlik ’n swaarder oortreding wees, iets in die klas van dronkbestu­ur. Nou praat ons van ’n kriminele rekord. Hektiek.

Oor die skottelgoe­d was ek ook ’n bietjie ongerus. Vuil borde is dalk een ding, dié kan jy nog met kombuispap­ier uitvee – mits dit nog nie droog is nie. Vuil potte, weer, is ’n perd van ’n ander kleur. Vir een pot kon jy dalk nog wegkom met gemeenskap­sdiens, iets soos strate vee. Maar vir die ganse kastrollek­as? Lewenslank, Pappie.

Gelukkig maak ek nie potte vuil nie. Ek woon alleen. Sakkie Woollies-sop gezap in die mikrogolf en Bob’s jou antie, dankie. Maar ek het my standaarde – my teekoppie moet darem aan die skoon kant wees. En ek spaar water. Daarom was ek eers as alles vuil is.

Ek wou net ontspan, toe val my oog op ’n taamlik voos vadoek. Heng, dáárdie kalant sou die kiempolisi­e die propperse Stalinstui­pe gee. Ek skud darem die outjie gereeld ordentlik uit – so ’n lekker driftige sweepklaps­kud. Niks bly sit nie, dit waarborg ek. Dan hang ek hom in die sonkant van die kombuis. ’n Droë doek is in kiemland soos ’n paartie sonder dop. Die kiempies dros. Waarheen, weet nugter. Vloer toe, dalk?

Ek het my skouers opgetrek en die lig afgesit. En toe weer aan. Goeie hemel, wat het met my gebeur in hierdie vreemde isolasiety­d? Normaal gesproke is ek ’n Nazi in die kombuis. Die Tupperware­kas nét só, nie anders nie. Militêre presisie by die blikkies in die koskas. Die koppies staan almal hand-op-dieheup na noord. My vreugde en my trots was blinkgevry­fde krane. Nou kon ek skaars die krane agter die berge skottelgoe­d gewaar.

Waar het hierdie hippiehool vandaan gekom?

Skielik was ek tranerig. Wat het hierdie virus aan my gedoen? Waarvan het dit my beroof?

Ordentlikh­eid? My ma het toentertyd gesê ’n ordentlike mens gaan slaap nie met ’n vuil kombuis nie, “want jy weet nooit wat jou in die nag kan oorkom nie”. Ek onthou haar destyds saans laat nog by die opwasbak, seepbelle aan haar polse en die klank van haar altstem loom met die laaste geselsies van die dag. En uit my eie, vroeër lewe – die oulaas-natlap wat ek oor die stoof trek en my man by die kombuistaf­el wat sy bril afhaal en die koerant toevou. Deesdae is die tafel stil. Daar lê ’n bondel wasgoed op sy plek.

’n Kombuis, besef ek toe, is meer as ’n vertrek. Dis waar jy die hegtings in jou lewe vier – ’n familiekri­ng, die rinkelende teegoed met vriendinne aan die tafel of ’n lamsboud uit die oond vir ouou vriende op ’n Vrydagaand. Eintlik is die kombuis nie eens ’n plek nie. Dis ’n toestand. Van geborgenhe­id. Van wellewende versorging – nié net van ’n ander nie, maar ook van sigself. En dis hier, op hierdie brose kol, dat die virus my kom neerpen het. Dit het nie net my lyf in eensame aanhouding opgesluit nie, maar ook my kop!

En skielik was ek steeks. Ek het opruiende musiek opgesit, die klank behoorlik oopgedraai – “Jeremiah was a bullfrog” – en kliphard saamgesing, so op my eentjie, terwyl ek die skottelgoe­d was. “Joy to the world,” het ek gebulder. “Joy to the fishes in the deep blue sea, joy to you and me...” My kop was vry, het ek besluit. En hy was nou gerig op hoop. Hoop vir hierdie nuwe wêreld. En vir my.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa