Watersake Oes reën en gebruik jou gryswater om ’n vleiland te skep
Deur reënwater op te vang en huishoudelike water te hergebruik kan jy jou waterrekening verklein én ’n rentmeester van dié kosbare bron pleks van bloot ’n verbruiker word. Beverley Ballard-tremeer verduidelik.
Suid-afrika se gemiddelde jaarlikse reënval – 464 mm – is minder as die helfte van die wêreldgemiddelde. Voeg dié statistiek by die waterbehoeftes van ons groeiende bevolking en drinkbare water kan in die toekoms ’n baie duur luukse word. Water is ’n kosbare bron wat nie vermors en beslis nie weggegooi moet word nie. Tog is dit presies wat ons doen as ons nie reënwater en gryswater ten volle benut nie.
Seisoenale reën hou groot voordele in vir plante: As net 10 mm reën op ’n dak van 100 m2 val, kan jy omtrent 500 ℓ (of 0,5 kl) opvang, terwyl jy op ’n eiendom van 4 000 m2 altesame 20 kl sal kry! Die gemiddelde huiseienaar kan jaarliks tienduisende liter reënwater opvang sonder om te veel moeite te doen. Wat ’n besparing op jou waterrekening!
Die opvang van reënwater werk veral goed in streke met swaar reënval of langdurige, deurdringende reën wanneer baie water afloop. Saam met waterslim tuinmaaktegnieke kan reënwater baie van die water verskaf wat jy vir jou erf nodig het. As jy genoeg opgaartenks het en in die reënvalseisoen genoeg water opvang, gaan jy in droë tye of wanneer waterbeperkings ingestel word, genoeg water hê om jou plante aan die lewe te hou. Die gebruik van reënwater verlig ook die las op ondergrondse putte, pompe en munisipale waterstelsels. Daarby is reënwater gratis en skoon.
Boere en kleinboere versamel lank reeds reënwater op hulle eiendom deur byvoorbeeld damme en leivore te maak en watertenks op te rig. Huiseienaars raak ook al hoe meer vertroud met die bewaring van water in die huis en tuin, en nuwe tegnologie word voortdurend ontwikkel. Daar is nou ’n groot verskeidenheid duursame watertenks beskikbaar wat aan geute gekoppel kan word om reënwater op te vang wat van die dak afloop. Sommige eienaars van eiendomme op die platteland gebruik reeds huishoudelike gryswater vir tuinmaak, en verskeie gholflandgoedere, hotelle en kommersiële eiendomme in Suid-afrika doen dit ook nou. Die eeue oue tegnieke om te keer dat reënwater op skuins plekke afloop, word ook weer ondersoek. >
Oes reën op jou grond
Die feit dat wateropvangs plekgebonde moet wees, kan die proses baie eenvoudig maak, maar ook ingewikkeld. Veral teen hellings kan reënwater alte maklik afloop en verlore gaan. Op sulke plekke kan reënwater met groot sukses opgevang word – probeer die volgende maniere: • Terrasse ’n Aantal plat of effens versonke terras-gedeeltes – ondersteun met mure, skanskorwe, grendelkeerblokke, rotstuine of hellings beplant met struike en grondbedekkers (waarvan die wortels die grond vashou) – is ’n goeie oplossing. Sit ’n erosiebeherende bedekking of grondhoudende bio-afbreekbare maas neer voordat jy plant om die grond te behou terwyl die plante gevestig raak. • Verhewe dele (walletjies) en vlak holtes Verhewe dele – sogenaamde berms – en vlak holtes ( swales) word dikwels naas mekaar gebruik en is baie doeltreffend om die afloop van water te vertraag en te keer. Dit kan ontwerp word om reënwater te behou en stadig in die grond te laat insypel.
In groot tuine waar die grond goed dreineer, kan lang vlak holtes met bome of vrugtebome beplant word. Andersins kan dit gebruik word om swaar waterafloop van elders te herlei en terselfdertyd die vloei van water te vertraag (mits dit teen ’n hoek gevorm is om water te laat vloei en gras daarop geplant is, óf as dit gevorm is om soos ’n droë stroom te lyk). Dieselfde beginsels word toegepas by vore en opgeërde grondsirkels om die druplyn van bome en struike.
Nog ’n manier is om ’n grasperk effens pieringvormig te maak. Sulke terreininsinkings kan vlak wees, maar hoe groter die gesonke deel, hoe meer water sal behou word. Ontwerp dit só dat dit genoeg water hou om na die wortels van bome en struike deur te syfer. ’n Reënval van 20 mm sal die grond binnedring tot op ’n diepte van omtrent 30 cm. Dit is voldoende vir die wortels van dekplante; dus sal ’n vlak holte van 2 cm voldoende wees. Wortels van struike en bome groei af tot ’n diepte van omtrent 60 cm en 100 cm onderskeidelik. Vlak holtes onder of naby dié plante moet ’n minimum van 5 cm wees. Verhewe dele is geneig om van bo af weg te kalwe, en daarom kan jy dit hoër maak – 15 cm – sodat jy dit nie so dikwels hoef te herbou nie. • Sinksloot ( French drain) As ’n groot klomp afloopwater by die laagste deel