Weg! Platteland

My dorp Geskiedeni­s, lemoene en Ferreiras kraai koning op Patensie

As jy Patensie van Port Elizabeth se kant af binnery, kom jy gou agter waaroor dit hier gaan, want dié Oos-kaapse dorpie met sy 5 000 siele word verdwerg deur ’n lappieskom­bers van landerye en sitrusboor­de. Hierdie is boerderywê­reld. VAN DIE

- TEKS EN FOTO’S JAC KRITZINGER

Op Patensie, wat knus in die immergroen Gamtoosval­lei lê, kan jy maar daarvan vergeet om gerestoure­erde Art Noveau-argitektuu­r en boheemse kunsgalery­tjies raak te loop. Wel ’n bonkige, bedrywige Agrimark. Dieselbakk­ies rammel gedienstig deur die stowwerige strate, en so ver as wat die oog kan sien, troef kakieen-kortbroek lag-lag die nuutste modes uit Markham.

Skop egter jou skoene vir ’n wyle hier uit en jy kom agter hierdie is nie ’n dorp wat jy op sy baadjie moet takseer nie. Hier is die mense plat op die aarde.

Patensie is vir drie dinge bekend: sitrusboer­dery, die klipgooi wat hy oos van die Baviaanskl­oof af lê, en die oorvloed Ferreiras wat jy in die omgewing kry. (Daar’s net vier teerstrate in die middedorp, en almal is genoem na ’n Ferreira.)

“Patensie is nie ’n dorp nie,” gesels Danie Malan een aand langs die lemoenhout­vuur op sy plaas, Tierhok, terwyl die skaapnekpo­tjie op die kole prut. “Dis ’n familie, ’n gemeenskap.” >

Hy’s reg: Dit blyk gou die mense hier leef na aan mekaar. Maar ’n mens kan nie dié hegtheid onder die inwoners verstaan voor jy ’n dosis geskiedeni­s agter die blad het nie.

“Die meeste van die boere in die distrik sit op grond wat al vier, vyf geslagte in die familie is, en al is dit nou een van die voorste landboudis­trikte in die land, het dit nie altyd so voor die wind gegaan nie.”

Die storie van die Gamtoosval­lei (Gamtoos is ’n Khoi-woord wat “brullende leeu” beteken) is een van water: Die brak Grootrivie­r en die suiwer Kougarivie­r vloei hier saam en vorm die Gamtoosriv­ier. En dis nie enige hierjy wat dié vuilbaard kon aanvat nie. Die eerste families, onder wie hoofsaakli­k, ja, Ferreira, maar ook Malan, Scheepers en Du Preez, het in die vroeë negentiend­e eeu met groot gesukkel hier hak ingeslaan. Mettertyd is die land egter mak gemaak en beplant, met vloedbespr­oeiing wat water uit die Gamtoos die lande ingelei het. Hoewel die stelsel van sluise, slote en waterbeurt­e die boere tot so onlangs as die jare sestig nog aan die gang (en aan die baklei) gehou het, was die toevoer onbetrouba­ar en die water van ’n swak gehalte. Eers met die voltooiing van die Kougadam in 1970, wat die suiwer Kougarivie­r sowat 5 km bo die samevloeii­ng opgedam het, kon die boere staatmaak op water van goeie gehalte en ’n betroubare besproeiin­gskema.

En van toe af was daar nie sprake van terugkyk nie; vandag gaan dinge geil. Maar die band tussen die distrik se mense is deur baie jare se swaarkry gesmee. Vir botter of vir wors.

Die koning is kaal

“Met 35 ha kan jy ’n Merc koop,” gesels Radie Ferreira ( Ons sien wat jy bedoel. – Reds.), oudlaersko­olhoof, in sy dorpshuis op ’n hoogtetjie wat oor die distrik uitkyk. “Vandag groei hier enigiets: sitrus, aartappels, groente, kruie, slaai, noem maar op. Al beteken Patensie eintlik in Khoi ‘lêplek van die beeste’.”

Buiten vir die uitgestrek­te landerye is dié wêreld wild en elektries groen; die vallei se subtropies­e klimaat ondersteun ’n ryk en diverse ekostelsel. Luiperds is blykbaar nog volop in die klowe, en ’n steenbok kan jou nog maklik teen skemer op die dorpsrand verras. Hoephoeps en neushoring­voëls is volop, en strelitzia­s kom natuurlik in die veld voor. ’n Vleiloerie kok-kok-kok iewers in

‘ “Hier bly die grond in die familie; die nuwe bloed kom maar in soos die jong manne vir hulle gaan vrou vang,” knipoog hy.’

die tuin terwyl ons sluk aan ons koffie. “Ons is ’n klein, hegte gemeenskap, maar hier is baie jong mense. Die geluk van die vooruitgan­g is dat pa en seun nog saam kan boer. In ander streke gaan dit nie so maklik nie; die kinders moet elders hulle eie potjie gaan krap. Hier bly die grond in die familie; die nuwe bloed kom maar in soos die jong manne vir hulle gaan vrou vang,” knipoog hy. Feitlik alles hier draai om die landbou: Diegene wat nie self boer nie, is op een of ander manier betrokke by die groter prentjie. Die koöperasie, besproeiin­gsraad, verpakking, plaasadmin­istrasie, kwekery, ingenieurs­werke – almal is werksversk­affers wat die gemeenskap aan die gang hou. Op die ou end is almal in hierdie geweste afhanklik van en gebind deur een ding: die aarde.

Die dorpie het toenterjar­e saam met die landbou op die been gekom, en die doel was om te voldoen in die praktiese, alledaagse behoeftes van die omliggende boere. Vandag nog is dit grotendeel­s die geval. Dis egter die mense wat lyf gee aan die dorp, dit besonders maak. “Kyk, ons kan lekker baklei en skinder,” vertel Hildie du Preez op ’n bedompige Sondagmidd­ag. “Maar laat hier net ’n krisis kom, ou matta, dan staan ons saam soos een man.” Hildie staan aan die hoof van Spoon Scrapping, ’n werkswinke­l wat handgemaak­te eetgerei vervaardig en versprei. Haar tienerdogt­er Rike-mari is die kreatiewe dryfveer agter die ondernemin­g. Tequila, die imposante Great Dane op die werf, hou ook een blou en een bruin oog oor dinge. “Onlangs het ons ’n outjie hier gehad wat in ’n ernstige motorongel­uk was en nie ’n siekefonds gehad het nie. Die gemeenskap het ingespring en voor jy jou oë kon uitvee, is daar by die R200 000 vir hom ingesamel.”

Die plaaslike Laerskool Gamtoosval­lei het dit ook maar swaar – daar is twaalf personeell­ede, maar net vyf word deur die onderwysde­partement betaal. Daarom hou die inwoners elke jaar ’n konsert in die skoolsaal om geld in te samel. So twee jaar gelede was die groot treffer van die aand die dorp se hubare mans wat van kop tot tone met body paint getakel en toe per veiling aan die dames in die gehoor “verkoop” is. “Om mee te maak wat hulle wil,” spot Hildie. “Die nodigste is darem min of meer bedek.” Maar dit het só jolig gegaan dat ’n ongelukkig­e kêrel in die proses die spreekwoor­delike vyeblaar verloor het. “Gelukkig het hy darem iets gehad om te wys – hy’s immers ’n boerklong!”

Pasop vir die ghampie

Dis egter nie net ou bloed en bande wat die gemeenskap maak wat dit is nie. Inkommers dié kry jy ook. Johan Mostert het vyf jaar gelede hierheen getrek nadat hy besluit het hy het genoeg van die stadslewe gehad. Nou kweek hy soetrissie­s en lewer dit aan markte en kettingwin­kels. “Kyk,” verduideli­k hy waar hy trots in een van sy groeitonne­ls in die bodorp staan, “hier is ou boere wat deur geslagte hulle reg verdien het om hier te wees. ’n Mens moet verstaan hier’s ’n hiërargie; jy moet jou nie uit die staanspoor kom slim hou nie. As jy dit kan snap, sal jy heeltemal orraait wees.”

Vandag kuier hy en sy vrou lekker saam met die ander jong boere, en sy kinders geniet dit ook gate uit hier. “Man, dis ’n lekker plek. Dis ’n boeregemee­nskap, en daarom kan ons almal saampraat oor dieselfde goed. En hier’s alles wat jy nodig het: dokters, ’n goeie skool, die lot.”

Dis Afrikaanse wêreld, kom jy gou agter. “Hier praat ons Engels ter selfverded­iging,” laat val Hildie droogweg toe ek haar later weer raakloop. Iewers het daar egter ook ’n eie dialek ingesluip, bes moontlik vanweë ou Khoiverbui­gings. Só word ’n spoedwal hier ’n “ghampie” genoem, en ’n meerkat ’n “gharkie”. ’n Ghampie hoef dan ook nie net na ’n spoedwal in ’n teerstraat te verwys nie, maar ook na ’n ongeskikte hobbel op ’n plaaspad. Soos in: “Nadat ek gisteraand by die hotel weg is, moes ek op pad huis toe uitswaai vir ’n gharkie. Toe tref ek ’n ghampie en daar’s ek die boorde in.”

En ’n rysmier, wat volop is ná die swaar reëns wat ’n mens in die herfs en lente in dié wêreld kry, staan bekend as ’n “vetkannetj­ie”.

Rus en vrede en ’ n bieliebasa­ar

Uit ’n toerisme-oogpunt gaan hier dalk nie veel aan nie, maar dis juis dié stilte wat al hoe meer mense na die distrik begin lok. “Al hoe meer mense van buite begin die rustigheid van die plekkie agterkom,” meen Heidi Müller, eienaar van die Padlangs-padstal buite die dorp. “Port Elizabeth en Jeffreysba­ai is mos naby, en die mense van daardie kant kom al hoe meer oor naweke hier leeglê. Grond en huise word ook nie meer net vir boerdery opgekoop nie, maar vir mense wat wil wegkom en eenvoudig net ’n deel van die mooi en rustigheid van die omgewing wil besit en geniet.” Die dorp se ligging is inderdaad spesiaal: Jy’s net minder as ’n halfuur se ry van die see af. Veral die dorp se jonger >

‘ ’n Mens moet verstaan hier’s ’n hiërargie; jy moet jou nie uit die staanspoor kom slim hou nie.’

garde glip gereeld oor naweke Jeffreysba­ai toe, al is ’n stowwerige bakkie met ’n branderpla­nk agterop ’n skaars gesig.

“Ons het ook begin troues aanbied in een van die ou pakhuise, en dis baie gewild. Mense sien nie meer kans om in die stad te trou nie, want dis te duur.”

Dis maklik om te verstaan hoekom dié wêreld al hoe gewilder word onder stadsjapie­s: Dis prentjiemo­oi, en die dorp is veilig, aards, rustig. Ligdag hoor jy hane kraai, en in die soel skemeraand­e baljaar kinders op die grasperke. “Die lewe hier is regtig stadiger,” beaam Toska Joubert van die Tolbos-padstal. “Maar dit voel vir my ’n mens kry soveel meer gedoen, omdat jy nie tyd mors met dinge soos ure se sit in die verkeer nie. Jou tyd is meer jou eie.”

Daar is ook maar dingetjies wat pla: Die plaaslike stasie is ’n verwaarloo­sde seer duim met leë waens wat staan en oproes – al wat nog hier deurdraf, is kwajongens en straatkatt­e. Pogings is aangewend om die beheer van die perseel by Transnet oor te neem, maar hiervan het tot dusver dadels gekom. En die dorp se rioolstels­el bestaan uit ondergrond­se tenks wat taamlik gereeld deur rioollorri­es leeggepomp moet word, maar die munisipali­teit het nie genoeg van dié waens nie. Die geur van lemoenbloe­isels is dus nie altyd die enigste klankie op die wind nie…

 ??  ??
 ??  ?? Weens sy ligging teenaan die Gamtoosriv­ier is Patensie dikwels vroegoggen­d in digte mis gehul, maar op ’n mooi dag kan ’n mens ver oor die dorpie en die omliggende vallei uitkyk.
Weens sy ligging teenaan die Gamtoosriv­ier is Patensie dikwels vroegoggen­d in digte mis gehul, maar op ’n mooi dag kan ’n mens ver oor die dorpie en die omliggende vallei uitkyk.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa